Wat is dit met ablusieblokke wat lyk asof dit die rolprentstel van Arachnophobe kan wees, wonder Carla Lewis-Balden.

As ek ’n entomoloog was, sou ek al my navorsing in kampterreine se ablusiegeriewe gedoen het. Daar is amper altyd vyf tot tien verskillende spesies insekte wat teen die plafon, in hoekies of selfs in die toilet se stelsel wegkruip.

Motte so groot soos koffiepierings hang teen die mure. In die hoeke sit spinnekoppe wat lyk asof hulle ’n bees met een byt kan uitsit. Dan is daar ook nog die hottentotgotte met dieselfde koue blik in hul kraalogies as Hannibal Lector . . . asof hulle jou vir brekvis kan opvreet. Met ’n bottel Chianti en fava-bone as bykosse, natuurlik.

47884186

Dit alles genoeg om ’n mens die ritteltits te gee.

Wie kan nou in vrede stort of toilet toe gaan as jy weet daar is ’n gogga wat wag om enige tyd ’n aanval op jou waardigheid te maak?

Tensy jy gelukkig genoeg is om een van daardie spoggerige boskaravane te hê wat met ’n en-suite-badkamer kom, of genoeg geld om in ’n lodge te bly, is ablusiegeriewe gewone sterflikes se voorland wanneer daar gekamp word.

Sommige is heel skaflik, ander se stortvloere is petribakkies gevul met genoeg mikro-organismes wat vir die wetenskaplike Alexander Fleming opgewonde sal maak. Die grillerigheid kan jy darem teëwerk met ’n paar ou plakkies en ’n spuitbottel vol Jik.

Vir voetswamme sien ek nog kans. Dit is gewoonlik die groter organismes wat geneig is om mens te treiter.

“Man, hulle is banger vir jou as jy vir hulle,” paai my glad nie.

Ek het al gesien hoe kyk ’n hottentotsgot na my as ek hom vriendelik wil verwyder, sodat ek my aand-’ablusies’ kan voortsit. Sommige mense verwys eufemisties na die goggas as ‘bidsprinkane’ maar moenie dat dit jou fnuik nie. Die kyk in daardie kalant se oë is suiwer psigopaat – eerder as wyse heilige.

Ek het iewers gelees dat as dié insekte so groot soos wolfhonde was, die mensdom in gevaar sou wees. Hulle skeur glo heel eerste hul slagoffer se kop af en is een van die natuur se wreedste en effektiefste jagters. Die wyfies vreet hulle wederhelftes vir nagereg op nadat hulle gepaar het.

Al dié feite flits gewoonlik deur my kop, terwyl Ta my met daardie uitpeul-ogies van hom beloer. Die ergste is wanneer hulle hul koppie begin draai soos daardie besete kind in The Exorcist. En dan, net as jy dink jy is klaar en vir die toiletpapier reik, besluit die makker om hom op ’n ander plek tuis te maak. Ewe skielik weet jy nie waarheen hy verdwyn het nie. ’n  Oervrees pak jou en jy wag net om die stekelrige pootjies op jou nek te voel.

c53abb8e0bb7d9084aa2ed5b78f72e68f35baf49660b5889eaab065b27f30b4c

Storte is ook hokkies van terreur. Draai die stort oop en ewe skielik sak die hele ablusieblok se goggabevolking op jou toe, met duiktoertjies wat die Rooi Baron sal beïndruk. Soms skuil daar ook ’n padda of twee, maar hulle het nie vlerke nie en kan maklik verjaag word. Paddas skarrel darem ook nie. Jy kan hom redelik goed dophou en sy bewegings volg. Hulle is nie bekend vir hul verdwyntoertjies nie. Met ’n padda weet jy gewoonlik waar jy staan.

Ek verstaan ook nie mense wat staatmaak op flou flitsies, of die wispelturige kragopwekker van party ablusiegeriewe nie. Ek soek omtrent ’n spreilig wanneer ek gaan stort. ’n Geskarrel in die hoek in die skemerte van ’n halfpap LED-lamp het presies dieselfde effek op my as ’n gruwelrolprent.

Die regisseur terg jou mos eers aan die begin met met ’n enkele blik van die monsterasie. Hy is ’n vae flits in die hoek van die skerm, of ’n stert wat onder die bed verdwyn. As ek beweging iewers sien, maar nie die gogga kan identifiseer nie, hol my verbeelding klaar met my weg. Dit was miskien net ’n kriek wat oor die vloer gespring het, maar in my geestesoog het ek reeds die liefdeskind van ’n rooi roman-spinnekop en ’n Parktown prawn opgetower. Daarom verkies ek ’n helder lig. Jy moet die vyand kan sien.

47884430Elke streek het ook maar sy gewone verdagtes, maar as ’n reël kan jy maar weet, uiterse klimate lewer uiterse goggas op.

In hoërskoolbiologie het ons geleer hoe meer helderkleurig gogga, hoe giftiger is hy.

In die vogtige kuswoude van Noordelike Natal kry jy te doen met die goue wawielspinnekop, ’n tamaai swart, borriegeel en posbusrooi spinnekop. Hulle is oral, hulle hang aan die boomtakke en telefoonlyne, skuil in die badkamers, spin ’n web om jou tent.

Hoewel dié spinnekoppe skadeloos is vir mense, (die helder kleure is glo daar om vir voëls te waarsku die outjies proe sleg) het ek steeds nie ’n begeerte om ’n  storthokkie met een te deel nie.

In in die Kglagadi en Sentraal-Kalahari is die kanse goed dat jy ’n Kalahari-koringkriek, grootboet van die Parktown prawn sal teëkom. Dié meneer het stekels op sy penne en pla jy hom, spuit hy ’n dik, swart vloeistof uit.

Asof dit nie erg genoeg is nie, sal hulle enige iets eet wat hul pad kruis, insluitend hul eie spesie, klein voëlkuikens en selfs skerpioene.

Die eer van Koning van die Ritteltits gaan egter aan die sonspinnekop, rooi roman, haarskeerspinnekop, noem hom wat jy wil. Dit is seker die enigste ding waarvoor Chuck Norris wel bang is. Die Engelse soldate uit die Tweede Wêreldoorlog wat in Egipte geveg het, het hulle Jerrymanders genoem en hulle teen skerpioene laat baklei. Die skerpioene het dikwels tweede gekom.

47884772

Die outjie lyk asof hy uit die sewende sirkel van die hel ontsnap het. Hy is hariger as Burt Reynolds se bolip en het kake soos knyptang. Party word so groot soos muise.

Ek het onwetend in Mosambiek ’n tent met een gedeel. Half aan die slaap het ek ’n kriewel op my hand gevoel, sonder om te dink dit weggeklap en ‘n duidelike “doef” teen die tentkanvas gehoor. Toe’s ek wawyd-wakker.

Die energiebesparende LED-lampie was na ’n week maar flou en toe ek die “objek” van nader beskou, kon ek net iets met baie bene, min of meer so groot soos my hand uitmaak. Versterkings is ingeroep. Sterkter flitsligte bevestig dat dit wel ’n  haarskeerspinnekop is. Groot mans het soos meisies gegil en brandewyn is sommer uit die bottel gedrink om die senuwees te kalmeer.

Ten spyte daarvan dat ek vas glo dat party goggas my vir brekfis wil opvreet, is ek min of meer ’n pasifis. Leef en laat leef. Ek probeer altyd maar die goed verwyder met ’n plastiekbakkie en ’n stukkie papier. Die rooi roman was egter nie so gelukkig nie. Niemand wou naby genoeg aan hom kom om ’n bakkie oor hom te gooi nie. Op die ou end het die arme ding sy moses teëgekom, ’n nommer 11-grootte Caterpillar-stewel. Hy het ook nie maklik opgegee nie. Die eerste hou het hom net vies gemaak, die tweede was genoeg om hom uit te sit.

Die derde was die coup de grace.

 

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *