Amsterdam, soos meeste hoofstede kan ’n mens nogal oorweldig. Carla Lewis-Balden kies koers na die rustiger kleinsuster Haarlem, slegs 30 minute per trein vanaf die Nederlandse hoofstad.

Haarlem is net 30 minute per trein vanaf Amsterdam.

Haarlem is net 30 minute per trein vanaf Amsterdam.

Dis 9:00 die oggend en ons is reeds pootuit. Soos lui huiskatte lê ek en my reismaat, ’n ou skoolvriendin uitgestrek in die trein op pad na Haarlem. ’n Ander vriendin het die vorige aand haar PhD ontvang en daar is tot die vroeë oggendure gefuif om die mylpaal te vier.

Boonop ly ons aan #FOMO (oftewel Fear Of Missing Out)-uitputting. In Amsterdam het ons soveel aktiwiteite as moontlik in drie dae probeer indruk. Ons het ge-museum, ge-kanaal, ’n draai gemaak in die Rooiligdistrik, (maar gou weer die hasepad gekies) en ons vergryp aan tipiese Hollandse kos soos bitterballen en krokette. By die berugte koffiewinkels het ons darem verby gehou, nadat ons besluit het ons sal liewers regte koffie langs die kanale drink en koek eet. 
Dis nou tyd vir ’n bietjie asem skep in die platteland en gelukkig is die platteland darem net 20 minute per trein vanaf Amsterdam se Sentrale Treinstasie. Daar is nog twee #FOMO-aktiwiteite wat op my lys afgemerk moet word. Ek wil ’n fiets ry en ’n paar poffertjes eet, klein pannekoekies wat in botter deurdrenk word en met poeiersuiker bestrooi word.

'n Blommestal by Haarlem se Saterdagmark.

‘n Blommestal by Haarlem se Saterdagmark.

Dis Saterdag, markdag toe ons die oggend in Haarlem aankom. Die hele dorp is uit, vroue loop rond met mandjies wat gevul is met kase, kruie en brode. Om elke draai wink versoeking jou nader. Die fyngebak is iets om te aanskou, torings appeltert bedek met wit pieke ‘slagroom’, soos die Hollanders na hul geklopte room verwys. Dan kry jy weer ’n bedompige reuk in jou neus en staar jouself vas in verskillende tipes kase. Haringstalletjies is daar baie, die Hollanders is mos gek oor die soutvissie op ’n broodjie. Dit alles vind plaas in die skadu van die St Bavo-kerk, ’n massiewe Gotiese katedraal wat uitkyk oor die markplein. Elke uur weerklink die massiewe klok se deuntjie oor die koppe van die markmense.

Een van die talle kroeë in Haarlem.

Een van die talle kroeë in Haarlem.

Dis vroeg-herfs en die weer speel saam. Dit lyk ook asof die restaurant en kroeg-eienaars breed glimlag. Die soel, sonnige herfsdag beteken meer besigheid en al wat ’n restaurantjie op die markplein het sy stoele na buite gedra. Dis propvol, ons sit skouer aan skouer met die plaaslike inwoners. Alhoewel dit nog nie eers 12:00 is nie, bestel ons ’n bier. Wanneer dit kom by boetiekbier, klop niemand die Hollanders nie, inteendeel, die bierlyste is omtrent so dik soos die wynlyste by ’n goeie restaurant terug by die huis. Gewoonlik is ek ’n wyndrinker, maar Nederland se verskillende biere is nogal ’n fees vir jou palet. Hulle steur hulself nie hier aan die Reinheidsgebot, waar daar net water, gort en hops in die bierbrouproses toegelaat word nie.

My vriendin bestel ’n Wieckse Rosébier, met ’n basis van witbier en bessieagtige vrugte. Teen 4% alkohol voel ’n mens darem nie te sleg dat jy drink voor die Boeing oor is nie. Ek bestel ’n Amstel Radler, nog ’n ligte nommertjie wat met suurlemoensap vermeng is. Teen 2% alkohol kan jy sommer ’n hele paar na mekaar drink.

Ons kelner, ’n vlasblonde skoonheid bedek in retro-tattoes verwys ons egter na die die Jopen-brouery, letterlike heilige grond vir die bierbrouers in Haarlem. Die ou gedeelte van Haarlem en die middedorp is ideaal vir stap, geen motors word hier toegelaat nie. Op pad na die bierbrouery loop ons verby oulike klein winkeltjies vol interessante ontwerpe en snuisterye.

'n Plaaslike inwoner maak 'n kappie by die Jopen-brouery.

‘n Plaaslike inwoner maak ‘n kappie by die Jopen-brouery.

Die Jopen-bierbrouery, is ook ’n kroeg en fynproewersrestaurant en geleë in die voormalige Jakobskerk. “Dis ’n goeie manier om mense weer in die kerk te kry,” merk my vriendin droëweg op. Die brouery is verlede jaar aangewys as die mooiste kroeg in Nederland en as jy ’n ernstige bierdrinker is, is dié jou Mekka. Groot koperketels staan afge-ets teen loodglasvensters en die stoele van die restaurant is oorgetrek met ou tapisseriëe en Persiese tapyte.

Die name van die biere sluit ook aan by die kerktema, jy kan kies uit ’n “Ongelovige Thomas,” ’n donker bier met ’n sterk moutsmaak, die “Jacobus”, ’n “RPA” of “Rye Pale Ale” wat van rog gebrou word en die Trinitas Tripel, wat volgens die Belgiese styl gemaak word. By dié brouery is bier omtrent ’n geloofsaak, met talle pryse wat jaarliks by internasionale bierskoue gewen word.

Haarlem4_reis

Haarlem is vol parke, wat net smeek vir ‘n piekniek.

Voor die mark toemaak, doen ons gou ’n laaste paar inkopies vir ’n skemerpiekniek in Kenaupark, ’n pragtige stukkie groen naby ons hotel. Ons koop ’n stuk Maasdammer, wat soortgelyk is aan Emmenthaler, ’n stuk verouderde Gouda, basielkruidpesto, ’n Franse brood en ’n bottel Beaujolais-rooiwyn en gaan maak onsself tuis op die grasperk. Dis jou tipiese tjoklitboks-idiliese toneel wat voor ons afspeel. ’n Groep jong seuns is besig om in die dam te hengel, terwyl ’n ou tannie vir die eende, makoue en bleshoenders broodkrummels voer. Mense stap met hul honde in die parkie en die enigste ding wat ons kom pla is ’n nuuskierige terrier, wat gou deur sy eienaar verwyder word. Later gewaar ’n groep eende ook ons Franse brood en kom ewe parmant aangewaggel om ’n happie te kom bedel. En hoe sê jy nee as ’n hele eendekoor voor jou kwaak en kwê en aankyk met swart kraalogies? “Dis die lewe wat ek wil hê”, sê my vriendin, terwyl sy nog ’n stukkie brood aan ’n honger makou voer en ’n sluk van haar rooiwyn neem.

Maak jouself maar reg vir 'n gehoor, wanneer jy 'n piekniek in die parkie hou.

Maak jouself maar reg vir ‘n gehoor, wanneer jy ‘n piekniek in die parkie hou.

 Die volgende dag is dit F-dag, oftewel Fietsrydag. Ek het egter 20 jaar gelede werklik op ’n fiets gery. Die gesegte “Jy vergeet nooit om ’n fiets te ry nie,” blyk nie waar te wees nie in my geval nie. Met ’n onlangse fietsrytoer deur die wynlande kon ek nie eers by die hotel se oprit uitkom nie.

Die keer was ek egter voorbereid, ek het die buurman se eenrat Cruiser-fiets geleën en vir ’n week lank op en af in ons kompleks se straat geoefen. In Amsterdam het ons maar verby gehou, want daar blyk dit die mense word met ’n fiets tussen hul bene gebore. As jy in die pad van ’n haastige Amsterdammer kom, word jy gou getug met ’n vies “tjieng-tjieng” van ’n fietsklokkie. Die Haarlemmers lyk darem of hulle meer geduldig kan wees.

Jean Le Clus-Theron op by een van die huurfietse.

Jean Le Clus-Theron op by een van die huurfietse.

Om ’n fiets in Haarlem te huur kos ongeveer so 10 Euro’s per dag. Ons plan is om af te ry na die kusdorpie Zandvoort, deur die Nationaal Park Zuid-Kennemerland, ’n 3800 akker-natuurreservaat, en dan weer terug Haarlem toe. Dis ’n roete van ongeveer so 30 kilometer en ek kom goed reg. Die fietspaadjies is breed en as jy, soos ek, soos ’n skilpad aankruie kan die ander fietsryers jou darem verby vat.

Area waardeur jy ry lyk soos iets uit 'n sprokie.

Area waardeur jy ry lyk soos iets uit ‘n sprokie.

Die eerste gedeelte van die woud lyk soos iets uit my Grimm-sprokiesboek van my kinderdae. Die fietspaadjies kronkel verby woude van boekenhout en dennebome. Dan verander die landskap ewe skielik en ons kyk uit oor kusduine, oorgroei met grysgroen gras en vleilande, waar daar regte egte wilde swane oor die waters gly.’n Groep wollerige gemmer reuse kom oor die duine gedrentel, dis die Skotse hooglandkoeie wat in 2012 na die area gebring is om die plantegroei te beheer. Die kusduine word te dig begroei en die koeie vreet die oortollige gras op die duine. So kan die wind weer by die sand uitkom en die duine kan weer natuurlik migreer.

Ons vat 'n blaaskans by een van die mere.

Ons vat ‘n blaaskans by een van die mere.

In Zandvoort, ’n klein kusdorpie aan die Noord See is ’n geniepsige kuswind besig om te blaas. Dis die einde van die somerseisoen, maar daar is nog ’n paar kanniedood-stalletjies wat Belgiese frites en diepgebraaide seekos verkoop. Ons parkeer ons fietse op die breë Boulevard Barnaart en suiker af strand toe. ’n Paar brawe vlieërplankryers maak die beste van die wind en die lug is bespikkel met kolle neon van hul vlieërs. Die reuk van sout, seewater en olierige kos hang in die lug. Ons wil egter nie deur sand geskrop word terwyl ons bier drink en aartappelskyfies eet nie en ons kies koes na een van die talle strandkafees op die promenade. Hulle het darem groot glasvensters wat skuiling teen koue en wind bied.

Haarlem8_reis

Die strand by Zandvoort.

Terug in Haarlem, op die markplein wag daar ’n groot verassing vir my. Poffertjes is van my gunsteling Nederlandse disse, maar behalwe vir ’n duur stalletjie langs die Rijksmuseums wat 8 euro’s vir ses piepklein pannekoekies wou hê, kon ek dit nêrens opspoor nie. Ek het al gesien hoe keer ek terug Suid-Afrika toe, sonder om een poffertje oor my lippe te proe. En daar, in die middel van die markplein is ’n pop-up-poffertjierestaurant, wat allerhande tipes poffertjes koop. Poffertjes met esdoringstroop en poffertjes met bessiekonfyt. Ek kies egter die klassieke weergawe, poffertjies bestrooi met poeiersuiker en afgerond met groot knoetse botter, wat in die klein pannekoekies insmelt. En so, saam met Rembrandt, Van Gogh, bierdrink en fietsry is my Hollandse kluitklaplys voltooi.

Sou jy wil gaan

Haarlem is ongeveer so 30 minute se ry van Amsterdam se sentrale treinstasie.
Ons het vier nagte in Amsterdam deurgebring en ’n naweek in Haarlem. Vriende het vir ons vertel die hoofstad raak ’n vertrapping oor ’n naweek, met partytjiediere en rampartynaweke wat van regoor Europa en die Verenigde Koninkryk instroom. Naweke in Haarlem bied jou die beste waarde, met die naweekmark en gratis konserte in die somer wat in die parke gehou word.
Dit kos ongeveer 10 Euro’s per dag om ’n fiets te huur. Ons het ons s’n by Rent a Bike-Haarlem gehuur. Besoek www.rentabikehaarlem.nl vir meer inligting.
Ons het by die die Golden Tulip Lion D’or hotel gebly, ’n vierster-hotel wat goeie waarde vir geld bied. ’n Kamer kos 85 euro (sowat R1200) en sluit bed en ontbyt vir twee mense in. Boonop is dit naby die trein en busstasie, sou jy vroegoggend (soos ons) ’n bus na die lughawe moet haal. www.goldentulipliondor.nl

Die storie het oorspronklik in die Vrouekeur verskyn.


Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *

One thought on “Haarlem, Amsterdam se rustige suster