Cusco is die spilpunt waarom Peru se toerisme na die verlore stad van Macchu Picchu en die Urubumba Vallei draai. Carla Lewis-Balden verken dit saam met Contiki Holidays.

Cusco is ’n stad van lae. Jy ervaar dit wanneer jy die keisteenstegies van die antieke stad verken. Want tussen die post-Colombiaanse argitektuur wat die Spanjaarde bo-op die Inka-stad gebou het, is daar orals tekens van die Inkas se bo-natuurlike bouvernuf. Geen mens kon met sulke presisie, sulke perfeksie gebou het nie, verkondig die samesweringsprofete op Discovery Channel se Ancient Aliens. Dis wesens van die buitenste ruimte! Dis gode! Dis die Inka-gode wat eintlik wesens van die buitenste ruimtes is!

Die tempel van Qorikancha, wat die Spanjaarde in 'n kerk omskep het.

Die tempel van Qorikancha, wat die Spanjaarde in ‘n kerk omskep het.

Mens is geneig om dit alles met ’n knippie sout op te neem, totdat jy werklik met die presisie en perfeksie van die Inkas se bouvernuf gekonfronteer word.
 Dan begin jy wonder. Baie van die Inkas se geboue was onvernietigbaar, juis as gevolg van die uitstekende steenwerk soos klippe wat gesny is om perfek soos legkaartstukke inmekaar in te pas. Party van die steenwerk lyk asof dit met lasers gesny is. Groot aardbewings, een in die 17de eeu en een in die 1950’s, het feitlik niks skade aan die steenwerk gedoen nie.

Die steenwerk is orals te sien in Cuzco waarvan daar uitstekende voorbeelde by die kerk van Santo Domingo, of Qorikancha, is.

Die Iglesia de la Compania de Jesus in Cusco.

Die Iglesia de la Compania de Jesus in Cusco.

Die kerk was voorheen die belangrikste tempel in Cuzco en het bekend gestaan as Inti Cancha, wat Tempel van die Son beteken. Ons Contiki gids, Gabriella Puma Sallo vertel dat die hele tempel bedek was met goud wat die Spanjaarde later vir altare in hul Katolieke kerke in Cuzco gebruik het. Baie daarvan is ook teruggestuur Spanje toe. Die tempel is afgebreek en die gebou in ’n kerk verander.

Die stad was die kroon van die Inka-ryk voordat die Spanjaarde gewere, pokke en die Katolieke geloof na die stad gebring het.

Die Spaanse conquistadors, onder leiding van Francisco Pizarro, het die stad in 1534 oorgeneem, al die Inka-tempels wat hulle kon van hul goud gestroop, vernietig en kerke en ander religieuse geboue bo-op die Inkas se fondasies gebou. Van hul eskapades laat Jan van Riebeeck en sy makkers soos ware filantrope lyk.

Ten spyte van die geskiedenis van bloed, diefstal en plundery van meeste van die kerke en ander geboue in Cuzco, kan ’n mens nie help om die stad te bewonder nie.

Cusco1

Gaan verken die nou keisteenstegies om die stad van nader te sien.

’n Mens kan veral ure by die Plaza de Armas, ’n stadsplein, bestee en jou verkyk aan die Santo Domingo-katedraal en die Kerk van la Compañía wat in Barok- en Gotiese style gebou is. Of luister na jou Contiki-gids, wat jou na al die gewildste kroeë en salsaklubs kan verwys.

’n Besoek aan die Santo Domingo-katedraal mag nie gemis word nie, al is dit net om ’n skildery van die Cuzco-kunsskool se “Laaste Maaltyd” te sien. 
Peru het my bekoor met sy trotse herkoms wat steeds seëvier, ten spyte van al die geplundery, hul eie inheemse geloof wat verbaster is met die Katolieke geloof en Europese kunsstyle wat op hulle afgedwing is. 

Hulle het steeds maniere gevind om hul kultuur op die mees onverwagste plekke in te sluip. Nêrens is dit meer duidelik as in die “Laaste Maaltyd,” by die Santo Domingo-katedraal nie.

Pleks van die brood wat in die tradisionele Europese meesters se weergawe voorkom, smul Jesus en sy 12 dissipels in die Peruaanse weergawe aan marmot en aartappels.

Bly hier

Die hotel Tupac Yupanqui bied goeie waarde vir geld.

Die hotel Tupac Yupanqui bied goeie waarde vir geld.

Ons het gebly by die Tupac Yupanqui Palace, in die middel van die stad. ’n Lekker ding van Contiki is dat hulle unieke verblyf naby die toeristeaantrekkings bied aan reisigers. Die mure van dié hotel bestaan uit Inka-fondasies en was voorheen ’n herehuis waar Spaanse adellikes gewoon het. Persoonlik dink ek dit lyk soos daardie hotelle in een of ander Latyns-Amerikaanse land wat ’n mens in die rolprente sien, die soort waar CIA-agente wegkruip, coups beplan word en dwelmtransaksies beklink word. 
Van buite lyk die plek nie na veel nie maar as jy eers binne is, is daar ’n binneplein met ’n spuitfontein en eksotiese plante in terracotta-potte. My kamer het helderblou houtdeure wat oopmaak op ’n helderblou houtbalkon en kyk uit op ’n nou keisteen-stegie.

Eet dit

Geroosterde Cuy, oftewel Marmot.

Geroosterde Cuy, oftewel Marmot.

Een van die vreemste ervarings was ’n maaltyd by ’n “cuy”-restaurant. Avontuurlustige smulpape kan die geroosterde cuy, oftewel marmot, probeer, mits hulle nie omgee om iets te eet wat soos Snippie die hamster of ’n marmot uit hul kindertyd lyk nie. Die dis word gerooster en dan soos ’n speenvarkie bedien, kompleet met ’n soetrissie in sy mond!
As jy opgewonde raak oor geroosterde marmot nie, moet jy ceviche probeer. Dit was my gunsteling Peruaanse dis. Jy kan dit as die Rolls Royce-weergawe van sashimi kan beskryf. Vars, rou vis word gemarineer in ’n lemmetjiesap- en brandrissiesous en daarna met koljander garneer.

Daguitstappies

Vryf ’n Alpakka: Net buite Cuzco is daar die Awana Kancha-alpakkaplaas wat met dié diere teel. Alpakkas is familie van kamele en llamas met sagte, vriendelike geaardhede. Die gids by die plaas maan ons dat hulle somtyds spoeg, maar die alpakkas by die plaas was meer geïnteresseerd in die kruiebossies wat ons toergroep as snoephappies uitgedeel het. ’n Krap agter hul oortjies ontlok ’n lae, neurie-agtige geluid wat alpakkas gewoonlik maak wanneer hulle gelukkig is. 

Die Suri-subspesie, waarmee daar ook by Awana Kancha geboer word, lyk soos die Bob Marley-weergawe van Alpacas met hul lang Rasta-lokke.

Alpaca

Alpakkas by die Awana Kancha-alpakkaplaas.

Besoek die reüines: Die Pisac Inka-ruïnes kyk uit oor die heilige Urubamba-vallei en dateer uit die 1400’s. Alhoewel die ruïnes nie so gewild is soos Machu Picchu nie, is dit steeds ’n besoek werd. Ons toergroep is die enigste toeriste by die ruïnes en ’n mens kry hier die geleentheid om die amper gewyde atmosfeer wat by die Inka-ruïnes en nedersettings heers, in te drink sonder die vertrapping wat ek later by Machu Picchu teëkom. Die uitsigte oor die Urubamba- vallei is jou eie om by te talm. 

Wat die ruïnes egter so merkwaardig maak, is die terasse wat die Inkas gebou het vir landbou, ’n praktyk wat vandag nog in gebruik is. Die terasse het hulle toegelaat om meer grondgebied te benut teen die steil heuwels om hul gewasse te verbou.

Die Pisac-bouvalle net buite Cusco.

Die Pisac-bouvalle net buite Cusco.

#NoRegrets met Contiki

Contiki se Suid-Amerikaanse reisplanne sluit antieke stede soos Machu Picchu in, staptogte in die Amasone-reënwoud, partytjies in Rio de Janeiro, uitstappies na die Iguassu-valle, tango in Buenos Aires en vele meer in.

Contiki het hul reisplanne so ontwerp sodat daar vir kleiner groepe voorsiening gemaak word, reistyd verminder word deur te vlieg na sommige bestemmings, sodat daar meer tyd vir kyk, kuier en besoeke aan toeristeaantreklikhede is. 

Die verblyf tydens die toer was uitmuntend, jy kry regtig ’n gevoel vir die land omdat daar in plaaslike gastehuise en klein hotelletjies oorgebly word. Die toerbestuurders en gidse is ook plaaslike inwoners, of bly al vir jare in Suid-Amerika en jy word verras deur ’n plaaslike juweeltjie, waarvan ander reisigers nie weet nie.

 Reisigers kan ook kies uit ’n groot verskeidenheid toere, wat van agt dae strek, vir diegene wat nie baie tyd op hul hande het nie tot die 24 dae-Adventurer.

Contiki Holidays het die kostes van Carla Lewis-Balden se toer gedra. My reisplan is onderhewig aan veranderings rakende verblyf en besienswaardighede.

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *