‘n Vinnige stop by Creation wynplaas in die Hemel-en-Aarde-vallei is ’n mite. Of dit vereis baie selfbeheersing, meen Yolandi Groenewald

Ongelukkig was selfbeheersing nog nooit een van my sterkpunte nie, veral nie wanneer ek losgelaat word in die epikuristiese wêreld van Creation nie. Net meer as tien jaar terug het daar nog skape gewei by die Creation-plaas, sowat ’n halfuur se ry van Hermanus op die Caledon-pad. Nou is die sowat 40 hektaar van Creation bedek met wingerde wat omtrent 300 000 bottels ’n jaar lewer.

Creation1

Die Creation-wynplaas is geleë in die Hemel-en-Aarde-vallei.

Wynkenners raak liries oor die wyn en kom van heinde en verre na die ietwat uit–die-pad plaas. Jy kom nie sommer per toeval op Creation af nie.Omtrent so 10 km voor die wynplaas hou die teerpad op. Padwerkers is hard besig om te teer, maar dis nou al glo die storie vir die afgelope paar jaar. Die locals het al opgegee dat die pad ooit gaan klaar kom. Die plaas self is lieflik. Ons neem foto’s om elke draai. En JC Martin, eienaar en wynmaker by Creation het gesorg dat sy proelokaal inpas by die prag van die plaas. Maar dis die proemenu onder die bekwame Creation-sjef Warwick Taylor wat die wynplaas se styl van wyntoerisme laat uitstaan. Elkeen van Creation se wyne het ’n perfekte pasmaat wat Taylor uitgesoek het. Die happies is fantasties en saam met die wyn wals die kos saam op jou bord.

Die wynplaas is 'n toevlugsoord vir smulpape en epikuriste.

Die wynplaas is ‘n toevlugsoord vir smulpape en epikuriste.

Die sjokolade -en wynproe is die toppunt van epikurisme. Die sjokolade is ook spesiaal vir Creation vervaardig en smelt dadelik die oomblik wanneer jy dit in jou mond sit. Gewone sjokolade en wyn klink na goeie pasmaats, maar is in die werkliheid nie sulke goeie vriende nie. Dit is hoekom Creation ’n spesiale sjef gekry het om ontwerpersjokolade spesiaal vir hul wyn te vervaardig. Elke sjokolade het ook ’n perfekte wynpasmaat. Jy kan na die tyd ’n blok koop om huistoe te vat saam met ’n gepaste bottel wyn. Creation se Pinot Noir word byvoorbeeld gepaar saam met ’n sjokolademengsel van jasmyn, bloubessie en kardamon. Creation maak seker daar is iets vir almal op die plaas, selfs swanger vroue en geheelonthouers het hul eie proe. Moenie ook nie die kroos by die huis los nie. Behalwe vir ’n eersteklas speelkamer waarin hulle hulself vir ure kan verloor, kan hulle ook sommer ook ’n kinderproe inwerk. Pleks van wyn, kry die telg melk en vrugtesap saam met hulle brokkies, wat ’n viskoekie a la Taylor insluit. Swanger vroue se proehappies word weer perfek saam met tee gepas. Jy kry agt luukse tees om te proe. Creation se tee, TWG kom uit Singapoer en is ook deur die sjef bestudeer om die perfekte canapé te skep. Die aromas is geurig. Wilde bessies, klapper, anys en ja, koffiegeure swerf rond in die koppie. Daar is selfs ’n roostee van Bermuda.

creation3 Moenie die kroos by die huis los nie. Hulle kan ook 'n kosparing doen, saam met melk en vrugtesap.

Moenie die kroos by die huis los nie. Hulle kan ook ‘n kosparing doen, saam met melk en vrugtesap.

Dis egter die canapé -en wynproemenu wat die besliste gunsteling onder Creation se aanhangers is. As jy ’n vegetariër of selfs ’n Tim Noakes-dissipel is, sal Creation ook die spyskaart vir jou aanpas. Die Sauvingon Blanc gaan saam met ’n pynappel -en basielkruid-gazpacho, versier met ’n kammossel. Die Sauvignon Blanc Semillion se pasmaat is ’n parmesaankaaskoekie bedien met mozzarellakaasbolletjies in pesto en songedroogde tamaties. Die wyn se ligte souterige geur saam met die sterker tropiese geure laat jou dink aan vakansies op eksotiese strande. Die Chardonnay word bedien saam met ’n avokado en ’n garnaal, bedek in vanielje -en sitrusmayonnaise. Die Hemel-en-Aarde-vallei is Pinot Noir-wêreld en Creation se weergawe van die wispelturige druif dans saam met ‘n beet, bokmelkkaas -en lensiesalsa. Dié Pinot Noir is een van die lekkerstes wat ek al geproe het uit Suid-Afrika en spog ook met die nodige pryse om dit te bewys. Die blomkool -en gorgonzolasop wat met suurdeeg kroutons bedien word was nommerpas vir die Merlot. Die Bordeaux-versnit se kosmaat was ’n springbokhappie wat net skrik gemaak is oor die kole, bedien saam met sampioene van die plaaslike vallei. Die Syrah se Asiatiese varkwonton met Darjeelingtee-puree was ook nommerpas. Een van die wynplase se gewildste versnitte is die Syrah Grenach. Die wyn is so lekker, jy sal liters daarvan drink as jy jouself nie keer nie. Daar is ligte geure van olywe en peper in die wyn, met ’n tikkie rokerigheid. Die veelsydigheid van die Syrah Grenache laat hom goed saamwerk met die meeste disse, maar die speserye van die eend confit-happie saam met ’n Maleisieses aioli het perfek saamgewerk.

Die kos -en wynparing, saam met verskillende happies is 'n hoogtepunt.

Die kos -en wynparing, saam met verskillende happies is ‘n hoogtepunt.

y het ook die keuse om ‘n volle ete saam met ’n wyn te paar. Die Creation Syrah word hier saam met ’n gesmoorde varklies bedien. Die kos- en wynproe kos R125 per persoon en gaan jou omtrent ’n uur besig hou as jy dit reg doen. Die sjokoladeproe kos R75 per persoon en gaan jou ’n halfuur besig hou.

Ander aktiwiteite by Creation

Vat die pad: Trek jou tekkies aan en verken die plaas op voet saam met ’n gids. Ontdek so die geheime van Creation se wingerde, fynbos en voëllewe en sien eerstehands hoe Creation hul wyne aanmekaar sit. Speel wynmaker: Creation bied ook aan voornemende wynmakers die geleentheid om hulle eie Creation versnit te skep. Die aktitwiteit begin met ’n toer deur die kelder, ‘n proe en dan ’n lesing oor die kuns van hoe om wyn te meng. Jy word dan uitgedaag om self JC Martin se versnitte te verbeter.


Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *

One thought on “Creation: Laat daar wyn wees!