Kom ervaar die stilte en ongereptheid van die De Hoop-reservaat buite Bredasdorp en omsingel jouself deur fynbos en bontebokke, skryf Yolandi Groenewald

De Hoop bied van die beste snorkelplekke in die land. Foto: Yolandi Groenewald

De Hoop bied van die beste snorkelplekke in die land. Foto: Yolandi Groenewald

Die opgewondenheid is tasbaar in die kar toe ek en my gesin die eerste bontebok sien, net so skuins voor die afdraai van De Hoop Natuurreservaat se Opstal-kompleks.

“Dis amper soos ’n gestreepte blesbok,” sê my sesjarige seun. Hy is nie ’n kenner op die gebied van bokspesies nie, maar sy oupa het een keer ’n blesbok geskiet. As hy ’n rooibok gejag het, sou die bontebok ’n gestreepte rooibok gewees het. Bont bly bont.

Agter die bontebok maak ’n trop elande hulle verskyning en ewe skielik is die fynbosveld besaai met elande, bontebokke en volstruise met witgekalkte huise in die agtergrond.

Die volgende twee dae is die opgewondenheid oor die bontebokke telkens oorskadu by die De Hoop-natuurreservaat wat ’n wêrelderfenisgebied is.

De Hoop verlei jou met fynbos, biodiversiteit en ongerepte strande en die witgekalkte huise wat teen die agtergrond afgeëts is. Die natuurskoon kom klop by jou aan. Reg voor ons huis het ’n bontebok kom wei. CapeNature, die Wes-Kaapse parkeraad staan pa vir die ekologiese versorging van die reservaat.

De Hoop se verblyf word egter privaat bestuur. Dié model is destyds op dié van SANParke se Madikwe-reservaat geskoei. Die huise luuks sonder om opgesmuk te wees. Daar geen televisie nie en die stilte van die fynbosveld omsingel jou.

Die Homestead, een van die talle verblyfopsies wat beskikbaar is.

Die Homestead, een van die talle verblyfopsies wat beskikbaar is.

Die voëls se roepe is duidelik – my sesjarige het later selfs tekens begin toon dat hy ’n voëlfanatikus sal word.

’n Huisie of “toegeruste kothuis” is een van vele verblyfopsies by De Hoop – daar is ’n plek vir elke sak. Die luukse herehuis is ’n gunsteling onder buitelanders en die kampeerterrein is baie gewild en reg op die rand van die De Hoop-vlei geleë. Dié vlei is Suid Afrika se eerste RAMSAR-voëlkyk gebied. Hier loop almal met verkykers om hul nekke rond. As jy en ’n tent nie die beste van vriende is nie, is rondawels en huisies oral langs die vlei te vinde.
En, moenie dink die vlei is ’n klomp riete met ’n stroompie tussendeur nie. Dit is heelwat nader aan ’n dam water met ’n verste oewer. Hier kan jy wel nie lyn natmaat nie. De Hoop is ’n natuureservaat en niks mag hier gevang word nie.

Dieselfde reëls geld vir die verlate wit strande. Geen hengel. Geen bote.

Dit is die perfekte plek om die natuur saam met jou gesin te geniet.

Dit is die perfekte plek om die natuur saam met jou gesin te geniet.

Baie mense hou daarvan om in die rotspoele te snorkel en sommige meen dit is van die beste snorkelareas in Suid-Afrika.

Dié wat weet sê jy sien die beste walvisse hier, maar daarvoor moet jy op die duine staan en oor die see tuur. Die reservaat se gebied sluit die teelaarde van die Suidelike noorkapper in. Omtrent 120 van dié walvisse kom jaarliks na De Hoop om te paar en te kalf.

De Hoop se ander aanspraak op roem is dat die tuiste is van die bekende Walvis-staproete. As jy net ’n smakie van dié lieflike roete wil hê, kan jy tot by Koppie Alleen ry, waar De Hoop se strande geleë is, en dan die houtloopvlak tot op die strand volg. Jy sal gou agterkom waar die laaste dag van die staproete geleë is en dan kan jy ’n stukkie daarvan agterstevoor doen.

De Hoop is enige fotograaf se droom. Jy kan jouself nie draai nie, of dis ’n Kodak-oomblik. Die wit duine teen die blou van die lug en oseaan. Die fauna, die sonsondergang.

Die sonsondergang by De Hoop is iets om te beleef.

Die sonsondergang by De Hoop is iets om te beleef.

Net so wes van ons huisie loop die pad langs die vlei-oewer en dan kom jy te staan voor ’n hoë draadhek.

Die pad loop aan na die hek, maar die boodskap is duidelik dat die De Hoop-ondervinding hier eindig. Die kaart wys dat die pad aanloop na ’n plekkie genaamd Skipskop. En dis hierdie einste dorpie wat David Kramer se hartseer liedjie “So long Skipskop” geïnspireer het – die een waarmee tannie Sonja Herold later beroemdheid sou verkry.

Voor die tagtigs was Skipskop as ’n vakansie -en vissersdorp bekend. Maar, in 1981 het die destydse Krygkor iewers langs die kus na ’n missieltoetsfasiliteit begin soek. Skipskop was die ongelukkige wenner. In April 1984 is die konstruksie vir die projek begin en die Skipskoppers moes hul tuiste vaarwel roep. Permanente inwoners is verskuif na plekke soos Kassiesbaai by Waenhuiskrans en ander moes Bredasdorp en Struisbaai toe.

In Maart 1985 het die laaste inwoners uit Skipskop weggetrek en die grond behoort tot vandag toe aan Denel, Krygkor se nasaat. Hoeveel toetse daar gedoen is en wat die impak op hierdie ekosensitiewe gebied was, is nog nooit heeltemal verklaar nie. Die gerug loop sterk dat dit Krygkor en later Denel se topamptenare se vakansieplek geword het, want volgens die locals loop die vis sterk in Skipskop. Skipskop se hek bly toe . . . en amptelik kan daar glo nóg toetse gedoen word.
Twee dae was net te kort om behoorlik met dié fantastiese natuurreservaat te dans.

Ons kan nie wag vir ’n volgende dans nie.

Voor jy gaan:

Jy kan ongerepte, verlate strande by die natuurreservaat verwag.

Jy kan ongerepte, verlate strande by die natuurreservaat verwag.

Verblyf:
Omtrent al die verblyf in De Hoop is selfsorgeenhede en jy word aangeraai om die meeste van jou kos saam te ry. Die klein winkeltjie by die Opstal verkoop wel hout en ’n paar rantsoene vir die desperates, saam met ander boetiektoebehore van die omgewing (die sakke is
pragtig). As jy lus raak vir vis, gaan jy dit beslis nie hier vang nie.Kyk hier na die verblyfopsies en hul pryse:

http://www.dehoopcollection.com/rates

Eet hier:

Die huisies by De Hoop is selfsorg, maar jy sal aan jouself  ’n onreg doen as jy nie ten minste een keer by Fig Tree, vernoem na die reuse vyeboom by die Opstal-kompleks, gaan eet nie. Die aandete is ’n groot bederf en jy moet voor die tyd bespreek. Dit is ’n driegangmaaltyd wat jou by die restaurant gaan laat uitrol. Die hoogtepunt is die wynversameling, alles wyne van die plaaslike Overberg-wynlande wat teen baie billike pryse verkoop word.

De Hoop is oos van Bredasdorp – ongeveer 260 km van Kaapstad af. Die laaste 50 km van die roete is ’n grondpad.

Kontak:
Vir besprekings: +27 (0)21 422 4522
E-pos: info@dehoopcollection.co.za
www.dehoopcollection.com


Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *

2 thoughts on “De Hoop: Luukse selfsorg tussen die fynbos