Die Britse glanstydskrif Tatler het al vir Grootbos Private Natuurreservaat aangewys as “Die beste familiehotel in die wêreld”. Om só ’n titel te dra, moet ’n plek sy slaaptydstories goed ken, meen Yolandi Groenewald.

Dis duidelik dat die personeel van Grootbos gereeld met moë ouers en kriewelrige kinders te doen kry.  Die seuns is ongeduldig na die lang karrit en jeuk om iewers te gaan speel. Ons is self bietjie keelvol, ’n situasie wat net wag om ontlont te word. Maar nog voor ons behoorlik parkeer is, is daar reeds ’n groep vriendelike kinderhelpers wat vir ons inwag. Hulle is reg om die woelwaters weg te voer na ’n fantastiese avontuur. Die seuns se opgewondenheid gallop voor hulle uit.

Tonele soos die wag jou in met jou aankoms.

Tonele soos die wag jou in met jou aankoms.

Dan is hulle weg en dis net die stilte van Grootbos en die pragtige uitsig oor Walkerbaai. Dis ’n windstil dag en ons skep asem by ons lodge, Garden Lodge se swembad. Rustigheid omring ons. Ons luukse suite is een van 11 kamers in die gesinsvriendelike Garden Lodge. Dié lodge is gebou tussen die rotse en bome van die inheemse Melkhoutwoud en die eenhede verdwyn sommer so tussen die bos. Nietemin het ons boskamer ‘n lekker private houtdek waar jy kan kyk hoe walvisse in die wêreldbekende baai baljaar.

Eers drie ure later, met sonsondergang maak twee uitgeputte vuil seuntjies hulle verskyning by die kamer. Hulle is vol stories van hoenders, varke, perde en klimrame, en hulle verklaar plegtig dat dié ons nuwe huis is. Ons druk hulle in die bad, wat uitkyk op ’n sonsondergang oor die baai. Maar die glimlagte van die twee kleuters is helderder as die sonsondergang agter die bad.

Een van die luukse suites by die Garden Lodge.

Een van die luukse suites by die Garden Lodge.

Vir ouers wat ’n lang romantiese ete wil geniet, sonder ’n kermende kroos is Grootbos ’n besturing. Die restaurant is verlig met kerse en kaggels, dis intiem en romanties, maar die seuns is nie so beïndruk soos ons nie. Maar die kinderoppassers verskyn weer asof hulle gestuur is en die kinders verdwyn na die speelkamer waar ‘n fliek op ’n grootskerm vertoon word. Eers moet hulle kos bestel. Daar is geen kinderspyskaart nie – die seuns kan enigiets noem waarvoor hulle voor lus is en sjef Duane Lewis sal dit maak. Die driejarige het geen aspirasies om die sjef se lewe moeilik te maak nie. Hy bestel hoendernuggets. Sonder tjips. Die vyf-jarige se verbeelding is ook bedees, hy gaan vir visvingers.

Jy moet maar weet jy gaan terugrol na jou kamer toe na ’n besoek aan die Garden Restaurant. En as jy matigheid voor oë kan hou, is jy beslis ’n beter mens as die meeste van die gaste hier.

Na dese het ek gevoel soos Elia wat opgeraap is en na ’n smulpaaphemel weggevoer is. Die spyskaart verander elke dag, na gelang van die sjef se bui en vars bestanddele wat beskikbaar is. Elke porsie is ‘n meesterstuk, ‘n klein kunswerkie van verderf.

Grootbos is 'n hemel vir smulpape.

Grootbos is ‘n hemel vir smulpape.

Ons is ook salig onbewus van die feesmaal wat voorlê en vergryp onsself aan die vars brood en tapas in die kroegarea. Die voorgereg het nog nie eers gekom nie, en ons eet ons alklaar knuppeldik. Die lambs-duo, ons voorgereg is omtrent ’n mondvol. Dit bestaan uit gesmoorde lamskenkel-terrien en lamsnier flambé met ment -en lemoenmarmelade. Daarna volg die sop en ’n hoofgereg van gesmoorde varklies en gekrummelde lynvis.

Ons is reeds trommeldik geëet, maar ’n mens sê mos nie nee vir nagereg nie. Die sjokolade -en aarbeiparfait is egter net lig genoeg om die laaste gatjie toe te stop.

Die vars seelug en die beloftes van nuwe avonture laat ons nie toe om laat te slaap nie. Die son is skaars op en ons word reeds wakker gebons op die hemelbed. Vroeg-vroeg word ons weggeskeur vir ontbyt; eiers Benedict vir ons en plaatkoekies vir die seuns.

Dan is dit tyd vir perdry, konyne vryf en varkies voer. Die kinders kan ook help om eiers te gaan haal by die henne vir hul ontbyt. In ’n lewe waar kinders dink melk kom uit ’n boks en eiers uit ’n dosie, is dit ’n waardevolle les in die oorsprong van ons kos. Daarna is dit tyd vir ’n ponierit, alhoewel my vyfjarige nogal ’n bietjie paaiwerk kort om op die poon te klim. Die res van die oggend bring ons op die strand deur. Die dag is windstil, die son lekker warm en die rotspoele interessant. Die seuns baljaar.

Daar is talle aktiwiteite wat vir ouers en kinders lank sal besig hou.

Daar is talle aktiwiteite wat vir ouers en kinders lank sal besig hou.

Die middag durf ons die Klipgat-grotte aan. Die steiltrappies na die grotte laat my darem bietjie beter voel oor die bielieburger wat ek vir middagete gehad het. Die kinders klim egter die rotse soos boerbokke uit. Argeologiese uitgrawings in die grotte dui daarop dat die eerste mense reeds in die middel-Steentydperk, sowat 70 000 tot 80 000 jaar gelede, in dié grotte skuiling gesoek het. In daardie tyd het grootwild soos swartwildebeeste en die uitgestorwe blaauwbok nog vrylik in die omgewing rondgeloop. Die grotte kry hulle naam van die merkwaardige openinge in die kalksteen-rotsformasies. Dit vorm natuurlike “vensters” wat jou ’n goeie uitsig oor Walkerbaai gee. Die grotte is vandag een van die belangrikste kulturele erfenisgebiede in die Wes-Kaap.

Die uitsig vanaf die klipgrotte.

Op pad na die klipgrotte.

Die tweede aand wag ons nog ’n bietjie langer voor ons gaan eet. Honger is ons beslis nie, net lus vir nog fantastiese kos. Die seuns kies pizza, wat in die hotel se houtoond gemaak word. Hierdie keer eet ons minder tapas en brood. Ook maar goed, want die voorgereg is ‘n falafel, bedien met gekruide eiervrugkaviaar en ‘n duo van reënboogforel. Hoofgereg sluit ’n gebraaide eendebors, bedruip met fynbosheuning in. Die seuns is vas aan die slaap in die speelkamer, nog voor hul fliek klaargemaak het. Uitgeput van al Grootbos se avonture is hulle droomverlore in ’n wêreld van strande, grotte en melkboswoude.

Die melkboswoude van Grootbos is sprokiesmooi.

Die melkboswoude van Grootbos is sprokiesmooi.

Daar is trane toe ons die volgende oggend inpak. Anders as die vorige twee windstil sonnige dae, is die hele Grootbos gehul in mis. In die verte balk ‘n mishoring. Dis reënerig en koud, wat dit darem makliker maak om afskeid te neem. Vir twee nagte kon ons baljaar in die hemel, maar hedonisme moet darem sy perke ken.

Sou jy wil gaan:
Die Groenewalds het in ’n weelderige suite in die kindervriendelike Garden Lodge gebly, maar gaste wat verkies om ‘n rustiger, kindervrye ervaring te hê, kan tuisgaan in die meer eksklusiewe Forest Lodge, waar net kinders ouer as 12 toegelaat word.

Alle etes is ingesluit in Grootbos se prys en jy besef sommer vroeg-vroeg dat jy baie stapaktiwiteite by jou verblyf gaan moet inwerk. Grootbos se filosofie is “local is lekker.” Sjef Duane gebruik net vars produkte in sy kos, waarvan die meeste op Grootbos of omliggende plase kom. En hy toor omtrent met die bestanddele.

Behalwe kos is wyn ook baie belangrik vir Grootbos, en hulle het ‘n keurige wynlys van al die plaaslike wynkelders wat jy sal sukkel om by jou eie Makro te kry. Elke wyn word aanbeveel saam met ‘n dis.

Grootbos se tariewe sluit in luukse verblyf in losstaande suites, ’n verwelkomingsdrankie, ‘n vyfgangmaaltyd (fyn kookkuns voorberei deur meestersjefs) vir aandete, ’n ontbytbuffet met ‘n volledige Engelse ontbytopsie, middagete, vars vrugte daagliks in jou suite, perdy, begeleide staptogte of ’n rit in die reservaat en strand, asook verskei kindervriendelike aktiwiteite soos skattejag in die melkboswoud.

Terwyl mens maklik die hele dag op jou stoep by Grootbos kan sit en uittuur oor die baai, is daar ’n hele paar aktiwiteite by die prys ingesluit. Ons kon kies tussen begeleide stap- en 4×4-roetes deur die Kaapse Blommeryk, ‘n besoek aan die Klipgat-grotte langs De Kelders waar oermense gebly het, strandpieknieks, perderitte en nog ‘n paar ander interessante opsies. Jy kan ook ‘n bootrit of ‘n vliegtuigrit doen vir ‘n bietjie meer moela.

Grootbos het die kostes van Yolandi Groenewald se besoek gedra.


Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *

2 thoughts on “Grootbos: Die beste familiehotel in die wêreld?

  • Reply
    ester pretorius

    Dit klink na die wonderlikste plek om te wees maar vir twee pesionarisse sal dit altyd net n droom bly.

    Groete,

    Ester.

  • Reply
    ester pretorius

    Dit klink na die wonderlikste plek om te wees maar vir twee pesionarisse sal dit altyd n droom bly.

    Groete.

    Ester.