Jy sien al die hele jaar uit om jou tentjie te opslaan, bier te drink en elke aand ‘n tjoppie oor die kole te gooi. Dan daag een van die karakters op…

1. Die parasiet

Die parasiet kan nie wag om al jou bier op te drink nie.

Die parasiet kan nie wag om al jou bier op te drink nie.

Die parasiet is gewoonlik ’n wolf in skaapsklere, omdat hy van die begin af so nice lyk. Moenie gefnuik wees deur sy sjarme nie, die man is eintlik maar net ’n swendelaar wat kyk hoeveel gratis biltong en drank hy uit jou kan melk.
Dit begin heel onskuldig: Hy kom oor om homself voor te stel. Jy bied hom ’n bier aan. Hy drink sy bier klaar, maar wys geen tekens om te loop nie. Eintlik wil jy nog met hom kuier, want dis nou ’n smart ou. Jy bring nog bier en biltong. Intussen is jou vrou besig om vir jou vuil kyke te gooi. Die vuur moet aangesteek word. Die kinders is honger. Jy nooi hom oor vir aandete. Hy dring aan om ook iets by te dra, ’n karige stukkie supermarkwors. Die res van die aand word jou wyn gedrink en jou fillet steak geëet, terwyl jou vrou se lippe al hoe dunner word.

Raak so ontslae van hom: Dis eenvoudig. Moenie die monster voer nie. Die vent floreer op freebies. As jy nie jou biltong en bier met hom gaan deel nie, sal hy gou aanbeweeg na ’n ander sucker wat vir sy praatjies gaan val.

2. Die Afrikaanse musiekliefhebber

Soek jy die as die klankbaan van jou vakansie?

Soek jy die as die klankbaan van jou vakansie?

Jy hoor hom voor jy hom sien, die nuutste Afrikaanse poptreffer pomp gewoonlik uit sy kar uit. Kyk, sy tunes is so cool, almal moet daarna luister. Of dit nou Kaptein is wat die seile wil span of iemand wat hul muis moet wys, die man wil dit met die wêreld deel. Na rede luister hy nie. ’n Vriendelike versoek om dit sagter te sit sal die sokkiebokkietreffers net harder laat basuin, of nog erger, jou gebliksem kry. Die kampreëls sê mos, hy kan speel wat hy wil, waar hy wil, so hard as wat hy wil, solank dit voor 22:00 is. En somtyds so bietjie langer as 22:00, afhangende van hoeveel brandewyn daar gedrink is.

Raak so ontslae van hom Veg vuur met vuur. ’n Mix tape van Death Metal bands met Architects of Arson of Zombie Corpes Death Eaters het gewoonlik die regte uitwerking, maar dit ontstel die kinders. Kry liewerster plaaslike kwaito met ’n bad ass base en pomp dit by jou kar uit. Of kry die vryegeeste (sien #5) en organiseer ‘n spontane dromsessie. Iemand sal wel kom kla. En as jy jou musiek moet afsit, is dit mos net regverdig dat Kurt en kie. se monde ook gesnoer word?

3. Die kleuter met die plastiese motorfietsie

Odrážedlo-Enduro-MAXI-05

“Kggggg” Kggggg”

Ek weet nie hoekom het iemand nog nie ’n patent uitgevind om daardie plastiese skopfietsies se wiele met rubber te vervang nie. Want niks is meer irriterend as om 6:30 wakker te word met die kggggg-kggggg-kggggg van ’n telg se motorfietsie wat oor die gruis of teer skuur nie. Somtyds is dit soos naels op ‘n swartbord. Om dinge erger te maak blyk dit asof die meeste ouers selektiewe doofheid teenoor die kontrepsie ontwikkel het. As jy dié lees en jou kind ’n skopfietsie besit, los hom by die huis. (Die fiets, nie die kind nie.) Koop vir hom ’n ordentlike fiets. Jy doen die samelewing ’n guns.

Raak so ontslae van hom: Ongelukkig is daar nie veel wat jy kan doen nie. ’n Mens mag nie kla oor kinders wat onskuldige pret het nie, want op die ou einde lyk jy soos die suur ou poepol. Kry maar oorpluisies. As klein Jannie egter sy fietsie agter jou bakkie se wiel parkeer het, dan is hy voëlvry. Jy kon mos nie die fietsie sien toe jy uit reverse het om ys te gaan koop nie.

4. Die emosionele wrak

Sy kan nie wag om haar lewensverhaal vir jou te vertel nie.

Sy kan nie wag om haar lewensverhaal vir jou te vertel nie.

Jy loop haar dikwels in die ablusieblok raak met maskara besmeerde oë. Jy vra haar wat is verkeerd, want jy is ’n goeie mens. Fout nommer een. Sy en die boyfriend het ’n uitval gehad. Dit is hier waar jy sê “Shame”, haar skouer vryf en wegloop. Moet om geen omstandighede vir nog details vra nie. Moenie haar oornooi vir ’n glas wyn om haar te troos nie. Dit is nog moeiliker om van die emosionele wrak ontslae te raak as van die parasiet. Want sien, terwyl die parasiet opsoek is na gratis drank en kos, soek die emosionele wrak ’n gehoor vir haar probleme. Sy sal jou mooi vertel hoe alles in haar lewe verkeerd geloop het, al ken sy jou net vir twee ure. Sy het die gestel van ’n os, ’n mens moet een hê as jy al daardie pille met ’n magnum bottel Four Cousins Rosé chase. En in die aande gaan haar snikke jou wakker hou nadat sy besluit het sy kom slaan haar tent langs joune op. Julle is mos nou BFF’s.

Raak so ontslae van haar: Die een klou harder as ’n neet aan ’n wolkombers. Probeer vir haar ’n nuwe kêrel vind. As dit nie werk nie, pak maar jou goedjies op en kom huistoe. En om hemelsnaam, moet nie enige selfoonnommers uitruil of Facebook-vriendversoeke aanvaar nie.

5. Die vrye geeste

Hulle maak goeie bure, totdat die Djembe-tromme uitkom.

Hulle maak goeie bure, totdat die Djembe-tromme uitkom.

Kyk, jy kan nog die reuke van die papegaaislaai verdra wat na jou kant toe waai. Jy was mos ook eens op ’n tyd jonk. Stoner-bure is in elkgeval beter as dronkgat-bure. Hulle musieksmaak is beter en hulle ontwikkel nie bloedlus na ’n halwe bottel brandewyn nie.
Dis wanneer hulle die djembe-dromme , marimba en didgeridoo uitpluk, wat daar ’n meningsverskil begin broei. Want die ou wat die drom slaan het die ritme van Duitse toeris by ’n Zoeloedans-werkswinkel. En die klong wat die didgeridoo probeer speel, maak meer poepgeluide deur sy mond as wat hy geblaas kry. Dan praat ons nie eers van die eentonige ‘doing-doing-doing’ van die marimba nie.

Raak so ontslae van hulle: Vrye geeste is meestal vredeliewend en ’n vriendelike versoek om hul partytjie af te vat strand/rivier/woud toe sal nie op dowe ore val nie. Hulle is mos nader aan die natuur daar. As dit nie werk nie, kan jy altyd die Afrikaanse musiekliefhebber se Kurt Darren CD gaan leen.

Het jy enige staaltjies oor kampbure uit die hel uit? Vertel ons daarvan.


Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *

One thought on “5 mense wie jy nie as bure soek wanneer jy kampeer nie

  • Reply
    freda

    aloha rysmier – hoe gaan ek te werk om ‘n storie op jou webstuiste te publiseer?

    Warm groete

    Frida