Ek is nie die wêreld se aktiefste persoon nie. Maar vir wyndrink en opdress is ek baie lief. Dit is waarom ek my tekkies sal afstof en in die kas grawe vir ‘n interessante kostuum vir die Cellar2Cellar Bergwedloop & Wynervaring.

Die wynwedloop vind op 6 September 2014 in die Stellenbosch-omgewing plaas. Basies is dit ‘n pretdraf tussen die prentjiemooi Paradyskloof-wingerde, met water (en wyn)-stoppe by deelnemende kelders. Die tema vanjaar is “Alice in Wonderland.”

"Power Rangers" in die wingerde by 'n vorige Cellar2Cellar-pretwedloop.

“Power Rangers” in die wingerde by ‘n vorige Cellar2Cellar-pretwedloop.

Die 12 kilometer-bergwedloop en wynervaring begin en eindig by Blaauwklippen, geleë op die R44 tussen Stellenbosch en Somerset-Wes en sluit agt wynplase in. By Blaauwklippen, Vriesenhof, Mont Marie, Dornier, Kleinood, Waterford, Stellenzicht en Stellenrust kan jy uitsoekwyne proe en peusel aan Portobello-kaas en Wedgewood-nougat om jou energievlakke konstant te hou. Waterford-wynlandgoed se gewilde sjokolade- en wynproe is ‘n moet op jou roete.

Daar is boonop opwindende pryse op die spel. Die bes geklede man en vrou sal elk letterlik hul “gewig in wyn” wen, met ‘n ekstra R2 500 kontantprys vir die mees treffende kostuum. Die wynervaring begin om 08h15 met ‘n trapsgewyse begintyd elke 15 minute tot 09:30 om ‘n luilekker, vrolike atmosfeer by die kelderproeë te verseker.

As jy egter ‘n meer ernstige atleet is en nie belangstel in pitstoppe by die wynplase nie, kan jy altyd aan die formele bergwedloop van van 12km of 10km deelneem. Dié wedloop begin effens vroeër om 08:00 met opwindende pryse van die deelnemende wynplase op die spel.

'n Seerowerpaartjie by die Dornier-wynlandgoed.

‘n Seerowerpaartjie by die Dornier-wynlandgoed.

Sou jy wyn koop by enige van die deelnemende plase, hoef jy ook nie bekommerd te wees om dit die hele pad saam met jou te piekel nie. Alle Wynervaring-deelnemers kan op hul roete wyn koop, wat by die eindpunt aan hulle besorg sal word.

Jy kan ook die telg saambring, aangesien daar ‘n crèche op die dag beskikbaar sal wees.Die nasorgfasiliteite wat spesiaal vir die dag gereël is, sal ouers toelaat om hul kinders by die wegspringpunt te los en weer by die eindstreep op te tel nadat hulle die sirkelroete voltooi het.

Die Wynervaring kos R315 (insluitende wynproeë). Die Bergwedloop sonder die wynproe kos R150 per persoon vir die 12km- en R190 vir die 20km-afstand. Om in te skryf stuur ‘n e-pos aan entries@iqela-events.co.za of besoek www.iqela-events.co.za.

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *