Carla Lewis-Balden is lief vir die bos en kampeer – tot dit by badkamersake kom.

“As ons buitentoe gaan, word ons opgeëet.”

Dít was my man se woorde, 03:00 die oggend toe ek hom wakker maak om badkamer toe te gaan. Ons het by die Mana Poele in Zimbabwe gekamp. Die ablusiegeriewe was ongeveer 200 meter van ons tent af en my “boslet” (basies ’n kampstoel met ’n gat in) het vergete in ons garage in Johannesburg gelê.

Ek het daarop aangedring om porselein onder my agterstewe te hê. Die pad na porselein was egter gevul met “padblokkades” soos buffels, seekoeie en ander gediertes wat jy nie sommer met ’n “sjoe-sjoe” kan wegjaag nie.

My man het my probeer ompraat om in ’n waterbottel te piepie. Ek wou niks daarvan af weet nie. Netnou piepie ek mis en dan is die tent se vloer nat – dan praat ons nie eers van die gediertes wat kom rondsnuffel wanneer hulle ’n vreemde reuk in hul habitat opmerk nie.

Om die regte ligging vir 'n bospiepie te vind, is harde werk.

Om die regte ligging vir ‘n bospiepie te vind, is harde werk.

Om in die bos te piepie kan nogal interessant raak. In Suid-Afrika is dit steeds heel gemaklik, met (redelike) skoon badkamers by die vulstasies, maar sodra jy die Limpopo-rivier oorsteek is dit ’n ander saak. Hoe meer noord jy reis, hoe erger raak dinge. In die Serengeti in Tanzanië het ons amper ’n $100 se kampfooie opgedok om in ’n puttoilet te piepie wat so gestink het dat jy nie naby dit kon kom sonder om ’n bietjie te verstik nie.

Dit is handig om ’n sterk blaas te hê met olifante wat ook gereeld die waterpype karnuffel en buffels wat jou pad na die toilet te blokkeer. (Doen kegel-oefeninge om jou blaas te versterk. As jy nie weet wat dit is nie – raadpleeg Google.)

Ek sukkel om te hurk en wanneer jy in Afrika reis, kan dit nogal ’n probleem wees. Die meeste toilette is stinkende gate in die grond en die meeste van die tyd is dit beter om net ’n bossie te soek, iemand te vra om kywie te hou en so gou as moontlik jou ding te doen.

Hier is ’n paar wenke wat ek deur my jare van kamp en reis in Afrika opgetel het.

1618644_10152293016476047_1467248856_n

Dit word witgoud genoem vir ‘n rede.

1. Kies nou: Die gemaklike kampeerplek of die een met die uitsig
Om jou tent reg langs die ablusieblok op te slaan mag dalk na ’n goeie idee klink. Totdat die septiese tenk begin oorloop. Dan wens jy jy het daardie afgeleë plekkie langs die rivier gekies. In Afrika wen die uitsig altyd.

2. Sê maar totsiens aan jou waardigheid 
Piepie in die bos is ’n spansport, jy het iemand nodig om uit te kyk vir honger gediertes terwyl jy verligting soek. Probeer ook nonchalant lyk terwyl jy toilet-rol in die hand verby ander kampeerders loop. Almal weet wat jy gaan doen.

3. Dit word vir ’n rede witgoud genoem
Hou styf vas aan joune en moenie dit in die ablusieblok vergeet nie. Dit gaan weg wees wanneer jy terugkeer.

4. Hou maar terug met die dop as jy ’n swak blaas het
Dink jy daaraan om daardie hele bottel rooiwyn self op te drink? Wat van nog ’n Gin en Tonic? Jy gaan jou keuses in die oggend berou, veral wanneer jy 03:00 die oggend sukkel met ’n nadors en blaas wat wil bars.

5. Trek jou hele broek uit wanneer jy wil piepie
My vriendin, wat ’n gekwalifiseerde wildbewaarder is, stel voor dat jy halfkaal piepie en nie net jou broek aftrek tot by jou enkels nie. Dit is handig om twee redes: Eerstens sal jy nie enige lastige piepiekolle op jou broek kry nie. Tweedens kan jy maklik uit ’n gevaarlike situasie kan beweeg, sonder dat jou broek jou pooitjie. Behalwe natuurlik wanneer dit ’n leeu of ’nander roofdier is – dan staan jy so stil soos Lot se vrou. As jy hardloop is dit tickets met jou.


Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *

7 thoughts on “5 wenke oor hoe om in die bos te piepie

  • Reply
    Elizabeth Coertzen

    Ek het vir my ‘n twee liter Coke bottel se kop afgesny – knyp dit tussen jou bo bene vas as jy piepie. Jy hoef nie eers te hurk nie.

  • Reply
    Lizette Hermann

    Ek het ‘n gebruik gekry vir die Sokkerwereldbeker Vuvuzela’s – dit werk soos ‘n bom vir ‘n bospiepie en ek het altyd een in my motor – ons het al baie ure gegiggel oor die dag dat iemand besluit om hom weer te blaas! :))

    • Reply
      Die Reismier Post author

      Lizette, dis die beste raad ooit wat ons nog gehoor het. Daar gaan nie weer gekamp word sonder een van die outjies nie.

  • Reply
    Rika Erasmus

    Elke bos-piepie is ‘n ondervinding op sy eie. Maar uiteindelik het manlief se vuvuzela nou ‘n nuwe sinvolle doel in die se bestaan gekry.Dankie.