Wat is dit met motorfietse wat ons van huislenings en motorpaaiemente laat vergeet, wonder Carla Lewis-Balden

Dennis Hopper en Peter Fonda in “Easy Rider’. FOTO: Columbia Pictures

Daar is ’n toneel in die rolprent ­Easy Rider, waar Dennis Hopper se karakter, Billy, by Jack Nicholson se karakter, George, kla omdat almal bang is vir hom. “Hulle is nie bang vir jou nie. Hulle is bang vir wat jy verteenwoordig,” sê ­George vir Billy.

“Nee, man. Al wat ons verteenwoordig is iemand wat dringend ’n haarsny nodig het,” maak Billy kapsie.
“O, nee,” sê George. “Wat jy verteenwoordig is vryheid.”
Vra enige motorfietsryer of -eienaar waarom hy sy fiets ry en die woord “vryheid”, of ’n vorm daarvan, sal iewers opduik.

Of dit nou ’n middeljarige rekenmeester is wat oor naweke sy jeug op ’n Fat Boy kan inhaal, of ’n tandarts wat vir ’n rukkie vrot asems vir ’n gesig vol modder kan verruil op sy KTM, daar is net iets omtrent twee wiele en ’n enjin tussen jou bene wat ’n mens sorgvry laat voel. “ ’n Mens hou van die vryheid, van die feit dat jy heeltyd betrokke is, so ’n ‘in-die-oomblik’-gevoel,” vertel Jaco Kirsten, redakteur van Wegry en eienaar van ’n BMW 1200 HP2 Enduro, wat hy “Raka” gedoop het.
“Wanneer jy oor moeilike terrein ry, kan jy aan min ander dinge dink. Dis amper soos meditasie.”

Motorfietsryers reis lig. Hulle is letterlik mense met min bagasie. Daar is nie veel plek vir ekstra nonsens in daardie saaltasse nie. Grille en giere en ’n voorliefde vir lugversorging moet ook liefs by die huis gelos word. “Onthou, baie mense bly oor in selfsorg-chalets, so daai saaltasse of panniers is eintlik genoeg as jy mooi pak. Maar dis nie die soort trip vir ’n Imelda Marcos-tipe vrou nie. “As jy in ’n tent kampeer, moet jy wragtig fyn beplan as jy twee mense is. Ek ry gelukkig alleen op my bike, so ek het nie daai kopseer nie,” sê hy.

Nicolene Olckers, ’n fotograaf en eienaar van ’n 2005 BMW F650GS Dakar, sê sy voel elke keer soos William Wallace in Braveheart wanneer sy op “Die Blou Masjien” klim. “Dan skree my hart: Freedom!”
Sy sê die knap pakplek pla haar ook min. “Ek is nou nie die soort meisie wat ’n smuktassie besit nie. “Die naaste wat ek aan meisiegoed in my mini-‘rugsakkie’ dra, is oogomlyner en lipsalf. Ek gebruik ’n ou 75l K-WAY-rugsak waarin ek alles en my tweeman-tentjie pak.”
Wanneer ’n mens hulle in diepwinter op die Sanipas in die Drakensberge raakloop, of in Desember in die Kalahari-woestyn wanneer die kwik na moedelooswarm begin mik, kan ’n mens ook nie wonder of sommige motorfietsryers nie ’n masochistiese streep het nie.

Olckers sê dit is haar avontuurlus wat haar na afgeleë plekke lok. “Ek hou van die oop pad en ook om van die deurtrapte paaie weg te kom. Ek sien plekke waar mense nie met hul alledaagse karre kan uitkom nie. Dan is daar ook nog die uitdagings en die kop-skoonkry wanneer jy ry. Ek kan nie praat van die ander ouens nie, maar wanneer ek eers die grondpad aandurf, dan moet ek konsentreer op wat ek doen. Wanneer die pad moeilik begin raak, is daar nie tyd om aan ander dinge te dink nie.”

Motorfietsryers moet ook fyn beplan wanneer dit by hul verversings kom. Daar is nie die luuksheid van ’n 32 liter-Engel op die agtersitplek, gevul met sewe soorte bier en botteltjies water nie. “Hopelik by die volgende stop is daar ’n yskas met koue bier,” sê Olckers.
“Dit wag by die volgende kroeg,” sê Kirsten. “Of by ’n drankwinkel naby die volgende kampeerplek. Soos hulle in die weermag sê: If you fail to plan, you plan to fail.” Soms duik daar ook ’n meevallertjie in die middel van nêrens op.
“Ek het met ’n ryslag na Sodwana ’n letterlik ge-yste bier by ’n sjebien langs die pad in die bos gekry,” vertel Olckers.

Die debatte wat jy om die kampvuur kry tussen motorfietsryers, verskil ook nie veel van dié van 4×4-eienaars nie.
“Ag, ons stry maar oor dieselfde dinge as ander ouens. Rugby, politiek, p**pholle wat nie hulle rigtingwysers gebruik nie. En dan stry ouens baie oor BMW versus KTM. Dis die Toyota-versus-Land Rover-weergawe van baie avontuur-motorfietsryers,” sê Kirsten.

Billy van Easy Rider het ook gesê dat praat oor vryheid en om fisies vry te wees, twee verskillende dinge is. “Ek bedoel, dis regtig moeilik om vry te wees wanneer jy jouself die hele tyd moet verkoop en terugkoop.”
Motorfietsryers weet dit, of hulle nou ’n Hell’s Angel of ’n tandarts is. Hulle praat nie van vryheid nie. Wanneer hulle daardie versneller oopdraai en mik na die horison, besit niemand hulle meer nie. Dan is die huispaaiemente en pensioenaftrekkings vergete, terwyl die enjin “vryheid” brul.

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *