Daar het ‘n stukkie van haar hart agtergebly by die Filmtheater Uitkijk, skryf Carike Claassen

Die trem het pas vanaf die Prinsengracht-halte vertrek toe ek opkyk en die bord my oog vang. Twee swart woorde wat teen ’n gloeiende wit agtergrond pronk. Dit kan nie anders nie as om my bibliofiliese hart vinniger te laat klop: Jane Eyre.

Later daardie aand, terug by my tydelike woonstel in Uilenstede, het ek naarstiglik gaan soek na meer inligting. In die trem se vlietende verbygang het ek iets gewaar wat my betower het – diep binne my het die vermoede gelê dat hierdie dalk liefde met die eerste oogopslag kon wees.
Ek was reg.

uitkyk

Só het my kortstondige, dog passievolle affair met Filmtheater De Uitkijk begin. Binne dae na die eerste oogopslag het ek weer by die Prinsengracht tremhalte afgeklim en vol afwagting die klein teatertjie binnegestap.
Daardie aand se vertoning van Jane Eyre was so betowerend as wat die eerste oogopslag beloof het. Daarna het ek telkemale teruggekeer vir ander vertonings. Om te gaan fliek by De Uitkijk, is nie net om nog ‘n rolprent te sien nie. De Uitkijk is ’n tydmasjien – ’n klein stukke Belle Epoque-sjarme in die middel van Amsterdam wat jou terugvoer na ’n ander era.

Die klein, intieme teater huisves ’n maksimum van 80 mense en is in wynrooi weelde gekleed: Swaar fluweelgordyne verskans die geheim wat wag om op die skerm onthul te word, met oordadige muurpapier wat jou omarm terwyl jy in jou sagte stoel terugsink. Dit voel inderdaad of jy jouself in 1929 bevind – die jaar toe De Uitkijk, die oudste filmteater in Nederland, gestig is.

By De Uitkijk sal jy nie die nuutste Spiderman vind nie. Ook nie die nuutste soetsappige verwerking van Nicolas Sparks se mees onlangse topverkoper nie. Jy sal sielskos vind. Rolprente word keurig gekies, dieselfde flieks wat jy in Suid-Afrika by Cinema Nouveau sal sien.

In die gesellige foyer waar die kaartjies verkoop word, sal jy ook nie springmieliemasjiene vind nie. Van die meganiese gediertes wat kleurryke Slush Puppies in oorgrote kartonglase uitspoeg is daar ook geen teken nie. Jy kan wel hier ’n cappuccino of ’n glas wyn bestel om tydens jou vertoning te geniet. Dan sink jy terug in jou stoel en laat toe dat die tydmasjien jou wegneem; die storie op die skerm jou meesleur.

Wenk: De Uitkijk het nie genommerde sitplekke nie; alles daar is “vrije plaatsen”. Maak seker jy kom vroeg genoeg aan vir jou vertoning om ’n plek op die balkon te eis.uitkyk2

Op my laaste aand in Amsterdam het ek met ’n swaar hart die stad vaarwel gaan groet. Twee maande in daardie lieflikste van ou stede was net genoeg om my te laat besef dit sal ’n leeftyd neem om al haar wonders te ontdek. Vir oulaas het ek by my gunsteling-restaurant gaan aandete geniet. Vir oulaas op die trem terug in die rigting van Uilenstede geklim. Vir oulaas by Prinsengracht eers afgeklim en die klein foyer binnegestap om ’n kaartjie te koop. Midnight in Paris, dié keer. Ek het ’n warm sjokolade gekoop en versigtig, versigtig die trappe bo tot by die balkon geklim. Gesit en die wynrooi weelde ingedrink. My verloor in die storie wat voor my afspeel.
En vir oulaas gewens dat dit moontlik was om die skatte wat ons tydens ons reise ontdek, op ’n meer tasbare wyse saam huis toe te kan neem.


Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *

2 thoughts on “Filmtheater De Uitkijk, Amsterdam: Fliek in ouwêreldse weelde

  • Reply
    Dolf Dreyer

    Ek het nog nie die voorreg gehad om een voet, wat nog van twee, in Amsterdam te sit nie! Hierdie rubriek het my meegevoer – ek kon vir ‘n oomblik die reuk van die vertek, gemaklike stoele en klanke oor ‘n sagte Merlot ervaar! Skitterende vertelling!

    • Reply
      Die Reismier Post author

      Ons het dieselfde gevoel. Carina is ‘n lektor in Ekonomie, maar sy kan beslis ook ‘n reisskrywer word.