Die Victoria Falls Safari Lodge (VFSL) is perfek vir gesinne met kinders. Die lodge is geleë op ’n heuwel wat oor die Victoria Falls-bewaringsgebied uitkyk. Wanneer die Zambezirivier op sy sterkste loop, kan jy in die verte die sproei van “die rook wat dreun” sien. Deur Carla Lewis-Balden

Wanneer mense die Victoria watervalle besoek, het hul dikwels twee vrae: Moet ek aan die Zambiese of Zimbabwiese kant bly en watter hotel of lodge gaan die beste vir my wees?

Die rook wat dreun

Ek het die Victoria-waterval verlede jaar vir die agtste keer besoek. Ek het sewe keer van die besoeke aan die Zimbabwiese kant gebly en een keer aan die Zambiese kant. Persoonlike ervaring elke keer sê vir my die Zimbabwiese kant is beter, grootliks omdat die uitsig van die valle, veral oor die droeë seisoen ’n groter blik oor die Valle gee.

Tonele by die Victoria-waterval.

Tonele by die Victoria-waterval.

Driekwart van die valle is geleë aan Zimbabwe se kant, wat beteken dat driekwart van die uitsigpunte ook aan dié land se kant geleë is. Tydens die droeë seisoen is daar amper geen witwateraksie aan die Zambiese kant nie. As jy egter in die berugte Devil’s Pool wil swem, kan jy altyd ’n uitstappie oor die grens reël na die Zambiese kant. Die aantrekking is aan die Zambiese kant geleë en jy kan nog voor middagete terug wees by jou hotel

Die valle vloei op hul sterkste tussen Mei en Junie. Tydens dié tydperk kan jy nie veel sien nie, dit voel amper asof jy in ’n baie sterk storm vasgevang is. Dit is egter die beste tyd om die mag en krag van die Valle te ervaar. As jy fotografiese toerusting het, maak seker dit is waterbestand.

Watter hotel is die beste vir my?

Ek het die Victoria-watervalle vir die eerste keer in 1995 saam met my ouers besoek. Ons het toe by die VFSL gebly en dis ’n lodge wat ek aan enige iemand sal voorstel. Dit mag dalk nie reg langs die Zambezi-rivier geleë wees nie, maar die pragtige uitsig oor die Bosveld en mopaniwoud maak op daarvoor. Die lekker ding van die Victoria Falls Safari Lodge is dat alhoewel jy enkele kilometers van die dorp is, dit voel asof jy reg is die middel van die bos is.
In ’n mate is jy, Victoria Falls is ’n spilpunt vir safaris in Suider-Afrika, met talle wildsparke soos Chobe en Hwange wat nie meer as ’n paar ure se ry van die dorp af is nie.

Die kamers by die Victoria Falls Safari Lodge.

Die kamers by die Victoria Falls Safari Lodge.

Vroeër vanjaar het ’n trop van meer as ’n 100 olifante die watergat besoek, dis nie iets wat jy sommer by enige ander lodge of hotel in die dorp sal ervaar nie. Diere soos buffels en rooibokke kom drink ook gereeld en daar is selfs ’n luiperd in die omgewing, alhoewel hy homself baie skaars hou.
Die VFSL het verskeie keuses vir alle begrotings, van die selfsorg-eenhede by Lokhutula tot die meer eksklusiewe Victoria Falls Safari Club. As jy die Valle as deel van ’n selfry-safari besoek en opsoek is na goeie, bekostigbare selfsorgverblyf, stel ek die Lokuthula-eenhede by die VFSL op ’n bed en ontbyt basis voor.

By die Lokuthula-eenhede kan jy self 'n vleisie oor die kole gooi.

By die Lokuthula-eenhede kan jy self ‘n vleisie oor die kole gooi.

Vir families is dit ideaal, jy kan kies uit ’n twee of drieslaapkamereenheid. Almal kom met ’n kombuis wat ten volle toegerus is, ’n leefarea, stoep en braai. As jy gelukkig is sal ’n familie vlakvarke voor jou huisie kom wei, terwyl jy ’n vleisie oor die kole gooi. Die slegte dae in Zimbabwe is verby en supermarkte in Victoria Falls het al die vars produkte en vleis wat jy nodig het. Let wel, omdat jy in dollar betaal kan dit duur wees. Daar is ’n komplimentêre bussie na die dorp, sou jy inkopies wou doen en na die Valle.

As jy egter opsoek is na ’n bietjie meer luuksheid of as ’n paartjie reis, sal ek die Victoria Falls Safari Lodge se oorspronklike kamers voorstel. Almal het ’n pragtige uitsig oor die watergat en jy is naby aan al die aksie. Elke kamer is toegerus met ’n balkon, wat jou pragtige uitsigte oor die sproei van die valle en ’n Afrika-sonsongergang gee.
Die beste plek egter om ’n skemerkelkie te geniet is by die MaKuwa-Kuwa restaurant, wat uitkyk oor die watergat. Die kanse is goed dat jy wel een of ander meevallertjie by die watergat sal raakloop. As jy bly vir aandete is hul Buffalo Burger hoogs aan te beveel.

Aandete by die Makuwa-Kuwa restaurant by die valle.

Aandete by die Makuwa-Kuwa restaurant by die valle.

Vir meer inligting of om te bespreek, stuur ’n e-pos na www.africaalbidatourism.com of www.victoria-falls-safari-lodge.com. Stuur ’n e-pos na saflodge@saflodge.co.zw.


Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *

One thought on “Die beste adres by die Victoria-waterval