Bessies en vonkelwyn vir jou Vaaltyn

Die bessietert-resep van Pongrácz is eintlik bedoel vir Valentynsdag, maar jy hoef nie ’n spesiale dag te hê om tert te eet en vonkelwyn te drink nie. Bedien die bessietertjies saam met Pongrácz se Rosé.

 

Bessietertjies

Maak agt medium-grootte en 20 happie-grootte tertjies.

Pongracz Rose with heart tartlet 002 LR-2

 

Deeg

225 g botter

200 g strooisuiker

2 groot eiers

500 g koekmeel

 

Vulsel

180 ml (¾ koppie) room

5 × 80 g stukkie wit sjokolade, fyn gekap

100 g frambose

200 g aarbeie

45 ml (3 eetlepels) warm appelkooskonfyt

 

Vir die deeg

Room die botter en suiker saam in ’n voedselverwerker totdat die mengsel lig en romerig is. Terwyl die voedselverwerker nog aan is, voeg die eiers een vir een by. Meng deeglik. Voeg die koekmeel by en meng totdat dit ’n deeg vorm. Bedek met kleefplastiek en verkoel in die yskas vir 1 uur.

 

Vir die tertjies

Verhit die oond tot 180°C.  Berei die koue deeg voor deur dit uit te sny in die grootte van die pan en dit versigtig in die panholtes in te druk. Verkoel weer vir halfuur.

Bak blind vir 10-12 minute of tot dit goudbruin is. Laat dit eenkant afkoel.

Vir die vulsel, bring die room tot kookpunt in ’n klein kastrolletjie. Gooi dit oor die wit sjokolade en roer tot glad en romerig. Bedek en verkoel vir ‘n halfuur.

Klits die mengsel met ’n eierklitser tot lig en romerig. Skep dit in die tertjies en bedek met bessies. Borsel die bessies met warm appelkooskonfyt en bedien met vonkelwyn.

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *