Musiekfeeste dóén goeters aan ’n mens se gemoed, skryf Hannes Myburgh ná ’n naweek by Bushfire, Swaziland se grootste musiekfees.

Colombia se LA-33

Colombia se LA-33 hou duisende feesgangers aan’t wieg. Foto: Hannes Myburgh

Kortstondig hou ons hande vas, ’n paar sekondes van ironiese hartseer solidariteit terwyl vrolike Salsa-ritmes oor die wiegende skare spoel in die wye Swazi-vallei.

Verlore liefdes, myne akkuut, hare ’n langdurige hopelose hoop, en die Latynse klanke wat terughunker na vergange tye.

Dan haas sy weer weg.

Musiekfeeste dóén goeters aan ’n mens se gemoed.

Die Spaanse hippies (wanneer het húlle tog die koninkrykie ontdek?) stap-stap-stap, stap-stap-stap in paartjies op maat van die musiek so tussen die skare deur in die groen, rooi en geel ligte te midde van suikerriet- en pynappelplantasies.

Op die verhoog tel ek 12 musikante in Colombia se LA-33-groep wat energiek dromme slaan, trompette blaas, sing en dans. Dis anderwêrelds – so gelukkig, asof die lewe heeltyd ’n fees is.

Waarom dan anders?

Die afgelope naweek het duisende by die Bushfire-kunstefees by die House on Fire-terrein in Swaziland saamgetrek. Die daggakoppies los ’n mens uit. Jy kry hulle altyd by die feeste (moenie lieg nie), maar hier is hulle minder. Die kinderhoekie se speelgoed en ’n reuse-springkasteel met toesighouers het die ouers se gewetes ook gesus.

In die dag wemel dit van radelose volwassenes wie se jong telge die wandelende hansworse of mombakkies op lang houtpote agterna sit.

Snags word die feesgangers jonger – reg vir ’n goeie tyd – en dit lewe by die klub-musiek amfiteater en rondom die bierstalletjies. Plaaslike brousel “Sibebe” (wat “ons drink” beteken) vloei vrylik.

Hier en daar loop ’n karakter en sy girl in tiervel-leeutaard, soos dit dié feeste betaam. Bushfire is nog rustig vergeleke met wat jy elders by ’n feesterrein raakloop.

Spaanse hippies

Spaanse hippies draai in ’n waas op die maat van salsa-musiek. Foto: Hannes Myburgh

’n Vreemde nuwigheid was die Spanjaarde en die aantal Amerikaners wat na die geleentheid opgeruk het. ’n Paar dosyn lede van die Peace Corps, jong Amerikaners wat regoor die wêreld as vrywilligers werk, is glo met ’n bus aangery.

Waar hóór die mense van dié klein land?

Ek word vertel, nee, ’n paar internasionale publikasies het Bushfire aangewys as ’n “leier” in die wêreld-musiekgenre.

Daar is iets vir almal in die familie wat ons world music noem –musiek van ander lande wat nie in die gewone rock of pop-boksies pas nie. Folk is dalk ’n verlangse nefie.

Suid-Afrika se bekende à capella-uitvoerproduk, Ladysmith Black Mambazo, en blues-sanger Dan Patlansky het ook die ritmes aangeblaas.

Later sou ons ’n Zimbabwiër oor die grens smokkel. Hy het een aand platejoggie gespeel en as guns vir ’n vriendin – die feesorganiseerder – laat ons hom saamry.

By die poorte uit Swaziland vertel die man mos: “Nee, sy paspoort is gesteel maar dit sal nie ’n probleem wees nie.” Ons los hom toe om sy eie ding te organiseer. Moenie my vra hoe nie, maar hy het saam met ons deurgery sonder enige vrae.

Grense bestaan net in ons gedagtes, vertel hy. Ja-nee.

Een hoogtepunt was Christine Salem. Soos heuning kruip haar stem deur blou ligte en rook in die Bushfire se amfiteater.

Maloya, noem hul die musiek-styl van Réunion-eiland, ’n Franse gebied in die Indiese Oseaan. Jare gelede sou die regering haar vervolg het. Die musiek wat die Kreoolse bevolking uit slawe-invloede vanaf Afrika ingevoer het, is eers onlangs weer wettig verklaar.

Deesdae betaal die Franse regering kunstenaars se reise om regoor die wêreld daardie oeroue klanke weer te sing.

Dan natuurlik daardie oomblik

. . . met my organiseerder-vriendin, daar in ons eensaamheid tussen die duisende met die salsa.

Latynse musiek is haar passie, en Suid-Amerika myne. Nog ’n droom wat vir eers op ’n rak gelos is. Haar eertydse liefde verdwyn langsaam oor die horison, maar ons praat nie daaroor nie. Myne was kort, intens, verby.

Sy is aan die jaag – die verhoogbestuurder het inmekaar gesak en ’n paar dronk tieners het onwettig ingesluip. Hoogs onwaarskynlik ontmoet ons weer in die skare.

En met die musiek bly sy ’n paar sekondes staan.

Jare se vriendskap, stadig vertroetel in ’n vreemde land, wen vir ’n paar oomblikke. ’n Handvashou, vinnig, druk, dan’s sy weg.

Maar die plotselingse nabyheid draal.

Ladysmith Black Mambazo

Ladysmith Black Mambazo laat hulle nie deur die middagson stuit nie. Foto: Hannes Myburgh

 

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *