As jy die woorde “vegetariese fees” hoor, dink jy heel waarskynlik aan ’n vredeliewende hipster-affêre, waar heilsame kinders rondhol met ’n mielie in hul hand terwyl hul hippie-ouers smul aan ‘n kale en-quinaoslaai. Dink weer, sê Albert van Niekerk.

In Phuket, Thailand is dit heeltemal die teenoorgestelde. Dié fees is seker een van die grusaamste dinge wat ek nog in my lewe gesien het. Daar word bespiegel dat dié vegetariese fees na die eiland toe gebring is deur ’n groep Chinese musikante, wat tydens hul besoek malaria opgedoen het. Hulle het aan die Nege Keisergode gebid en belowe om ’n streng vegetariese dieet te volg om hul liggaam en siel te reinig.

veggie3

Wonderbaarlik is hulle genees en het aan hul gode belowe dat hul elke jaar in Oktober, die negende maand van die Chinese kalender ’n fees sal hou om hul dankbaarheid te betoon. Die fees het deur die eeue gegroei en mense van regoor die wêreld besoek Phuket om aan die fees deel te neem, of die spektakel te aanskou.
Wat die fees so grusaam maak is die Mah Song, oftewel die Ruiters van die Gode. Dit is ook die groep mense wat hulself met elke liewe objek denkbaar skend. Daar word geglo dat hulle ’n heilige wese binne hulself dra, wat hul van leed beskerm, selfs al deurboor hulle hulself met verskeie skerp objekte.

Veggie1

Ek het slegs ’n paar van die optogte besoek, maar het elke keer amper omgekap. Ek was reg in die hartjie van Phuket Town, met ’n optog mense wat verby geloop het, almal in ’n waas. Party het sosatiestokke deur hul wange en lippe gesteek. Ander het hulself geskend met swaarde en messe. Daar was selfs ’n kêrel met ’n AK deur sy wang. Tussendeur het almal gemompel in ‘vreemde tonge’, (alhoewel dit steeds soos Thai vir my geklink het). Dit was een van die mees bizarre dinge wat ek nog in my lewe aanskou het.

Reg voor elke winkel het mense offerhande aan hul gode gebring. Die Mah Song sal dan ook bydrae by die offerhande, met kos of heilige water. Hulle sal ook die winkeleienaar seën met die heilige water, wat glo goeie geluk na die familie en besigheid sal bring.
Jy kan omtrent die bloed in die lug ruik, ’n warm, metaalagtige reuk. Ek het besluit ek het genoeg gesien. Dit kan sensitiewe kykers ontstel en ek stel ook nie voor jy woon die fees by as jy ’n swak maag het nie. Ander rituele sluit in mense wat loop oor brandende kole, mense wat kookwarm olie oor hulself uitgooi en mense wat lere, wat bestaan uit vlymskerp lemme uitklouter.

Veggie2

Maak jouself ook reg vir vuurwerke. Die Thai-kinders hou daarvan om toeriste skrik op die lyf te jaag, so jy gaan waarskynlik ’n teiken wees. Wanneer jy met ’n bromponie deur Phuket se strate ry, kan dit jou nogal senuweeagtig maak. Somtyds gooi mense jou met ’n klapper; ek al het al gesien hoe mense verongeluk as gevolg hiervan.
Die laaste aand van die fees is die klimaks. Daar word derduisende vuurwerke en klappers deur die aand geskiet. Ek het gevoel asof ek in ’n beleërde stad is. In elke straat gil mense en vuurwerke ontplof. Dit voel asof jy in ’n oorlogsone is.

Ek het probeer om so naby aan die aksie te kom, sonder om eintlik deel daarvan te wees. Dit het nie gewerk nie. Ek het die verkeerde afrit geneem en myself reg in die middel van al die vuurwerke gevind. Die strate was vol rook en ek het gesukkel om te sien. Om dinge erger te maak, het mense my met klappers gebombardeer, wat rondom my voete ontplof het. Die meeste kon ek vermy, maar ek het amper in ’n lamppaal vasgery. Dit het alles te veel geraak en ek het besluit om skuiling te vind by die naaste hotel en gemaak asof ek een van hul gaste is. Dit het my toegang tot hul dak gekry, waar ek al die chaos en malheid van ’n veilige afstand kon bekyk.

Die fees vind gewoonlik in die tweede gedeelte van Oktober plaas. As jy wel van plan is om die fees te besoek, stel ek voor jy parkeer so ver as moontlik van Phuket Town se middestad en stap na waar die aksie plaasvind. Dit is beslis een van die vreemdste, grusaamste feeste wat jy sal bywoon, maar dit is ’n ervaring wat beslis die moeite werd is.

Albert van Niekerk is ‘n Kaapse kopieskrywer. Wanneer hy nie oulike klinkreëls uitdink nie, trek sy hart terug na eksotiese Suid-Oos Asië. Volg sy avonture by Here to Stray.

 

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *