Die Otter-staproete is nie ’n grap nie. Kate Els het hom nou al twee keer aangepak en elke keer klei getrap.

Wanneer jy Die Otter aanpak gaan dit eerder oor of jou kop reg is, as jou fiksheidvlak. Die waarheid is: Jy kan hóé fiks wees, maar die roete het ’n manier om jou uit te oorlê as jou kop nie op die regte plek is nie. Na ek die eerste keer Die Otter voltooi het, het ek aan myself belowe: Nooit weer nie. Tyd genees egter alle wonde. Vanjaar, ’n paar jaar nadat ek die roete aangepak het besluit ek, dis weer tyd. Moenie my verkeerd verstaan nie, dis werklik ’n wonderlike ervaring. Na ek die roete in Mei vir ’n tweede keer voltooi het, het ek steeds gemengde gevoelens daaroor.

Kate Els meen die Otter is moeiliker as wat hy lyk.

Kate Els meen die Otter is moeiliker as wat hy lyk.

Die eerste keer was my fiksheid die belangrikste. Was ek fiks genoeg? Tot vandag toe weet ek nie. Ek het egter uitgevind fiksheid beteken niks as jy nie sielkundig voorberei het vir die uitmergelende roete nie. Tydens jou staptog gaan jy jouself die hele tyd moet uitdaag en jouself herinner jy is beter as om net op te gee. So gaan dit aan vir vyf dae. Die tweede keer was ek fisies meer voorbereid, maar sielkundig was dit steeds ’n uitdaging.
Hier is sewe wenke vir mense wat Die Otter wil aanpak. Ek wens iemand het dit vir my vertel, voor ek die staproete voltooi het.

Die regte stapskoene is baie belangrik.

Die regte stapskoene is baie belangrik.

1. Pak maar daai voggies in en baie daarvan. Moenie skaam wees nie. Ek het ’n hele bottel Jack Daniels Honey-likeur op die staproete geneem. Ons groep het dit teen die derde aand opgedrink. Drank is somtyds die enigste troos wat jy gaan hê.

2. Dit word piepiekoud in die aande. Meeste van die hutte is reg langs die water geleë. Maak seker jy bly warm deur lae aan te trek, veral as jy ’n piepklein slaapsak soos ek het.

Die Otter se poepholletjie.

Die Otter se poepholletjie.

3. Snoephappies kraai koning. Pak elke energiestafie in wat jy kan dra. Vergeet ook van jou gesondheid en laai daardie stapsak met sjokolade. ’n Skelm muskeljaatkat het my enigste sjokoladestafie gesteel, wat my vreeslik ontstel het.

4. Jy gaan koud stort. Kners maar op jou tande en klim in, skoon hare is ’n heerlike luuksheid.

5. Maak seker jou poncho is nie te groot nie. Wanneer jy by ’n krans afhang en jy kan nie meer jou voete sien nie, is die lewe ewe skielik nie meer so sorgvry nie.

6. Pak so lig as moontlik. Niemand hoef te weet hoe dit voel om 20 kg vir 5 dae oor uitdagende terrein te dra nie. Jy straf net jouself. My sak het 14 kg geweeg en dit was reeds meer as genoeg.

7. Daar is ’n kroeg in Nature’s Valley wat ’n shooter, The Otter’s Arsehole verkoop. Ek neem aan hulle noem dit só omdat jy net te bly is jy het die roete voltooi. Drink een, jy kry selfs ’n sertifikaat.

 ’n Mens kan seker die Otter met die El Camino de Santiago vergelyk. Dit is ’n stryd wat in jou kop gevoer word en wat jy self moet oorwin. Daar is oomblikke van beeldskone selfondersoek. Dan is daar oomblikke waar jy jouself verwens dat jy jouself aan die marteling blootgestel het. Is dit die moeite werd? Om eerlik te wees is ek self nie eintlik seker nie.

Screen Shot 2014-07-16 at 7.49.18 AM

Jy moet terrein soos die aandurf op die staproete.

Die bloginskrywing het oorspronklik op Kate Els se blog IndiKate verskyn. Kate Els is ’n reisskrywer, blogger en was die voormalige inhoudsredakteur van Tourism SA se webblad.


Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *

4 thoughts on “7 dinge wat niemand jou nooit van Die Otter vertel nie

  • Reply
    Daleen Deacon

    Die Otter was nog altyd iets wat ek wou aanpak. Na ek die gelees het, is ek nou regtig lus om maar vas te byt en deur te druk en dit te doen! Klink na iets wat my kop nodig het!

    • Reply
      Die Reismier Post author

      Daleen, ek het nou al gesien, somtyds moet jy net die avontuur bespreek en later oor die gevolge dink…

  • Reply
    Matilda le Roux

    Ek stem saam dat jou kop reg ingestel moet wees vir ‘n stap, maar as dit vir die Otter nodig is, moet jy twee keer dink voordat jy die Naukluft se 120km oor 8dae aandurf. Daar moet die “bedrading” van jou brein 100% wees anders gaan jy klippe kou………..

    • Reply
      Die Reismier Post author

      Daai een klink beslis soos ‘n bulletjie. Maar meeste dinge wat die moeite werd is, is nooit maklik nie.