Carla Lewis-Balden deel haar vyf gunsteling-dinge van Namibië

 

1. Die Dooie Vlei by Sossusvlei

IMG_0005

Wanneer die Namib-Naukluft Nasionale Park soggens sy hekke oopsluit, stroom almal eers na die Big Daddy-duin om dié mafoeta uit te klouter. Vergeet van die duin, jy wil so gou as moontlik by die Dooie Vlei uitkom om die stukkie surrealistiese landskap vir jouself te hê.

’n Mens stap omtrent vir ’n kilometer voor die drie kleure van die vlei voor jou opdoem; die wit van die verkalkte oppervlak, die roesrooi van die Namibiese tuine en die blouer-as-blou Namibiese hemel. Raak stil en moenie dadelik jou kamera uitpluk om ’n foto te neem nie. Die uitsig is Rescue Remedy vir die siel. Laat gly jou fingers oor die rowwe oppervlakte van die versteende kameeldoringbome wat in die pan staan. Die busse vol Duitse toeriste gaan nounou kom. Maar intussen het jy die pan net vir jouself.

Wenk: As jy binne die Namib-Naukluft Park bly kry jy vroeër toegang tot die park as reisigers wat buite die park bly. Jy kan kamp by die Sesriem kampeerterrein net buite die hek, wat deur Namibian Wildlife Resorts bedryf word. (www.nwr.com.na). Die Sossus Dune Lodge is ’n meer eksklusiewe keuse, as jy meer glampeer as kampeer hou.

 

2. Viertrek-avonture deur die Namib-woestyn

Woestyn

Dis moeilik om nie soos ’n wafferse Lawrence of Arabia te voel nie wanneer jy die Namib se duine aandurf. Jy gly jou 4×4 af by duine so hoog soos ’n woonstelblok, slaap in die aande onder ’n sterrehemel so helder die melkweg lyk soos sirrus-wolkies en besoek ou myndorpies waar talle hul fortuin kom soek het (en hul kop verloor het.)

Boonop roep jy die beskawing vaarwel vir so ’n paar dae, hier is nie selfoonopvangs, wifi en e-posse wat skree vir aandag nie. Jou lyf se ritme pas aan, jy staan soggens vroeg op vir die sonsopkoms en na aandete begin jou ooglede maar swaar raak.

Het jy al gehoor van brulsand? As jou 4×4 by ’n hoë duin afkom, maak dit die sand los. Die wrywing van die sand veroorsaak ’n diep donderdende geluid wat deur die kar vibreer en jou hoendervleis tot in jou kleintoontjie gee.

Oorweeg vir Saddle Hill-roete vir korter ekspedisies, of die Lüderitz na Walvisbaai-roete vir ’n langer avontuur.
Besoek Uri Adventures by www.uriadventures.com vir meer inligting

 

3. Stop jou kieste vol wildsbiltong

106404366

Ek weet nie wat voer hulle vir die wild in Namibië nie, maar die wildsvleis hier is heerlik! Of miskien is dit net die kokke en sjefs wat hul storie ken met ’n koedoe-steak.
Wanneer ek Namibia besoek, eet ek soveel wildsvleis as moontlik. My gunsteling bly ’n stukkie murgsag springbok-fillet, wat medium rare gebraai moet wees, maar daar is ander treffers. ’n Stukkie wildsalami op ’n stoomvars brotchen, wildspotjie, lewer en niertjes…

Op elke dorp word daar gestop by die plaaslike slaghuis en ‘n papiersak vol nat biltong word gekoop. Ek lyk omtrent soos ‘n hamster met bolronde kieste soos ek dit by my mond inprop.Vergeet van die vleispotte van Egipte, dis eerder die vleispotte van Namibië. Of jy dit nou vir padkos langs die pad eet, in die Hilton in Windhoek of langs ’n kampvuur, hier kraai  vleis koning.
Wenk: Wanneer die verlange te erg word, is die Namibiese vleismaatskappy Hartlief se produkte darem by meeste groot supermarkte in Suid-Afrika beskikbaar. Hul salami is besonders lekker.

 

4. Namibiese plekname

pad
Daar is iets aan ’n Namibiese pleknaam wat net so lekker van jou tong afrol. Probeer “Otjiwarongo” sê, sonder om ’n klein rilling van plesier te voel. “Katima Mulilo” en die Caprivi klink gevaarlik, ’n bestemming diep in die boendoes, gevul met avonture en slegte ouens wat in die bosse wegkruip.

Ek was nog nooit op “Goebabis” nie, maar ek wil gaan, net vir die naam. Dieselfde geld vir die “Kaokoland” en “Epupa-valle”. Een of ander Namibiese entrepeneur moet ’n plan maak en ’n T-hemp-reeks uitbring met Namibiese plekname. Ek plaas sommer nou al my bestelling vir “Goebabis.”

 

5. Die Caprivi-strook

IMG_6216

Wanneer ’n mens aan Namibia dink, spring daar beelde van uitgestrekte, dorre landskappe in jou kop op. Die Caprivi is egter geil, groen en subtropies. By die Mahango Nasionale Park kan jy skaars bokspesies soos bastergemsbokke en swartwitpense sien, hulle is volop hier.  Olifante en buffels loop sommer lui-lui oor die hoofpaaie.

Een van my gunsteling-kampplekke in Suider-Afrika, Ngepi is ook hier geleë. Jakkalsbessies troon oor lowergroen grasperke, met ’n uitsig oor die Kavangorivier. Die ablusiegeriewe is van die indrukwekkendste wat ek nóg gesien het. Party van die geriewe lyk soos iets uit die toeristebrosjure van daardie lodges wat jou ’n arm, been en nier vra vir ’n aand se verblyf. Die storte is almal ook buiteling en jy stort elke aand onder ’n Afrika-sterrehemel.

 Vertel vir ons: Wat is jou gunsteling-Namibiese bestemming of ervaring?

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *