Beste meneer Bekker

Teen die tyd het die euforie van the nuwe Royal St Andrews hotel en Spa, jou nuwe hotel in Port Alfred seker bietjie gedemp.

Dis mos hier waar die realiteit gewoonlik begin inskop en jy somtyds jouself begin bevraagteken. Hoe kan ’n mens ’n multi-miljoen ontwikkeling in een van Suid-Afrika se armste provinsies gaan staan en bou?

Ek wil net vir jou sê, in ’n tyd waar ek so bietjie swartgallig was oor Suid-Afrika en die land se toekoms het jou ontwikkeling my weer optimisties gemaak. Jy is immers ’n suksesvolle besigheidsman en ek dink nie jy sal sommer R130 miljoen (die som het my kop so bietjie laat draai) in ’n ontwikkeling instoot as jy dink Suid-Afrika (en die Oos-Kaap) se toekoms lyk blink nie.

Die Royal Saint Andrews Hotel en spa het vandeesmaand sy deure in Port Alfred geopen.

Die Royal Saint Andrews Hotel en spa het vandeesmaand sy deure in Port Alfred geopen.

Jy lyk na ’n moerse nice ou, maar ’n mens bestee nie soveel geld (tensy jy seker Bill Gates is) om jou filantropiese naam ’n hupstootjie te gee nie. Die Mantis-groep, wat die hotel gaan bestuur sal ook nie geld en tyd in iets belê as hulle nie daarin glo nie. Jy hoef net na hul ghrênd ontwikkelings in groot stede soos New York en Washington te kyk om hul invloed te besef. Soos die Engelse sê: “You’re running with the big dogs now.
So as jy bereid is om ’n multi-miljoen rand hotel en ontwikkeling in ’n klein Oos-Kaapse dorpie te bou, voel ek darem bietjie meer positief oor my pensioenbeleggings. En ek sal daardie kaartjie na Sydney beslis vir nog ’n lang ruk op ys hou.

Ek het ook die openingsnaweek weer besef wat die krag van toerisme is om mense te bemagtig en bymekaar te bring. My vriende wat in Australië en Engeland bly bieg dat die ding wat hulle gewoonlik die meeste mis, die warmte van die Suid-Afrikaners is. Dit gebeur ook gewoonlik na ’n paar glase wyn as dronkverdriet en spyt inskop en ek eers moes hoor hoe veilig en skoon dit daar anderkant is.

Ek het die naweek soveel glimlagte gesien en is met soveel gasvryheid ontvang, of dit nou Wessel, die hotel se algemene bestuurder was, of die vrou wat vir my koffie geskink het by die ontbyttafel. By die opening het ek gesien hoe jou hotel eintlik maar Port Alfred se hotel is, die plaaslike inwoners met wie ek gesels het reeds in hul koppe eienaarskap van die hotel geneem.

Van die aantrekkings in en om Port Alfred. Van bo: 'n Vrou stap saam met haar hond langs die Kowierivier, die ongerepte strande van die sonskynkus en die reuse pynappel in Bathurst.

Van die aantrekkings in en om Port Alfred. Van bo: ‘n Vrou stap saam met haar hond langs die Kowierivier, die ongerepte strande van die sonskynkus en die reuse pynappel in Bathurst.

Dis ook wonderlik dat jy plaaslike arbeiders ondersteun het, terwyl jy moontlik goedkoper arbeid van Johannesburg of die Kaap kon invoer. Maar ek kan sien dat die hart van die Oos-Kaap in jou hotel verweef is, of dit nou die skilderye en kunswerke van plaaslike kunstenaars is en die houtdek wat nog in die laaste minuut deur skrynwerkers onder die bloeisels van die koraalbome getimmer is.

Dis die ding van toerisme: Ek sien dit in klein dorpies tot gemeenskappe wat tussen niks en nêrens in die gramadoelas sit: Toerisme skep werk, en met werk kom daar waardigheid.

Die Royal St. Andrews is ’n ryk hotel en ek praat nie net hier van fisiese bates nie, dis ryk aan geskiedenis, (wie kan spog dat hul hotel oorspronklik vir ’n koninglike gebou is) ryk aan gasvryheid en vriendelikheid. Ek glo vas: Op die ou einde is dit die mense wat ’n plek maak en ek dink jy het ’n skatkis van kundigheid in die mense van die Sonskynkus. Ek praat ook nie net van die werknemers by jou hotel nie, ek kan goed verstaan waarom jy verlief geraak het op die area en sy mense. In my kort tydperk het ek soveel interessante mense ontmoet, van boetiekbrouwers tot pynappelboere met reuse pynappels in hul agterplaas.

Ek dink ook lente in Port Alfred is van die mooiste in die land, daardie koraalbome wat soos vlamme langs die bad bloei met hul skarlakenbloeisels, het ’n manier om jou hart te steel. Op ’n bootrit op die Kowierivier het ek in my kop reeds my stukkie eiendom langs die rivier uitgekies. Soos ek genoem het, die area het ’n manier om diep in jou hart in te kruip.

Die Oos-Kaap is vol pragtige besienswaardighede.

Die Oos-Kaap is vol pragtige besienswaardighede.

Ek glo vas aan die woorde van van die rolprent Field of Dreams. “If you build it, they will come.” En mag daar vele reisigers na jou hotel toe kom, om ook die “Magic van Mantis en die Sonskynkus te ervaar.

Op ’n klein nootjie, en een versoek: Sal jy asseblief vir jou kos -en drankbestuurder vra om jul wynlys by die Highlander Gastropub te hersien? Ek het nog nooit sulke fênsie vis en tjips in my lewe geëet nie en om net Drosty Hof wyn per glas te bedien,doen afbreek aan jul wonderlike chef se kos. Sulke lekker kos verdien mos beter!

Ek wens jou en jou span alles van die beste toe.
Groete!

Carla Lewis-Balden

Om die openingsaanbod en spesiale tarriewe van die Royal St Andrews en Spa te sien, kliek hier.

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *