Die Anantara Bazaruto Island Resort in Mosambiek is beslis een van daardie plekke wat die moeite werd is om voor te spaar, skryf Carla Lewis-Balden

Wanneer jy met Airlink na Vilanculos in die sentrale gedeelte van Mosambiek vlieg, vra om by die venster te sit.
Soos die vliegtuig regmaak om te land, lyk die strande van Vilanculos, waar dit die blou waters van die Indiese Oseaan ontmoet, soos bolle wit vanieljeroomys wat in ’n ‘float’ van Blue Curacao dryf.

Bazaruto vanuit die lug. Foto's Anantara Groep

Bazaruto vanuit die lug. Foto’s Anantara Groep

Onder gly die daus van vissermanne verby op die seebriese, soos eeue jare gelede, toe Arabiese handelaars en Britse en Nederlandse skepe op dieselfde monsoenwinde die eksotiese Ooskus van Afrika ontdek het.
Ons seil sommer tjop-tjop deur doeane by die nuwe internasionale lughawe. Dis nie meer die gehuggie van toeka se tyd nie, die gebou is silwerskoon, die toilette eersteklas en hier is selfs WiFi-internettoegang in Anantara se spesiale sitkamer vir hul gaste.

'n Visserman en sy dau vaar oor die kalm waters van die Bazaruto-argipel.

‘n Visserman en sy dau vaar oor die kalm waters van die Bazaruto-argipel.

Die Anantara Bazaruto Island Resort hotel is ongeveer 45 minute se ry per motorboot vanaf Vilanculos. Die luukse motorboot wag vir ons op ’n strand so reg uit ’n National Geographic-fotoblad; seuns in songebleikte T-hemde speel ’n potjie strandsokker op die laagwaterlyn, met ’n eiervrugpersboot wat in die vlak water dobber.

Op pad na die oord kyk ons uit vir dolfyne, dis glo algemeen vir ’n skool om op die branders van die boot te baljaar. En as jy die dag die boerpot slaan, sien jy miskien ’n doegong, ’n soutwatersoogdier wat lyk soos die liefdeskind van ’n dolfyn en ’n seekoei. Die Bazaruto-argipel is een van die min plekke waar die diere nog natuurlik voorkom, maar hulle is baie bedreig. Selfs vissermanne wat elke dag uitgaan, is gelukkig as hul ’n snorbaard of ’n vin van die diere sien, hoogstens ’n paar keer per jaar.
Die see is rof, maar soos ons nader aan die baai beweeg waar die luukse Anantara Bazaruto Island Resort geleë is, begin die water spieëlglad word.
En ewe skielik strek ’n lang goue strand voor ons uit, bespikkel met palmblaarsambrele en hangmatte wat luilekker in die seebries wieg. Dis ’n toneel wat smeek vir ’n tropiese mengeldrankie, met soveel sambreeltjies en toebehore as moontlik.

Alhoewel Anantara ’n redelike groterige oord is, het dit nie daardie massa-oord atmosfeer wat jy op sommige Indiese eilande kry nie. Tog kry hulle dit reg om beide gesinne en romantiese paartjies tevrede te stel. Die oord is gewild onder Suid-Afrikaners, tydens ons besoek het ons gesels met ’n sakeman van Pretoria wat sy gesin gebring het vir ’n blaaskans en ’n groep vriendinne van Johannesburg wat die week ontsnap het vir ’n Girls Only-vakansie.

Die kroeg by die 'Grootmens-swembad'. Hier kan jy jouself die hele dag met Pina Coladas marineer.

Die kroeg by die ‘Grootmens-swembad’. Hier kan jy jouself die hele dag met Pina Coladas marineer.

As jy egter hier is op wittebrood, moenie dink dat jy oorval gaan word deur ’n groep skreeuende telge by die swembad nie. Daar is ’n swembad vir kinders en ’n swembad slegs vir grootmense. Dieselfde geld vir families, jy kan seker maak jou kinders het ’n heerlike tyd, sonder dat een of ander suurgesig Franse tannie haar lippe in afkeur saampers, as jou kinders ’n bietjie luidrugtig tydens ’n speletjie van Marco-Polo raak.

Die binnekant van 'n Beach Villa.

Die binnekant van ‘n Beach Villa.

Die huisies waarin jy bly kan beskryf word as ’n strandhut, dis nou as ’n Arabiese prinses vir haar ’n strandhut gebou het. Die houtvloere is bedek met dik Persiese matte en die palet put inspirasie uit die kleure van Bazaruto; die songebleikte seile van die vissermanne se daus en die akwamaryne blou van die see en die lug. ’n Muskietnet wat oor die bed hang, wek fantasieë van Scheherazade se ‘1001 Arabiese Nagte’ op. Daar is ook ’n buitelugstort, as jy ‘au natural’ onder die Afrika-sterrehemel wil lyf natmaak.

Die spa het seker een van die mooiste uitsigte in Afrika.

Die spa het seker een van die mooiste uitsigte in Afrika.

Die ‘piece de la resistance’ vir my was egter die spa, wat seker een van die mooiste spa-uitsigte in Afrika, indien nie die wêreld nie, het. Die argitektuur is ’n mengsel tussen Afrika en Arabies en die spa is geleë op ’n heuwel wat uitkyk oor Indiese Oseaan. Groot salas nooi jou om te kom uitspan en daar is ook ’n jacuzzi wat jy kan bespreek, met ’n bottel sjampanje om die sonsondergang te sien. En vir ’n mooier sonondergang op ’n eksotiese plek sal jy ver moet soek.

Werd om te weet

Hoe kom ek daar?
Airlink – As ’n franchisenemer van die SAL bied dié lugdiens ’n wye netwerk van binnelandse vlugte in Suid-Afrika.
Roetespesifieke inligting – Daar is regstreekse geskeduleerde vlugte tussen Johannesburg en Vilanculos, asook van Nelspruit na Vilanculos, ’n aanbod wat op dieselfde dag ’n bos-en-strand-ondervinding inhou.
Verbindings – Deur hul alliansie met die SAL kan reisigers gemaklik met die SAL verbindingsvlugte kry, asook met ander lugdienste deur Suider-Afrika en die wêreld heen.
Gereelde reisigerprogram – Airlink is ’n lid van die SAL se lojaliteitsprogram Voyager. Besoek flyairlink.com vir meer inligting.
Jy kan aanlyn, by jou reisagent of by SAL se sentrale besprekingslyn (011  978  1111) vlugte bespreek.

Wie moet op so ’n vakansie gaan?
Alhoewel daar baie families was tydens my besoek en die eilandoord baie familievriendelik is, sal ek dit aanraai vir ’n wittebrood of ’n spesiale romantiese wegbreek om die prys te regverdig.
Daar is talle aktiwiteite waaroor paartjies gaande sal wees, twee wat ek sal aanraai is die Dining by Design, waar daar vir jou ’n romantiese tafel op die strand gedek word, weg van die res van die oord se gaste. Die sjef kom sien jou persoonlik en werk ’n spyskaart spesiaal vir jou en jou metgesel.
Die ander aktiwiteit, waaroor ek gaande was, was die strandpiekniek. Ons is na ’n afgeleë strand gevat, waar daar geen mense was vir myle nie. ’n Bedoeïenetent is vir ons opgeslaan, met ’n koelerboks vol wyn, bier en piekniekhappies soos lamsosaties, Portugese melktertjies, slaai en vars Portugese rolletjies. Toe is ons groepie op ons eie gelos vir ’n paar uur. Ons was wel ’n groep vroue, maar my verbeelding het allerhande stoute gedagtes opgetower oor wat ’n verliefde paartjie op ’n verlate strand, by kalm lou waters kan aanvang. Ons het egter net in die vlak water gelê en witwyn gedrink. Bikini-toppies was wel opsioneel.
Jy kan ook hier perdry en glo my, die goue strande, gesonde boerperde en seebries in jou hare is so reg uit die voorblad van ’n Mills en Boon-slapbandroman.

Wat van die kos?
Jy kry drie etes per dag by die oord en wees gewaarsku, jy gaan ’n groter paar jeans nodig hê na jou vakansie hier. Die hoofsjef, Dalita Hugo is wel ’n boeremeisie, maar in die kombuis praat haar kos vlot Portugees. Die seekos hier is volop, vetstert steurgarnale, gerooster oor die vuur met ’n piripiri-sous, soveel krewe as wat jy kan eet (hulle rantsoeneer jou nie) dekadente pasteis de nata-tertjies vir nagereg en varsgebakte Portugese Pao. Pak die lewensessens in, want hier eet jy ryk en lekker.

Hoeveel sal so ’n vakansie my kos?
Die vyfster-oord Anantara Bazaruto het spesiale tariewe vir SAOG-burgers wat begin by $315 per persoon per aand. Dit sluit in verblyf, vervoer per boot vanaf Vilanculos, drie etes per dag, nie-alkoholiese drankies, tee, koffie, niegemotoriseerde watersport en noodontruiming in. ’n Vlug na Vilanculos kos sowat R6000, afhangende die tyd van die jaar wat jy reis.

Carla Lewis-Balden was ‘n gas van Anantara Bazaruto

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *