As jy Phuket se gefuif wil ontsnap, is die piepklein eilandjie van Ko Ya Noi die perfekte bestemming, meen Carla Lewis-Balden

Dis Desember, die besigste seisoen in Thailand en ons gesin is die enigste mense op ‘n strand aan die suidelike gedeelte van Koh Ya Noi-eiland. 
Dis nie asof daar iets fout is met die strand nie, inteendeel, dis een van die mooiste strande in Thailand wat ek al besoek. Dis ook nie peperduur nie, ons betaal nie ‘n premium vir die privaatheid nie, inteendeel, dit kos ons omtrent dieselfde as ‘n pakkettoer na ‘n vierster oord in Mauritius.

Brosjure-kopieskrywers sal behoorlik liries kan raak oor “die idiliese uitsigte, asuurblou waters en palmbome wat luilekker swaai in ’n seebries…”
Tog is ons een uur per spoedboot weg van die besigste vakansiebestemmings in Suid-Oos Asië. Aan die weste lê die mekka van pakkettoerisme, Phuket, aan die weste is goedkoop Krabi waarheen rugsakreisigers stroom.
En amper in die middel, in die Baai van Phang Nga lê Ko Yao Noi en Ko Yao Yai, twee piepklein eilandjies wat lyk asof dit Thailand se toerismemonster vrygespring het.

'n Swaai op 'n verlate strand, op die eilandjie Ko Yao Noi in Thailand.

‘n Swaai op ‘n verlate strand, op die eilandjie Ko Yao Noi in Thailand.

Dis nie asof Ko Ya Noi ’n geheim onder reisigers in Suid-Oos Asie is nie. Reisbybels soos Lonely Planet jubel lofpsalms oor die klein eilandjies en gesoute reisigers meen jy kan al die Thai-eilande ’n mis gee en van die begin af op die eiland kom afpak.
Die meerderheid van die eiland se inwoners is Moslems en smet soos die ping-pong kroeë en sekstoerisme word hier geduld nie. Hier is dit nog onskuldig, met geen swendelaars wat obsene vertonings aan jou probeer afsmeer nie.

Die skrywer Alex Garland praat van “Kanker in die korale” in sy kultustreffer, The Beach; ’n verwysing na die massatoerisme wat eilande soos Phuket en Ko Samui treiter. Vir nou blyk dit asof Koh Ya Noi nog nie getreiter word nie deur grillerige omies opsoek na jong Thai bloed en dronk rugsakreisigers wat in die strate rondval.

Tot dusver het dit ook onder die radar van groot ontwikkelaars gevlieg, met ’n eko-spa en lodge wat tans die enigste grootste ontwikkeling op die eiland is.

'n Visserman keer terug met sy vangs, vroegoggend by Ko Yao Noi.

‘n Visserman keer terug met sy vangs, vroegoggend by Ko Yao Noi.

Ons word opgepik by die Klong Hia-pier in een van die plaaslike taksi’s, ’n kontrepsie wat lyk asof iemand ’n toektoek geneem het en hom in ’n 4×4 probeer omskep het. Die tonele waar ons verby ry herinner ’n mens aan die landelike tonele wat jy in die ou flieks oor die Vietnam-oorlog sien. Dis nou voordat die Amerikaners dit met napalm verbrand het. Waterbuffels staan herkouend in die ryslanderye, ons ry verby houthuisies op pale met palmbome wat bokant dit uittroon. Daar is min motors en meeste mense ry op bromponies rond.

Sandsteenformasies rys uit die see. Dit is die uitsig, wanneer jy op die strand sit.

Sandsteenformasies rys uit die see. Dit is die uitsig, wanneer jy op die strand sit.

Vir die volgende paar dae bly ons by die Koyao Bay Pavillions, wat aan die suidelike gedeelte van die eiland geleë is. Dis ’n klein, intieme oord, met slegs drie luukse strandhutte en drie selfsorg villas wat tussen ’n rubberboomwoud geleë is.
Ek en my man bly in een van die strandhutte, wat eintlik meer soos ’n villa is, terwyl die res van die gesin tuisgaan in een van die selfsorgvillas vir families. Ons kamer is enorm, met ’n groot hemelbed. Die buitelugbadkamer is so groot soos ons kamer by die huis, met allerhande eksotiese plante en orgidees wat tussenin rank. Wanneer jy stort, voel jy soos die vrou in die Timotei-advertensie.

Die kamers is groot en luuks, elkeen met sy eie uitspan-area.

Die kamers is groot en luuks, elkeen met sy eie uitspan-area.

Soos die dae verbygaan, pak ons ons horlosies weg en pas aan by die eiland se ritme. In die oggende word ons wakker gemaak deur sonstrale wat deur die strandhutte se hortjies loer en die plaaslike neushoringvoël se kattemaai in die boomtoppe. Hoogwater is gewoonlik vroegmiddag, so na ontbyt bring jy gewoonlik dit op die strand deur. Die middag lê jy onder piesangbome by die swembad, terwyl suikerbekkies en neushoringvoels bo jou kop baljaar.
Vir nou voel dit asof ek vasgevang in ’n versteekte paradys is. Hopelik word dit nie gou ontdek deur gulsige ontwikkelaars en hedonistiese pakkettoeriste nie.

Doen dit

Verwag kilometers van ongerepte strande, net vir jouself.

Verwag kilometers van ongerepte strande, net vir jouself.

Huur ‘n bromponie

Ko Yao Noi is klein (ongeveer 50 vierkante kilometer) en die ideale plek om met ’n bromponie te verken. Dit kos ongeveer 300 baht (ongeveer R100) om een vir die dag te huur. Die inwoners van die eiland bestuur stadig, maar wees versigtig vir waterbuffels, hoenders en ander lewende hawe in die pad.

Klim die heuwels uit

Daar is talle staproetes op die eiland, maar ek het elke oggend die heuwel bokant die Taara-villa uitgeklouter. Dit neem ongeveer so halfuur, maar as jy eers bo is, is daar ’n pragtige uitsig oor die sandsteenberge wat uit die see verrys.

Verken die Baai van Phang Nga

Koyoa Bay Pavillions kan ook daguitstappies vir jou reël in die Baai van Phang Nga. Hulle vermy egter die ge-ykte toeristeaantrekkings soos James Bond-eiland en Maya-strand (waar die rolprent, The Beach geskiet is) en vat jou na versteekte strande en seegrotte wat die groot toeroperateurs nie kan bereik nie. Ons het gedink hul tariewe is bietjie duur, totdat ons ’n paar dae later in Phuket ’n daguitstappie wou doen. Toe lyk hul tariewe ewe skielik heel billik.

Hou ’n visbraai op die strand.

Vir ongeveer R300 per kop het die hotel vir ons ’n tafel op die strand gedek met gestyfde wit linne, ’n reuse vis en sataystokkies op die vuur. Daarby het ons gesmul aan groenpapaya en piesangblomslaai.

Boks ‘n bietjie

As jy ’n tydjie op die eiland gaan deurbring is daar ’n hele paar Muy Thai gimnasiums wat jou sal touwys maak in die Thaise krygkuns.

Die swembad by Koyao Bay Pavillions.

Die swembad by Koyao Bay Pavillions.

Kom so daar

Luglederye soos Cathay Pacific, Singapore Air en Emirates vlieg almal na Phuket, maar dit is nie direkte vlugte nie. Ons het tot in Phuket gevlieg en met Koyao Bay Pavillions gereël vir vervoer tot by die hotel. Dit werk omtrent uit op R1000, maar as jy ’n groot groep soos ons was, bied dit waarde vir geld en spaar jou tyd. Jy hoef ook nie met opportunistiese taksibestuurders te kibbel nie. 
Ons is by die lughawe opgelaai, na die Bang Rong-pier geneem en het ’n groot langstertboot tot by die eiland geneem.
As jy egter net twee mense is, kan jy ’n taxi van Phuket-lughawe tot by die Bang Rong-pier neem. Die mense by die kaartjiekantoor sal vir jou laat weet op watter boot jy moet klim.
Daar is ook veer -en spoedbote wat vanaf Krabi na die eiland vertrek.

'n Bankie waar jy kan uitspan, en die uitsig indrink.

‘n Bankie waar jy kan uitspan, en die uitsig indrink.

Die Taara-villa

Die Taara-selfsorgvillas by die Koyao-villas bied waarde vir geld vir gesinne. Dit is ten volle toegerus met ’n gasstoof, yskas, en die nodige kombuisgereedskap.Daar is slaapplek vir vier mense, maar as jy klein kindertjies het (onder 4) sal hulle vir jou ’n krismisbed in die kamer bou. Die villa kyk uit oor ryslanderye en het ook sy eie private swembad. Dit is ongeveer 5 minute se stap van die strand af.

Die Taara-villa is perfek vir gesinne.

Die Taara-villa is perfek vir gesinne.

Jy kan die eerste dag ’n toektoek invat na die dorp toe en vir jou die nodige bestanddele koop. Hou in gedagte dat meeste van jou inkopies by ’n varsproduktemark gedoen gaan word, daar is ’n klein 7-Eleven in die dorp, maar hy hou nie veel aan nie. Daar is darem ‘n Franse bakery waar jy croissants en Franse brode kan aanskaf.
Dit is ’n heerlike breuk van die massastrandoorde en ideaal vir gesinne wat opsoek is na ’n bietjie privaatheid.

As jy ’n kappie wil maak…

Omdat die eiland oorwegend Moslem is, word alkohol net by die hotelle en sekere restaurante bedien. Wees gewaarsku, dis duur, ’n glas middelmatige Franse rooiwyn kan jou tot R100 uit die sak jaag en ons het amper R60 vir ’n Singha-bier betaal. Koop jou bier in Phuket of Krabi en probeer maar so paar bottels uit eie bodem in jou tas insmokkel.

Vir meer inligting besoek www.koyaobay.com

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *