Dis maar ‘n hondelewe op die Dunstone-wynlandgoed, skryf Yolandi Groenewald

Dis ten minste wat Dunstone se plaaslike inwoners, Merlot die Rhodesiese rifrug en Shiraz-Merlot, die Weimaraner dink. Die twee nuuskierige agies begin al klaar om die kar sirkel toe ons by die boetiekwynkelder inry. Daar is orals hondemotiewe op die plaas. Hulle staan wag by die hek, hulle speel saam met die kinders op die klimraam, en hulle is op al wat ’n wynbottel wat dié klein boektiekplaas produseer.

Merlot en Shiraz-Merlot, die honde van Dunstone.

Merlot en Shiraz-Merlot, die honde van Dunstone.

Meeste van die tyd sal jy egter vir Merlot en Shiraz-Merlot, wat aan die eienaars Lee en Abbi Wallis behoort, in een of ander hoekie aan die snork kry. Merlot is veral lief vir die piekniekkussings op die grasperk by die Stone Kitchen-restaurant.

Dunstone, aan die voet van die Bainskloofpas naby Wellington, is ’n lekker daguitstappie op ’n Sondagmiddag vir Kapenaars. As jy egter wil oorslaap, is daar ook ’n luukse gastehuis. Na Wellington, net voor die Bainskloofpas, draai die grondpad af na die Dunstone-landgoed.

Abbi en Lee het in 2002 die plaas gekoop, waar daar op daardie stadium nie veel wingerde gegroei het nie. Die klipperige grond het hulle oortuig dat hier goeie wyn gemaak kan word. Hulle het stadig begin om Merlot en Shiraz-kultivars aan te plant. Al hulle wingerde is terroir-gedreef en hul produksie bly klein. Die plaas se wingerde is geleë teen ’n helling op die laer deel van die Hawekwa-berge wat die plaas omring. Hulle het Dunstone vernoem na die Britse plaas waar hulle jare gelede verlief geraak het. Die wynkelder se kenteken moes eenvoudig hul ander liefde wees – honde.

DSC03987

Shiraz-Merlot, die Weimaraner, voor die gastehuis.

Die paar maak nou vir ’n dekade lank bekroonde wyn. Dis boonop bekostigbaar, as jy kyk na al die passie en gehalte wat Abbi en Lee inploeg, saam met hul wynmaker Adi Badenhorst.
Die Dunstone Shiraz 2008 is vereer met die Mutual & Federal Agri Wellington Wynroete se eerste vyfster-Platter. Daarbenewens het die 2013 Sauvignon Blanc silwer by die Michelangelo-toekennings verdien. Die 2012 Shiraz het ‘n silwer medalje by die Veritas-toekennings gewen en dra ook vier sterre in die Platter-wyngids.

Die plaas se romantiek sal jou bekoor. Gaan stap vroeg die oggend in die wingerde saam met die honde. Dis nou as jy hulle uit een of ander hoekie op die plaas kan opspoor. Volg net die snorkgeluide.
Die vierster-gastehuis, Dunstone Country House, het ook vanjaar sy deure geopen. Die splinternuwe randswembad is hemels. Dit het beslis een van die beste uitsigte oor die wynlande en is die ideale plek om ’n glas Sauvignon Blanc te geniet. Die byderwetse nuwe sitkamer van die gastehuis spog met dieselfde uitsig oor die Bainskloofpas en het ‘n groot biblioteek van DVD’s en boeke.

DSC03955-1

Die swembad is een van die beste plekke om ‘n glas Sauvignon Blanc in die Kaapse wynlande te geniet.

Daar is vyf luukse en-suite slaapkamers. Drie is in gerestoureerde stalle geleë en twee in die ou posstal van die voormalige plaas. Al die kamers het ’n private stoep, televisie met ‘n DVD -speler, lugversorging en suiwer katoenlinne Daar is ook ’n selfsorgeenheid in die middel van die koejawelplantasie op die plaas, wat veral gewild is vir meer gesofistikeerde rampartytjies of selfs ’n kombuistee. ’n Opskop voor jy trou op ’n pragtige wynplaas was nog nooit te versmaai nie.

The Stone Kitchen is eintlik die groot rede waarom mense van heinde en verre kom. Nie net is die kos ’n onopgesmukte bederf nie, dis ook ’n paradys vir kinders. The Stone Kitchen is loshande een van die wynlande se kindervriendelikste plekke.

The Stone Kitchen se kos is eenvoudige, hartlike plaaskos.

The Stone Kitchen bedien eenvoudige, hartlike plaaskos.

Die klimraam is gebou in die vorm van ’n patryshond en het ‘n sandpit en swaaiband. Dit sal die telg vir ure besig hou terwyl die grootmense ’n wynproe doen en weglê aan die kos. Kinders is ook gaande oor die vriendelike honde. Buite langs die speelarea is daar ’n groot grasperk vol piekniekkussings waar mens verder kan uitspan na ’n proe.
Daar is ook ‘n eendedam langs die restaurant en die eende vind gereeld hulle pad na die restaurant, tot groot vermaak van almal. Die kos is regte tuisgemaakte “country fare”.  Tuisgemaakte patees en gourmet hamburgers is standaard. Die kaaskoek is ’n moet. En as jy ’n middagslapie wil vat op die gras, is ‘n dutjie saam met Merlot ook ‘n bonus.

Kom so daar

Die kelder is oop van Woensdag tot Sondag, maar jy kan ook ‘n private afspraak maak. Dis so 45 minute se ry vanaf Kaapstad, 15 minute vanaf die Paarl en 30 minute van Stellenbosch. Adres: Bovleistraat, Wellington. Tel +27 21 864 1504 of stuur ’n epos na stay@dunstone.co.za. Besoek ook hul webblad www.dunstone.co.za

 

Merlot vat 'n middagslapie voor die klimraam.

Merlot vat ‘n middagslapie voor die klimraam.

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *