Oos wes, tuis bes. Of so glo Airbnb, die multimiljoenrand-huisuitverhuringdiens wat ’n opskudding in die hotelbedryf veroorsaak. Yolandi Groenewald vertel meer.

Luukse, maar onpersoonlike hotelkamers is ou nuus. Deesdae is die beddens van vreemdelinge die nuwe Hilton. Al wat ’n local is in stede soos Stockholm, San Francisco, Parys of Tokio verhuur nou ’n woonstel of gastekamer om ’n vinnige euro of dollar te maak in dié taai ekonomiese tye. Reisigers is gaande oor die idee om ’n local te word vir ’n paar dae in die bestemming van hul keuse.

Die Casa Caravol of seeskulpiehuisie is een van die interessantste eiendomme wat op Airbnb verhuur word. Pryse begin by R2500 en die huisie het plek vir vier mense.

Die Casa Caravol of seeskulpiehuis is een van die interessante eiendomme wat op Airbnb se webwerf verhuur word. Die prys begin by R2 500 en dié huis het plek vir vier mense.

New York is maar net een van die wêreldstede wat toerisme kop onderstebo gekeer het. Ten spyte van die munisipale beamptes wat hard op hulle tande kners oor wetgewing wat verbreek word, het omtrent elke Jan Rap en sy maat in dié duur stad deesdae ’n kamer of woonstel te huur op Airbnb.

Kaapstad is een van die bestemmings wat die vinnigste groei en is baie gewild onder reisigers. Gaan kyk, jy kan ’n woonstel in Kampsbaai huur vir minder as ’n R1 000.

Gashere adverteer hul banke, gastekamers, woonstelle, huise, tente, karavane en igloes. As jy in dit kan woon, is dit op Airbnb. Die diens het in 2008 begin as ’n manier om mense te help om bekostigbare verblyf te bekom.

Deesdae het Airbnb meer as 11 miljoen gebruikers en 600 000 eiendomme, wat wissel van iemand se spaarkamer, boomhuis of boot tot ’n erfgenaam se kasteel of villa. Van die eiendomme waar jy kan bly is Barack Obama se voormalige studentewoonstel en woonstelle wat aan Charlie Chaplin en Ava Gardner behoort het. Jy kan selfs die herehuis huur in Brasilië waar Twilight se Bella en Edward hulle wittebrood gehou het – teen ’n koel R30 000 per nag, vir ‘n minimum van twee nagte.

airbnbinfographic

Verlede jaar het 6 miljoen mense by die diens aangesluit. Ek was een van hulle.

Airbnb is ’n fasiliteerder van slaapplek en jy betaal alle fooie aan hulle. Hulle verifieer ook dat daar wel ’n pondokkie is om in te bly, en dat die verblyf wat aangebied word nie net ’n slenter is nie.  Airbnb kry 3% kommissie van jou bespreking van jou gasheer, terwyl tussen 12% en 16% van jou as gas verhaal word, afhangende van die prys. Hoe hoër die fooi, hoe laer is jou persentasie.

Die mense wat Airbnb gebruik, is versot daarop. Die diens het kultusstatus onder ervare, onafhanklike reisigers bereik wat moeg is vir die buitensporige pryse van hotelle en geykte toeristeaantreklikhede.

Wees gewaarsku, dis nie vir almal nie. Daar is nie kelners wat laatnag trollies kos opstoot na jou kamer nie, en daar gaan tien teen een ook nie vir jou ’n sagte kamerjas in jou kas hang soos by die Hilton nie. Maar die aantrekkingskrag van die diens is dat jy vir ’n paar dae soos ’n plaaslike inwoner in die locals se supermark inkopies kan doen en die versteekte kroeg met sy uitstekende plaaslike rooiwyn kan gaan opspoor.

In Brooklyn, New York word daar geskat dat meer toeriste in Airbnb-gashere se beddens oorslaap as in hotelle. Toe ek laasjaar vir ’n slaapplek in die gewilde Willamsburg in Brooklyn gesoek het, het ek vermoed dat ek óf my huis, óf my kinders sal moet verpand om ’n bed vir die nag te kan bekostig. Selfs die gewone vuilerige backpackers het duurder gekos as wat jy vir ’n vierster-kamer in Suid-Afrika sou betaal.

Toe ontdek ek Airbnb. Kyk, daar is ook maar hole op die webwerf en jy moet fyn kyk om te sorg dat jy nie opeindig by een of ander gasheer wat basies ’n matras op ’n vuil vloer gooi nie.

Airbnb se geheim is die resensies. Hoe meer resensies en terugvoer van ’n plek, hoe beter idee kry jy van die plek waar jy gaan bly. Airbnb-gebruikers is bekend vir hul brutale eerlikheid en dit is by dié resensies waar die kaf van die koring geskei word. Jy kom gou agter daar is baie oulike gashere wat baie moeite doen om jou sommer vinnig tuis te laat voel.

Van Airbnb se gashere gaan uit hul pad om hul gaste tuis te laat voel.

Van Airbnb se gashere gaan uit hul pad om hul gaste tuis te laat voel.

Uit die resensies kan jy ook agterkom of jou gasheer ’n nuuskierige agie is, ’n skim is wat nooit verskyn nie en jou basies op jou eie laat, of ’n partytjiedier wat nie kan wag om jou al die plaaslike drinkgate te wys nie. Die goeie gashere is gewoonlik ver vooruit bespreek, hoewel daar altyd ’n paar oulikes op kort kennisgewing gevind kan word.

Ek het my gasheer Jeananne, ’n kunskurator in Brooklyn, se dubbelverdieping dakwoonstel op grond van haar foto’s en beskrywing gekies. Sy het nog net die gastekamer in haar woonstel vir twee maande uitverhuur, maar die drie resensies was baie positief. Die ruim boheemse woonstel was amper te goed om waar te wees teen R1 045, ’n kwart van die prys van ’n driester-hotel in New York.

Die ruim, stylvolle woonstel was amper te goed om waar te wees.

Die ruim, stylvolle woonstel was amper te goed om waar te wees.

Jeananne was ’n kieskeurige en versigtige gasheer en het eers die kat goed uit die boom gekyk voor sy my verblyf goedgekeur het. Sy bly vrou-alleen op die tweede verdieping van haar woonstel en verhuur die kamer en badkamer onder uit. Ek sou die kombuis en sitkamer met haar deel en hoewel sy meesal bedags by die werk sou wees, sou ons paaie wel kruis.

Anders as met ’n groot hotel, moet jy nogal kophou om by ’n vreemde adres uit te kom in ’n vreemde stad. Ek het die trein gevat na Jeananne se woonstel in Willamsburg en sonder Googlemaps wat presies vir my aangedui het hoe om met openbare vervoer by my gasheer uit te kom, sou ek verlore gewees het.

Ten spyte daarvan dat sy op die vierde vloer bly was daar geen hysbak nie en ek moes my swaar tas opsleep teen die nou trappe. Maar, toe Jeananne die deur oopmaak en ek my kamer met ’n direkte uitsig op die horison van New York se stadsprofiel aanskou, was my spiere skielik nie meer so moeg nie.

My uitsig op New York se stadsprofiel van my Airbnb-kamer.

My uitsig op New York se stadsprofiel van my Airbnb-kamer.

Saam met haar het ek gou die beste Meksikaanse kitskosplekke ontdek en soos ’n regte Williamsburger organies en vegetaries geëet, met kos wat ek self by die organiese supermark, net af in die straat, gekoop het. Ek het uitgevind waar die beste kroeg met die beste uitsig is en waar die aantreklikste barista werk. Vir daardie drie dae het ek gevoel (en gelyk) soos ’n Williamsburger. Toeriste het aanwysings by my gevra, terwyl ek soos ’n local in ’n ry gestaan het vir die beste koffie in New York. Ek het gevoel soos ’n karakter uit die televisiereeks Girls.

Die meeste van die skatte wat ek in Williamsburg ontdek het, sal jy nie sommer in Timeout New York of Lonely Planet kry nie. Sommige van die plekke was een stap weg om deur die New York se gesondheidsdepartement toegemaak te word, maar fantasties. Die meeste concierges in New York se hotelle sou nog nooit eens van hulle gehoor het nie, of hul gaste daarteen gewaarsku het. Vir my was dit die bonus van Airbnb se verblyf.

Besoek www.airbnb.com om jou droomvakansiehuis op te spoor.


Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *

2 thoughts on “’n Bly soos ’n local met Airbnb