Die Defender beur vorentoe deur die dik, oneweredige sand. Binnekant word Carla Lewis-Balden se tandestopsels omtrent losgeskud deur die slegte pad.

 

Dis September en dis dróóg in Botwana. Donkies en beeste staan lusteloos in die warm son, met ribbes soos xylofone.

Ons is op pad na die Matswere-hek, die poort na die Sentraal-Kalahari Nasionale Park. Die sand het omtrent dieselfde tekstuur as droë sement. Dit dring deur elke oop gat in jou lyf; dit koek in jou neusgate, irriteer jou oë en krap jou verhemelte.

Ek begin Chris Rea se “Road to Hell” neurie. Ek het myself voorberei vir slegte paaie, maar die ongenaakbare landskap, met hittegolwe wat van die pad af glinster is van die mees verlate plekke wat ek al in my lewe besoek het.
Dit is egter een van die redes waarom ek nog altyd die Sentraal-Kalahari wou besoek. Ek het al verskeie kere die papirus-kanale van die Okavango Delta verken en onder die mopani- en kiaatwoude van Chobe en Moremi gekamp.

Die keer was ek opsoek na minimalistiese landskappe en uitgestrekte horisonne. Ek wou die befaamde stowwerige sonsondergange beleef, gevolg deur helder sterrenagte.

kalahari21

Dan is daar ook nog die legendariese swartbaard-leeus wat om mens se tent rondsluip, om nie eers te praat van die gesonde bevolking ratels in die park nie.

Vir die volgende drie dae bly ons by die Kalahari Plains Camp van Wilderness Safari’s, wat in die noord-oostelike gedeelte van die kamp geleë is. Binne in die park is daar darem ’n bietjie meer plantegroei, maar alles is steeds baie vaal. Witgatte en sekelbosse flits verby, hul blare verrineweer deur die droogte. Die enigste kleur wat ons so nou en dan sien is die lemmetjiegroen vere van ’n klein byevretertjie of die skarlakenrooi van ’n rooiborslaksman.

Kalahari Plains is ongeveer nog twee ure se ry vanaf Matswere-hek, maar wanneer jy eindelik daar uitkom, is dit soos om ’n lugspieëling in die woestyn te sien.

Hoewel ek van die bos en natuur hou, bly ek steeds ’n aanhanger van moderne geriewe soos warm storte en fynproewerskos. By Kalahari Plains is jy steeds in die middel van die aksie, maar in die aand slaap jy in ’n luukse safaritent, met ’n spoeltoilet en al die geriewe wat die lewe net so ’n klein bietjie makliker maak.
Elke tent het ’n platform waar jy buite onder die Kalahari-sterrehemel kan slaap. Wanneer dit by uitsig kom, kan ’n mens heeldag net op jou tent se dek sit en na die horison staar. Die kamp is aan die oewer van Big Pan geleë. Hier en daar word die leegheid deur klein elandtjies van kameeldoringbome beklemtoon. Die uitsig is omtrent Rescue Remedy vir die siel.

Kalahari_2012-06-38Die eerste wildsrit begin sommer met ’n hoogtepunt. Die gids, Rogers Kesiefswe vertel dat die paar stowwerige voetspore in die pad vars is. Daar is leeus naby. Dan sien ons die eerste een, ’n jong vuilbaard wat uitgestrek onder ’n doringboom lê. Dan kom daar drie wyfies uit die bosse uit en uiteindelik, ‘n befaamde swart Kalahari-maanhaar.

Ons vier ons eerste besigtiging met skemerkelkies op Big Pan en ek ervaar ook my eerste Kalahari-sonsondergang -’n groot vlambol wat stadig agter die horison inkruip, terwyl die lug verkleur in skakerings van pienk, oranje, vlamrooi en later in ’n diep purperpers. Soos wat ons na die kamp terugry begin die eerste sterre te flonker.

Een van die opwindenste aktiwiteite wat Kalahari Plains aan gaste bied, is om op ’n platform onder die sterre te slaap. Hulle bou vir jou ’n buitelug krismisbed en gee vir jou ’n lugtoeter, sou jy bedreig voel. Daar is nie ’n beter manier om die klanke van die bos te ervaar nie.

MM_Kalahari_Plains_April_2012_03

Vergeet van tropiese eilande of Europese stede. As ek weer my wittebrood kan oorhê, hou ek dit net hier by Kalahari Plains. Daar is min dinge so opwindend en romanties as om onder die Afrika-sterrehemel te lê, terwyl leeus brul, en die gekekkel van hiënas jou die ritteltits gee.

Een van die Amerikaanse gaste haak egter af: “Those big horny bastard birds lurking outside of my tent . . . ”.  Ons was uit die veld geslaan, tot ons agterkom hy praat van ’n Kori Bustard, oftewel ’n gompou.

Dit was lente in die Kalahari, maar daar was nogal ’n byt in die lug, veral toe ons 5:30 begin vir ons vroegoggend-wildsrit begin regmaak. Nie ver van die kamp af nie kan ek nog ’n eerste vir my aftiek, die keer ’n ratel. Die rakker is besig om skerpioene uit te grawe. Ek het nog altyd aan die diertjies gedink as die Chuck Norrisse van die bos. Hulle slaap ’n pofadderbyt af asof dit net ’n slegte babelas is en dink nie twee keer daaraan om leeus of luiperds aan te vat nie. Dié een kyk ons vies aan, voordat hy in die bosse verdwyn.

Foto: Dana Allen

Foto: Dana Allen

Teen die tyd wat ons Deception Pan bereik is ons neuse rooi van die koue. Deception Pan is iets aan te aanskou. As gevolg van een of ander vreemde optiese illusie lyk die pan blou, asof dit met water opgevul is. By nadere inspeksie is dit kurkdroog, vandaar die naam “Deception Pan”. Benewens ’n gompou wat in die pan rondkrap is daar geen teken van lewe nie. Die wind blaas teen die Landrover en ons almal soek skuiling agter die voertuig. Dit is seker een van die mees verlate, troostelose plekke wat ek al in my lewe besoek het.

Die middag vertrek ons op ’n staptog saam met Xukuri Kekailwe, een van die plaaslike Boesmans wat by die kamp werk.

Xukuri leer ons Kalahari-oorlewing 101: Hoe om ’n wip vir voëls te stel, watter bome gee die meeste skadu en gaan jou volstruiseier-waterbottel die koelste hou (witgatte werk die beste) en dan natuurlik . . . Boesman-etiket. Reël 1: Jy steel nooit ’n ander man se volstruiseier-waterbottel nie. Dis glo een van die ongeskikste dinge wat jy in die bos kán doen.

kalahari collage

Ons vorder na skuilings. Dit is glo ’n baie goeie idee om jou skuiling te versier met die anale kliere en derms van ’n ratel. Dit hou glo ander roofdiere weg, wat daaraan dink om jou kos te steel en jag op jou familie probeer maak.

Xukuri wys ook sy sak waarin hy sy pyl-en-boog, volstruiseier en ander jagtoerustig hou. Dit is gemaak van die sagste steenbokleer  met klein hartvorminge knopies van volstruiseierdop wat daarop vasgewerk is. Een of ander jong Hollywood-aktrise sal heel waarskynlik haar voortande gee om met die sak aan haar arm te spog. Vergeet van Gucci of Louis Vuitton, die San-sak is my nuwe gunsteling bykomstigheid.

Daardie aand eet ons weer onder die sterre saam met Junior Paul, wat onlangs teruggekeer het van Disneyworld, Orlando, waar hy by The Animal Kingdom gewerk het.

kalahari25

“Hulle het dié probeer herskep in Amerika.” Hy beduie na die doringbome, die gemsbokke wat by die watergat suip en die laaste sonstrale wat agter die horison verdwyn.
“Jy kan Afrika nie namaak nie. Dis waarom ek teruggekom het. Ek het ’n goeie salaris verdien, maar daardie Amerikaners…eish. Ek het net so baie terugverlang.”

Ek dink terug aan die afgelope paar dae, die stowwerige sonsondergange, Kalahari-oggende wat soos rooi stof ruik, springbokke wat op die panne pronk.

kalahari15

Die pad was hel . . . maar ek sal nóg duisende kilometers trotseer om landskappe soos dié te ervaar.

Soos Junior sê: ’n Mens kan Afrika nie namaak nie.

Sou jy wil gaan

As jy ’n 4×4 het, kan jy na Kalahari Plains toe ry. Jy kan oorslaap by die Khama Rhino Sanctuary in Serowe (www.khamarhinosanctuary.org) of by die Xere Lodge in Rakops (ons het deur safarinow.com) bespreek. Rakops is die laaste dorpie voor die Matswere gate. Albei plekke is skoon en bied waarde vir geld sou jy wil oornag.

Die pad na die Matsewere-hek is sleg. Jou 4×4 moet liefs ’n ewenaarslot hê en redelik hoog van die grond wees, anders gaan die middelmannetjie hom karnuffel. In die droë seisoen gaan jy stoei deur dik sand, terwyl die nat seisoen weer moddergate beteken.

Kalahari Plains is in ’n semi-woestynarea en probeer soveel as moontlik water spaar. Gebottelde water in plastiekbottels word ontmoedig. Elke gas kry ’n waterbottel wat hulle kan volmaak. Koue water uit die boorgat is die hele tyd vrylik beskikbaar.

* Vir meer inligting oor Kalahari Plains Camp en Wilderness Safaris besoek www.wilderness-safaris.com. Om te bespreek, bel 011 807 1800 of stuur ’n e-pos na enquiry@wilderness.co.za.
* Wilderness Safaris het ’n spesiale lojaliteitsprogram, The Wilderness Safaris Residents Programme, van stapel gestuur wat eksklusief op Suid-Afrikaners en die inwoners van uitgesoekte Afrika-lande gemik is. Jy kan afslag van tot 80% by uitgesoekte Wilderness-kampe kry as jy deel is van die progam.Vir nadere besonderhede oor dié program, stuur ’n e-pos na residents@wilderness.co.za; SMS “safari” gevolg deur jou e-pos-adres na 34007 of besoek die webwerf www.wilderness-residents.co.za.

’n Familielid wat deel is van die program, het gesorg dat ons groep ’n tarief van R1500 per persoon betaal. Dit het verblyf, drie etes per dag, twee wildsaktiwiteite per dag en alle drankies ingesluit.

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *