As jy eers vasgevang word in die roetine van ’n dorpie soos Naboomspruit in Limpopo dink jy soms jy’t jou paspoort nodig om die Jukskei-rivier oor te steek. Annami Mailovich het gedink sy sal Suid-Afrika nooit verlaat nie. Op 15 het sy van die FSA-leerlinguitruilprogram gehoor, aansoek gedoen en haar tasse vir Duitsland gepak. 

Sendlinger Tor

Sendlinger Tor is een van die drie groot gotiese hekke in München. Op die plein by dié hek het ‘n baie bang 15-jarige naarstigtelik na die Suid-Afrikaanse konsulaat gesoek. | Foto: Wikipedia

Dís wat gebeur as ’n 15-jarige tjokker haar paspoort verloor

Die swaap het my op die verkeerde plek afgelaai.  Ek het hom mos mooi gesê waar ek wil wees.  En niemand kan ’n duit omgee nie oor die verwarde Suid-Afrikaner met ’n monstertas wat letterlik gebuk gaan onder kamptoerusting wat op haar rug gestapel is.  

Ek was destyds ’n 15-jarige pokkel met ’n onaardse swaar tas in my hand en ’n pakaas op my rug.  In ’n koringland sou ek die wreedste voëlverskrikker uitgemaak het.  Dit was veronderstel om my laaste dag in Duitsland te wees.  Maar, laat ek eerder voor begin.

My naam is Annami Mailovich. Die FSA-leerlinguitruilprogram (tussen Duitsland en Suid-Afrika) en nalatigheid het my geleer wat beteken kophou!

Te midde van dorpies wat die Swartwoudlandskap versier met spitstorings, houthuisies en vergange kastele het my gasgesin my geborge en tuis laat voel.

Saans, as die skemer hier teen tienuur, half-elf sy pienk gordyn oor ons laat sak het my Duitse sussie se balkonhangmat in die middel van die Swartwoud en die reuk van gekneusde gras deel van my bestaan geword.  

In die Swartwoud.

Die uitsig oor Waldkirch, die Swartwoudse dorp waar Annami Mailovich vir ‘n maand lank ‘n uitruilstudent was. | Foto: Wikipedia

In retrospek besef ek my gasgesin het my eerste drie weke in Duitsland baie maklik gemaak. Eintlik was al die tafeldek en fietsry (wat in daardie stadium my ronde lyfie uitgedaag het) skool toe niks nie.  Selfs gassusterlike struwelinge en taalverskille was ’n herfsbries teen die orkaan wat sou volg.   

My laaste vyf dae in Duitsland het ek aan die uitruilprogram se fietstoer deelgeneem. In daardie stadium het dié 180 km na ’n onmoontlike Tour de France al om die Bodensee gevoel. Hel, as Lance Armstrong my pokkellyf gehad het, sou hy ook ’n redelike benoude bors ontwikkel het. 

En, sommer met die eerste miershoop (wat ek natuurlik dadelik as ’n berg gesien het) in sig het hierdie einste bors ’n asmatiese reaksie begin toon. Die feit dat die fietstoer my binne vyf dae deur drie lande (Duitsland, Switserland en Oostenryk) sou kry, het grootliks tot ’n entoesiatiese getrap bygedra. Die voortvarende getrap het natuurlik ’n parmantige spul kuitkrampe ontlok.  

Probeer dán ’n bietjie op ’n volksvreemde, ratgestremde fiets die wiele met 20 kg op jou rug en nóg 25 kg op die fiets se agterstewe regop én rollende hou. 

Ek en Moeder Aarde het gemiddeld ses keer per dag kennis gemaak.  Die natuurelemente het ook saamgesels. Tot vandag, glo ek dit was haar manier om my aandag op haar skoonheid te vestig.

Die ongeluk was dat haar skoonheid my 20 km voor die oornagpunt buite die stad Lindau net ’n bietjie te veel betower het.  Ek het eenvoudig my 20 kg rugsak neergeplak en dit nooit weer opgetel nie. Dit was eers 20 km verder wat my vriendin my aan dié onaardse sak herinner het.  Ons het daardie dag reeds 60 km afgelê, maar daar was geen uitweg nie.  Ek moes al die pad terugpiekel.  Alles wat iets werd was, was daarin.  (Geld, paspoort, vliegkaartjie en feitlik al wat ’n lappie klere was.)  

Moeder Aarde het die “blou-gedrog” ingesluk. Ek en die paar ouens wat saam gesoek het, moes stert tussen die bene terugsuiker kamp toe.

Elke kilometer het ’n toets van volwassenheid geword.  Dit het my leer veins en om aan te hou totdat dinge eindelik gebeur.  

“Jy moet München toe! Die Suid-Afrikaanse Konsulaat gaan daar vir jou ’n noodpaspoort moet uitreik. Iemand daar sal ’n treinkaartije hê.  Dan praat jy Afrikaans en niks anders nie.  As jy op die stasie aankom stap jy uit en soek ’n huurmotor . . .” Ons toerleier (FSA-Leerlinguitruilprogramdirekteur, Lodie de Jager) se instruksies spook nou nog by my.  Die huurmotorbestuurder het my daardie oggend op die verkeerde plek afgelaai.

Ek het drie dae later in Suid-Afrika geland.  Mens. Klein grootmens.

 

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *