Cathedral-piek is een van die juwele van die Drakensberge, maar vir sommige is dit hoe jy daar kom wat saakmaak. Jana du Plessis is geneig om die lang pad te kies en was nog nooit spyt nie.

Die Drakensberge

Die Drakensberge van Mike’s pass se kant af. Foto: PG de Jonge

Die Drakensberge is meer as 200 miljoen jaar oud.  As ’n mens jou voete op die antieke basalt plant voel jy geanker, standvastig, gevestig.  Om tussen hemel en aarde op die rant van ’n krans en op die grens van ’n land te stap, is ’n gevoel wat selde ervaar word en nooit vergeet word nie.

Dag 1

Didima-kampterrein tot by Orrelpype-pas 

Staptog

Reg aan die begin van die staptog. Cathedral-piek is regs in die agtergrond. Foto: PG de Jonge

Ons staptog begin rondom middernag in die Cathedral Peak-vallei, by Didima se kampterrein.  Die meeste van ons groep kon eers ná werk Donderdag uit Gauteng wegkom, en ná ses ure in die paasverkeer was almal ’n bietjie voos.  Dit was ’n kwessie van: Tente op. Bed toe.

Die Vrydagoggend is ons al 06:00 wakker en koffie is eerste gebrou.  Op ’n perfekte herfsdag in die berge toring Cathedral-piek bo ons uit.  Teen die tyd wat ons in die pad val is die son al hoog.

Daar is min haas so aan die begin van ’n staptog – duidelik weet ons nog nie wat op ons wag nie.  Aan die voet van Mike’s pass ontmoet ons die laaste twee lede van die groep, Francois en Stephan.

Hulle het na ’n nag se gefuif eers 03:00 uit Pretoria weggekom en lyk maar broos in die oggendson.  Stephan se hond het saamgery en word suutjies deel van die groep.

Tussen 24 mense sal die wildbewaarders mos nou nie ’n hond raaksien nie, né?

Halfpad teen die pas op word ons ingejaag deur ’n bakkie vol wildbewaarders met groot gewere. Hulle ruik lont (of dalk hond). Stephan en Hond is skoonveld. Hulle het stilweg verdwyn toe hulle die stofwolk gewaar, en ons pleit onskuld.

“’n Hond? Regtig? Nee meneer, nooit gesien nie . . . kannie glo iemand sal ’n hond  hier probeer op bring nie.”  Stephan draai toe maar terug en val in die pad Pretoria toe.  Ses ure se ry vir ’n halfuur se staptoer.

Vir die res van die groep word Mike’s Pass se stofpad al langer.  Kort voor lank draai 2 om en besluit dat 4 dae in die berge dalk minder aanloklik klink as 4 dae in die vallei.

Francois stop vir ’n middagslapie in ’n bouval langs die pad om sy babelas te laat bedaar, en die krimpende groep pak die steil, steil bult aan die bopunt van die pas aan.  Dit is nou al skuins voor drie die middag en ons dag se roete het skaars begin.  Ek besef stilweg dat ons dalk nie vandag nog die bopunt van Orrelpype-pas gaan sien nie.

Mike's Pass

Die groot bult bo aan Mike’s pass. Foto: PG de Jonge

 

Op koers

Op pad na Orrelpype-pas. Foto: PG de Jonge

Kort voor sononder gewaar ons ’n piepklein waterstroompie wat drup-drup onder ’n rots verskyn.  Met die helfte van die groep meer as ’n uur agter die voorste stappers besluit ons om maar kamp op te slaan.  Dis nog ongeveer ’n halfuur se stap na die voet van die Orrelpype, maar dis ’n gevaarlike paadjie in die donker.  Met ons tente op en aandete afgesluk kruip ons in ons slaapsakke in.  Ons is voos.

Eerste kampplek

Die son kom op oor ons eerste kampplek. Foto: PG de Jonge

Dag 2

Orrelpype tot by Twins-pas

Vandag val ons vroeër in die pad.  Die orrelpype – reuse, ronde rotspilare – toring bo ons uit, en soos ons klim draai die Kransaasvoëls skielik onder in plaas van bo ons.  Met ’n laaste hyg bestyg ons die pas en ’n ander wêreld lê skielik voor ons.

Die Drakensberge

Orrelpype-pas. Kyk hoe klein is die mense. Foto: PG de Jonge

Ons is nou bo-op die Drakensberg-eskarp, met Lesotho se hooglande uitgestrek soos ’n feltkombers oor die skouers van die berg.  Ons is egter nou eers waar ons die vorige dag moes geëindig het en dis weer middagete-tyd.  Dit lyk al hoe meer asof ons ons roete ernstig sal moet aanpas – óf met 18 kg rugsakke begin draf.

Die hoogtepunt vir die dag is (letterlik) Cleft-piek.  Met ’n hoogte van 3277 m is dit ’n bielie van ’n bult.  Een vir een spartel ons uitasem tot by die klipstapel wat die hoogste punt merk en loer versigtig oor die rant van die krans.  Dis ongeveer ’n duisend meter se val tot onder in die vallei, met die imposante Column en Pyramid se pieke wat uitstyg aan die oorkant.  Aasvoëls sweef rustig  honderde meters onder ons verby.  Uitgeput en asemloos staan ons verslae, on top of the world.

Cleft-piek

Aan die einde van die wêreld. Bo-op Cleft-piek. Foto: PG de Jonge

Hier hou ons toervergadering.  Dis duidelik dat ons teen hierdie pas nooit ons dag se roete kan voltooi nie; die son hang al laag en dis nog ’n goeie 10 km se stap tot by ons beplande kampplek.  Ons besluit om die groep in twee te verdeel.  Die wat haastig is sal druk om by Twins-grot te kom, terwyl die stadiger groep in die vallei onder Cleft sal kamp en dan ’n korter roete sal uitstap.  Planne gemaak, verdeel ons gou die kos en spring weg.  Ons het nou ongeveer 2 uur se daglig om 10 km te stap, sonder ’n voetpad, met nog ’n groot piek tussen ons en Twins-grot.

’n Ysige wind steek op terwyl ons Die Olifant, ons laaste groot piek vir die dag, uitklim.  Die laatmiddagson verf die hooglande goud, en ’n paar wilde Basothoponies lig skaars hul koppe as ons verby draf.  Ons is oor die Olifant, maar die koue syfer deur ons velle soos ons in die Mlambonja-vallei afsak.  In die bo-lope van die Mlambonja-rivier is ’n piepklein stroompie wat bedees oor klipplate kabbel en ons roep halt.  Die son het reeds verdwyn oor die leeubruin heuwels van Lesotho en die temperatuur daal vinnig.  By die eerste plat stuk aarde laat val ons ons rugsakke en sak neer langs die stroompie. Water is skaars bo-op die berg, en die bytende koue rivier is soos ’n seën na ’n lang dag op ons voete.

Mlambonja-vallei

Ons kamp in die Mlambonja-vallei in die Lesotho-hoogland. Foto: PG de Jonge

Die temperatuur val net na sononder tot -1 ̊ Celsius.  Die dou op ons tente verander in ’n glinsterende yskombers en ek sê ’n dankgebed vir my donsbaadjie en handskoene.  Ons sit styf om ons kampstofies vir die bietjie hitte wat onder die potte uit ontsnap en verwonder ons aan die magdom sterre.  Die fyn yskristalle op ons tente eggo die hemel se sterredoek en die grootse stilte van die hooglande weef ons vas.  Ons vergeet van die koue en asem die nag in.

Dag 3

Twins-pas tot by Cathedral-piek

Bell Traverse

Die pieke van die Bell Traverse. Foto: PG de Jonge

Vandag is ons kortste, maar mees indrukwekkende roete.  Die Bell Traverse is wêreldwyd bekend as een van die skouspelagtigste roetes wat bestaan.  ’n Paadjie wat ’n bobbejaan twee keer oor sal dink kronkel om dié reeks pieke wat Cathedral met die hoof eskarp verbind.  Die pieke se name is fabelagtig en beskrywend: Twins, the Mitre, the Chessmen, the Inner and Outer horn, the Bell en eindelik Cathedral.

Ons volg die klipbakens wat hier en daar die roete merk en probeer om nie te dink aan val nie.  Een tree mis beteken op baie plekke 500  m se val tot in die groen vallei ver, ver onder ons.

Gelukkig is die Drakensberge se graspolle stewig geanker. Menige stappers moes al ’n pol gryp in ’n frantiese poging om op die paadjie te bly, terwyl klein klippertjies vrolik oor die afgrond verdwyn.  Hierdie kant van die eskarp is ons terug in groen, welige Suid-Afrika en veldblomme loer oral tussen die grasse deur.

Dit is ’n merkwaardige dag se stap wat eindig met ’n laaste, vieslike opdraende, genaamd Bugger gulley, ’n laaste toets voordat ’n mens die hange van Cathedral-piek kan bestyg.

Bell Traverse

Die amper onsigbare paadjie op die Bell Traverse. Foto: PG de Jonge

Bugger gulley

Bugger gulley. Foto: PG de Jonge

Met ’n hoogte van 3005 m bo seespieël is Cathedral-piek een van die hoogste vrystaande pieke in die land.  Dit verg ’n klein bietjie klouter oor nat klippe om op die piek self te kom, maar dit is uit en uit die moeite werd.  Die bopunt van die piek is ’n kaal rotsblok met ’n 360 grade-uitsig oor die vlakte.  Die Brandwag en Duiwel se tand wink in die verte en Woodstok dam lê blink in die namiddagson.  ’n Lui aasvoël sweef rustig om ons, so naby dat ons sy vere kan tel.  Vir ’n paar oomblikke deel ons sy wêreld.  Dit voel soos ’n saluut van een hemelwese aan ’n ander.

Ons kamp die nag aan die voet van die piek, op die enigste kolletjie plat aarde in ’n wereld van skuinstes.  Ek skraap my moed bymekaar en bad vir die eerste keer in drie dae in die ysige stroompie.  Terwyl ek die bergstof afwas sak die son agter Cathedral weg en die hemelruim verkleur na pienk en goud. Ons tente lyk soos kleurvolle skilpadbesies wat vergader op die rant van die krans en ek hoor die lag en gesels van ons groep eggo teen die berghange agter my.

Dag 4

Cathedral-piek tot by Didima-kamp.

Die groot afdraende het eindelik aangebreek.  Ons laaste dag se stap is heeltemal te vinnig verby na my smaak.  ’n Mens kan draf-draf teen die groen heuwels onder Cathedral afrits en kort voor lank is ons terug in mensewereld.  Netjiese paadjies met bordjies en trappies wag ons in en bleek-gesonskermde toeriste sweet verby ons.  Na vier dae van absolute isolasie is dit amper ontstellend.  Moeg en vuil kom ons weer by Didima se kampterrein aan en na ’n lang, warm stort eindig ons die toer met yskoue bier en middagete by Didima-restaurant af.  Terwyl ons op die stoep sit en opkyk na die berge waar ons die laaste vier dae geleef het, wens ek ons kan dadelik teruggaan.  Ek troos my met die gedagte dat berge wat 200 miljoen jaar kon bly staan sekerlik volgende naweek nog daar sal wees om my te verwelkom.

Cathedral

Aan die voet van Cathedral-piek. Foto: PG de Jonge

Afdraende

Die lang afdraende huis toe. Foto: PG de Jonge

Stappers

Ons groep met die Bell in die agtergrond. Foto: PG de Jonge

Roetes

Die roetes wat die twee groepe in die Drakensberge gestap het. Foto: PG de Jonge


Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *

3 thoughts on “Dagboek van ’n stapper

  • Reply
    Riana du Plessis

    Klink na ‘n wonderlike stapervaring. Miskien is ek al te oud daarvoor, maar baie dankie aan Jana en Pieter wat my amper deel van die groep en die avontuur laat voel het. Julle is beslis ‘n besondere span.