Wees gewaarsku, jy gaan nie Florence se skatte almal met jou eerste besoek sien nie. Dit is waarom Gert van der Westhuizen spaar om terug te keer.

 

firenze

Dit word soms ‘Die Wieg van die Renaissance’ genoem.

Maar daar is heeltemal té veel toeriste. Te veel straatverkopers wat snert aan al wat leef en beef wil verkwansel. O ja, moenie van al die toerbusse, motors en bromponies vergeet nie. Hulle maak die besoedeling en geraas net erger. Boonop is die plek duur, vuil en vrek warm. Moet ’n mens dan enigsins die moeite doen om Florence in Italië te besoek?

Ja.

Daar ís te veel toeriste, daar ís te veel straatverkopers, te veel besoedeling én te veel geraas. En dit kan nogal vrek warm ook word. Maar jy moet nie dat sulke irritasies in jou pad staan nie. Dit kan nie eens naastenby opweeg teen alles wat dié stad jou kan bied nie.

Die grootste probleme is eerder dat Florence jou heeltemal sal betower en oorweldig.

Dit word nie verniet ‘Die Wieg van die Renaissance’ genoem nie en daar word beraam dat tot soveel as 25% van die wêreld se kunsskatte in Florence is. Daarom sal jy nooit alles kan sien wat jy wil sien nie – al kom jy ook vir ’n tweede, derde of vierde besoek terug.

As jy vir ’n eerste of tweede keer in Florence is, moet jy veral daarop let om nie oorweldig te word nie.

Enigiemand kan baie maklik ‘Stendhal-sindroom’ (vernoem na die Franse romanskrywer) opdoen: die vrees dat jy nie alles gaan sien wat jy wil nie en nie weet waarheen om eerste te gaan en hoe lank om waar te bly en in watter lang ry om te gaan staan nie…

Bly eerder kalm en aanvaar dat jy net ’n fraksie gaan sien van wat Florence jou kan bied. Kry net ’n kaartjie vir die Uffizi, die wêreld se oudste museum, ’n straatkaart en stap van plein (piazza) tot plein deur Florence se strate. Jy kan van enige plek in Florence in enige rigting stap sonder om teleurgestel te word, maar as jy vir die eerste keer in dié stad is, is daar ’n paar plekke waar jy eenvoudig moet verbystap.

Jy kan deur die San Lorenzo-straatmark loop, maar moenie te veel gaan stilstaan nie. Hou eerder jou geld vir die Mercato Centrale (die Sentrale Mark). Soveel vars kos sal jy nie sommer gou weer onder een dak sien nie. Dit is die moeite werd om op jou tyd deur dié mark te stap omdat jy ’n baie beter insig vir die Italianers se liefde vir kos sal kry.

Jy sal ver moet soek om gehalte-varsprodukte soos dié wat by Florence se kosmarke verkoop word, op te spoor.

Jy sal ver moet soek om gehalte-varsprodukte soos dié wat by Florence se kosmarke verkoop word, op te spoor.

As jou mond te veel begin water, kan jy ’n draai gaan maak by een van die stalletjies waar jy ’n porchetta (toebroodjie met varkvleis) of ’n lampredotto (toebroodjie met afval) kan eet.

Jou volgende stilstaanplek sal beslis die Piazza del Duomo wees as jy van dié mark in die rigting van die rivier stap. Jy sal nie ’n ander keuse hê as om hier stil te staan nie; die reusagtige katedraal sal jou dwing om dit te doen.

Dit bly een van die grootste verrassings in Florence, of jy nou vir jou eerste of tiende keer in dié stad is: die katedraal wat voor jou opdoem, oorweldigend, groter as enigiets anders in die omgewing. Hopelik sal jy dit vroeg in die oggend of teen skemer sien as hordes toeriste nie in die plein voor die katedraal saamdrom nie. Maar dit bly ’n wonderlike gesig, al moet jy dit met duisende deel.

Die Duomo oorheers Florence se stadsprofiel. Foto: Adele van der Westhuizen

Die Duomo oorheers Florence se stadsprofiel. Foto: Adele van der Westhuizen

Sluit jou net af van die mense om jou en bewonder dié gebou: stadig, stuk vir stuk.

Doen dieselfde stadige kykwerk in die nabygeleë Piazza della Signoria en sy omgewing wat wemel van die standbeelde, onder meer ’n replika van Michelangelo se Dawid. Jy sal nog meer van Michelangelo (én Da Vinci én Caravaggio én Botticelli) te siene kry in die Uffizi, ’n kunsmuseum waarin jy ongelukkig ook nie alles met een besoek sal kan inneem en waardeer nie.

Florence het uiteraard tientalle ander museums ook, maar dié kan jy laat oorstaan tot ’n volgende keer.

Gaan stap eers oor die Ponte Vecchio, die beroemde brug met sy juwelierswinkels, en gaan eet ’n gelato (roomys) in die koffiewinkel aan die oorkant van die Arno-rivier. Of as jy net weer rustigheid soek, gaan soek ’n plek waar jy vir lank na dié brug se weerspieëling in die Arno kan staar.

Die weerkaatsing van die Ponte Vecchio-brug, wat oor die Arno-rivier strek. Foto: Adele van der Westhuizen

Die weerkaatsing van die Ponte Vecchio-brug, wat oor die Arno-rivier strek. Foto: Adele van der Westhuizen

Dit is verbasend hoe gou jy dan vergeet van al die mense en geraas om jou. Jy sal nie aan die gewoel kan ontsnap deur na die Piazzale Michelangelo te stap nie, maar dié plein is ’n moet vir enigiemand wat Florence toe gaan.

Die uitsig van daar oor dié stad van klip en marmer maak ’n stewige, opdraande stappie meer as die moeite werd. As dít jou nie oortuig om Florence weer te besoek nie, gaan maak net vir oulaas weer ’n draai by die katedraal.

Net om verwonderd en oorweldig te word.

Boeke

Dit is natuurlik ’n goeie idee om te gaan lees oor ’n plek wat jy die eerste keer besoek. ’n Goeie toergids is The Rough Guide to Florence and the Best of Tuscany terwyl Fodor’s Florence and Tuscany with Assisi and the best of Umbria ook heel nuttig is. Dan is daar natuurlik ook enige gids van DK. Barbara Milo Ohrbach se Dreaming of Florence sal jou heelwat van dié stad leer hoewel dit eerder vir reisigers met dik beursies bedoel is. Dit kan dalk ook al ’n bietjie verouderd wees. Besoek gerus ook van die webwerwe waarvan dié gidse jou vertel.

Drie boeke oor Florence wat ek baie geniet het, is Mary McCarthy se The Stones of Florence, David Leavitt se Florence, A Delicate Case en Francis King se A Literary Companion to Florence.

En lees asseblief die speurverhale van Michele Giuttari, ’n voormalige polisiehoof van Florence, en Margaret Nabb.

Twee DVD’s wat jou dalk net kan lus maak om ’n reis na Florence aan te pak, is Tea with Mussolini en A Room with a View.

Kos

Dit kom op heiligskennis neer as jy op ’n besoek aan Italië Amerikaanse gemorskos eet wat jy ook by die huis kan koop. Daar is natuurlik ook baie meer te eet in Italië as pizza en pasta. Dis duur om uit te eet, maar begroot daarvoor. Jy sal nie spyt wees nie.

Kyk ook in supermarkte en ander winkels rond vir plaaslike lekkernye wat meer bekostigbaar is. Jy moet ’n porchetta (toebroodjie met varkvleis) en ’n lampredotto (toebroodjie met afval) in Florence eet. Probeer gerus ook ’n panzanella-slaai wat met ou brood gemaak word.

Maar jy kan nie weer huis toe kom voordat jy ’n Bistecca alla Fiorentina geëet het nie. Dié 1 kg-kruisskyf van Chianinna-beeste is egter aan die duur kant en dit word net “bloody” voorgesit. Drink ’n glasie Chianti saam met dit.

Gert van der Westhuizen is die sportredakteur van die Afrikaanse dagblad, Beeld.


Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *

2 thoughts on “In die wieg van die Renaissance