Victoria Falls word beskou as Afrika se hoofstad van adrenalien. As jy egter nie opgewonde raak oor die idee om jouself by ’n brug af te gooi of deur ’n maalkolk van wit waters gespoel te word nie is daar steeds baie om te doen. Carla Lewis-Balden vat dit rustig by die Rook wat Brul.

Skemervaart op die Zambezi Explorer

Ek was heeltemal verras deur die Zambezi Explorer se boot. Terwyl die meeste van die maatskappye in die omtrek die “goeie ou koloniale dae” probeer ophemel, was die boot sjiek en byderwets. Die bemanning het matroosuniforms gedra wat meer seiljagklub as safariklub was en die dekor was iets so reg uit ’n Weylands-brosjure. Gaste span uit op groot, gemaklike rusbanke terwyl die boot verby die rivieroewerwoud van die Zambezi-rivier vaar. Alle drankies is ingesluit, behalwe vir die premium handelsmerke en Franse sjampanje. Moenie eetplanne vir die aand maak nie. daar verskyn gereeld ’n bord vol fynproewers snoephappies en canapés waaraan jy kan peusel en hulle is nie suinig met hul porsies nie. Teen $80 per kop vir sitplekke op die boonste Signature Deck is dit nie goedkoop nie, maar dié is die Rolls Royce van skemervaarte op die Zambezi. Die onderste dek, ($55) bied steeds waarde vir geld. Vir meer inligting stuur ‘n e-pos na info@zambeziexplorer.com of besoek www.zambeziexplorer.com

Vicblog13

 

Vang die beat by The Boma

Om te sien hoe ’n Duitse toeris probeer twerk saam die tradisionele dansers het reeds my aand gemaak. Maar dis nie waarom jy na The Boma: Place of Eating toe kom nie. Die restaurant bied Afrika-disse vir meer Westerse smake en dien dit op met hope pret, soos ’n Djembe-dromsessie, ’n sangoma, tradisionele gesigverf en dansers. Alhoewel die kos buffetstyl bedien word, is dit vars en geurig. Ek het ’n heerlike vlakvarkfillet geëet, wat reg voor my op die vuur voorberei is. Vir die avontuurlustiges is daar Mopaniwurms. As jy een geëet het, kry jy ’n sertifikaat, vir ingeval jou vriende by die huis jou nie wil glo nie. Dit kos $45 per kop, uitsluitende die drankies. Vir meer inligting besoek www.africaalbidatourism.com of stuur ’n e-pos na saflodge@saflodge.co.zw.

vicblog_5

 

Middagtee by die Victoria Falls Hotel

As jy die Victoria Falls van ’n vergange era wil ervaar, bespreek vir jou ’n middagtee by die Victoria Falls Hotel se Stanley Terrace, wat uitkyk oor die sprei van die valle. Hulle bring vir jou ’n koektoring, gevul met klein delikate komkommertoebroodjies, botterbroodjies met room en aarbeikonfyt en ’n keuse van koek. Saam kan jy kies uit ’n verskeidenheid tees. Hulle is ook hier nie suinig nie, ek en my reisgenoot kon nie dit klaarmaak nie. (Ongelukkig kan jy nie vir ’n woefkardoes by so ’n ghrênd plek vra nie.) Alles word bedien met ’n tinkelende klavier in die agtergrond. Na die tyd kan jy op die hotel se gronde gaan wandel en ’n mooi uitsig kry van die brug tussen Zimbabwe en Zambië. Dit word bedien tussen 15:00 en 17:00, maar klok 16:30 in, dan hoef jy nie jouself te bekommer oor aandete nie. Dit kos $35 vir ’n koekstaander, wat twee mense bedien. Besoek www.victoriafallshotel.co. vir meer inligting.

VicBlog_4

 

Sien hoe die aasvoëls vreet

Ek hou van aasvoëls, maar ek kan hul nooit van nader beloer nie. The Victoria Falls Safari Lodge (VFSL) het ’n aasvoëlvoerskema, wat besoekers die geleentheid bied om die voëls van nader te beloer. Al die bene en afval van die VFSL se restaurante word elke middag by die aasvoëls se “restaurant” uitgesit. Wat volg is ’n vreet-soveel-jy-wil buffet soos monnikaasvoëls, swart aasvoëls, witrugaasvoëls en maraboe-ooievaars swerm en wriemel om ’n lekker stukkie vleis van die bene af te steel. Besoekers sit op ’n klein stowwerige pawiljoen en van so naby (jy is seker so tussen 5 en 10 meter van die voëls af) kry jy nuwe waardering. Die skema word bedryf deur Jonathan Hudson, algemene bestuurder by die VFSL wat ook waardevolle inligting vir aasvoëlbewaringsgroepe insamel. Die bene en karkasse word elke dag 13:00 uitgegooi. Toegang is gratis, maar nadat jy vir die voëls gekyk het kan jy die VFSL restaurant, MaKuwa-Kuwa se befaamde Buffalo Burger vir middagete probeer.
Vir meer inligting besoek www.africaalbidatourism.com of www.victoria-falls-safari-lodge.com. Stuur ’n e-pos na saflodge@saflodge.co.zw.

Vicblog_3

 

Bly hier

As jy die Valle as deel van ’n selfry-safari besoek en opsoek is na goeie, bekostigbare selfsorgverblyf, stel ek die Lokuthula-eenhede by die VFSL op ’n bed en ontbyt basis voor. Vir families is dit ideaal, jy kan kies uit ’n twee of drieslaapkamereenheid. Almal kom met ’n kombuis wat ten volle toegerus is, ’n leefarea, stoep en braai. As jy gelukkig is sal ’n familie vlakvarke voor jou huisie kom wei, terwyl jy ’n vleisie oor die kole gooi. Die slegte dae in Zimbabwe is verby en supermarkte in Victoria Falls het al die vars produkte en vleis wat jy nodig het. Let wel, omdat jy in dollar betaal kan dit duur wees.
Daar is ’n komplimentêre bussie na die dorp, sou jy inkopies wou doen en na die Valle. Vir meer inligting besoek www.africaalbidatourism.com of www.victoria-falls-safari-lodge.com. Stuur ’n e-pos na saflodge@saflodge.co.zw.

Vicblog_2

 Carla Lewis-Balden was ’n gas van Africa Albida, was die koste van haar reis gedek het.

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *