Hierdie nuwe hotelgroep nooi jou uit om jou eie minikroeg te vul en gee vir jou ’n wegneemhouer by die ontbytbuffet. Deur Carla Lewis-Balden.

Ek bly in baie hotelle vir my werk, veral dié van die groot groepe. Hulle is dikwels koud, generies en intimiderend. Die concierge kyk jou altyd aan asof jy sy handoeke gaan steel. Dan praat ons nog nie eers van die maniere hoe hulle elke sent uit jou probeer melk nie.
Met ’n onlangse toer na Singapoer het ek by twee hotelle van die nuwe hotelgroep, Hotel Jen gebly, wat besit word deur die Asiatiese hotelreus Shangri-La Hotels and Resorts. As Shangri-La Beyoncé is, dan is Hotel Jen Solange, die koel kleinsussie wat haar vingers op die pols van die nuutste tendense het.
“Die millenniële reisiger is baie meer ingelig en weet wat hy soek. Hulle het die wêreld se inligting aan hul vingerpunte met hul slim toestelle. Hulle is opsoek na onopgesmukte luuksheid en waarde vir geld en dit is wat Hotel Jen poog om vir hul te gee,” sê Wai Ling, kommunikasiebestuurder van Jen Tanglin in Singapoer.
Die hotelgroep het uitgebreide marknavorsing gedoen en met die volgende idees na vore gekom.

Die Hotel Jen Orchardgateway in Orchard Road.

Die Hotel Jen Orchardgateway in Orchard Road.

 

Bring-jou-eie-minikroeg

Ek ken al die slenters hoe om verbode bier en drank na my hotelkamer te smokkel. Ek het selfs ’n reuse sak waar ek ses biere kan wegsteek, sonder dat iemand van beter weet. Soos talle ander reisigers sien ek nie ’n rede waarom ek $5 vir ’n Coke of $8 vir ’n bier moet opdok nie. Party hotelle sit dit sommer op jou rekening as jy net die minikroeg oopmaak, ’n Coke optel en daarna kyk. By Hotel Jen gee hul vir jou ’n leë yskassie en moedig jou aan om jou eie drankies te bring. As jy vra, sal hulle jou die aanwysings na die naaste 7/Eleven gee. Die concierge sal jou ook nie skeef aankyk as jy met ’n halfdosyn biere deur die ingangsportaal stap nie. Dis hoe hulle rol by Jen.

Wegneem ontbyt

Ek hou daarvan om geld te spaar wanneer ek reis. Daarom is ek altyd besig om ’n ekstra croissant of broodjie van die ontbytbuffet uit te smokkel in ’n vuil servet, terwyl my man maak asof hy my nie ken nie. By Hotel Jen hoef jy nie soos ’n boef te voel as jy ’n ekstra toebie vat nie, inteendeel, hulle gee vir hou ’n houer daarvoor. Geen meer krummels in jou handsak nie! “Ons besef dat dit veral vir ’n vrou moeilik is om alles by die buffet te eet. En somtyds is jy lus om iets te peusel voor middagete. Dan is dit lekker as jy daardie ekstra croissant of muffin in jou sak het,” sê Lau Ler Ling, kommunikasiebestuurder van Jen Orchardgateway.

Die Hotel Jen Tanglin is meer gepas vir besigheidsreisigers.

Die Hotel Jen Tanglin is meer gepas vir besigheidsreisigers.

Vinnige, gratis Wifi

Dit gaan steeds my verstand te bowe dat sommige hotelle steeds ekstra vra vir Wifi. En selfs al gee hulle vir jou gratis Wifi, is dit soms so stadig dat jy eerder geld uithaal, om die vinniger pakket aan te koop, veral wanneer jy reis vir werk. Hotel Jen se Wifi was blitsvinnig, ek het reuse RAW-leërs sonder enige moeite in die Cloud opgelaai. Alle gaste kry ook gratis toegang tot Press Reader, lees-soveel-jy-wil digitale app wat jou toegang gee tot die wêreld se gewildste titels, selfs die in Afrikaans. Ek kon die Beeld op my iPad lees en op datum bly met die nuutste skinder in Huisgenoot en Heat.

Toegang tot versteekte juwele

Goed, ons weet ’n goeie concierge kan miskien vir jou ’n tafel bespreek by ’n Michelin-ster restaurant in ’n goeie buurt. Maar kan hulle vir jou sê waar jy die beste taai geroosterde vark of die lekkerste assam laksa-sop kan vind by die plaaslike kosmark? Ek wou eet soos die locals eet, en is verwys na die kosmark by Tiong Bahru, een van Singapoer se sogenaamde hipster-buurte. Daar is vir my gesê om die geroosterde vark by ’n spesifieke klein stalletjie te bestel, saam met gestoomde rys en ’n “Micheal Jackson”, ’n drankie wat bestaan uit sojamelk en snaakse swart jellieagtige bone. Die vark was heerlik, die vetjies lekker brosgebraai en bedek met ’n soet-suur glasering. So iets sal jy nie sommer by the Hilton kry nie.

Die Tiong Bahru-buurt is vol hipsterwinkels en 'n heerlike kosmark.

Die Tiong Bahru-buurt is vol hipsterwinkels en ‘n heerlike kosmark.

Ghrênd sepies en sjampoes

Niks laat my soos ’n ryk vrou voel as om in die gange van ’n hotel rond te loop in ’n groot, weelderige kamerjas nie. Ek is ook een van daardie mense wat alewig my tandeborsel of skeermes vergeet. In ’n era waar hotelle probeer bespaar deur jou ’n 3-in-1 opknappende lyf en haarwas te gee, hou Jen nie terug met hul seep en sjampoe nie. Daar was opknapper, iets wat ’n mens deesdae nie meer kry nie, ’n tandeborsel en ’n skeermes in my badkamersakkie. Elke kamer het ook met dik japonne gekom, iets wat jy gewoonlik net by vyfsterhotelle vind.

Hotel Jen het takke in Hong Kong, Singapore, Brisbane, Manila en Penang. Vir meer inligting of om te bespreek besoek www.hoteljen.com. Jy kan ook deur Agoda en booking.com bespreek.

Hotel Jen en Singapore Airlines het die koste van Carla Lewis-Balden se besoek aan Singapoer gedra.

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *