Die voëlkyk-gemeenskap is so bietjie soos die jukskeispan op hoërskool. Die kinders wat daaraan deelgeneem het was vreemd en niemand kon regtig die aanloklikheid van die sport verstaan nie, meen Carla Lewis-Balden

Owen Wilson, Steve Martin en Jack Black in die voëlkykfliek, 'A Big Year.'

Owen Wilson, Steve Martin en Jack Black in die voëlkykfliek, ‘A Big Year.’

1. Ons ry verby die luiperd, maar stop vir ’n vaal bruin voëltjie

Voëlkykers is dikwels nie gewild rondom ander “normale” toeriste nie. Vra maar vir enige iemand wat al op ’n wildsrit was saam met ’n voëlkyker. Daar moet vir elke klein bruin voëltjie gestop word. Ek het ook al ’n hele paar pompe in die ribbes van my man gekry, nadat mense op die trokkie hul oë vir my gerol het. Voëlkykers gooi ook ander wildkykers omver. Hoeveel keer het jy al by ’n motor in die Kruger gestop waar almal baie hard met hul verkykers na iets soek, net om te hoor dat dit ’n tinktinkie, glasogie, of bosbontrokkie is?

2. Ons hang uit by bedenklike plekke

Mense vereenselwig voëlkyk met ongerepte natuur, maar ek het myself al ’n paar keer op ’n paar bedenklike plekke gevind om ’n voëlspesie op my lys af te tik. Ek sal nie twee keer dink om iemand se erf te betree, as ek miskien ’n skaars voël daar kan sien nie. Die bure weet darem al ek is nie ’n grillerige koekeloerder, wanneer ek rondom hul huis rondsluip met ’n paar verkykers en ’n kamera nie.’n Hooggeplaasde by Birdlife Suid-Afrika vertel hy gaan kyk graag voëls by die rioolplaas. “Dis rustig en daar is geen kinders wat raas en die voëls verwilder nie.”

3. Dis makliker om verskoning te vra, as om vir toestemming te vra

Hier is ’n wenk: as jy ooit wil gaan voëls kyk by Kasane se vullishope, lieg deur jou tande. Iemand het vir my gesê dis van die beste plekke om voëls te kyk. Vertel die amptenaar jy is hier om jou vullis weg te gooi en hou ’n swartsak op jou agtersitplek as ’n alibi. Ek was eerlik.
Die vrou wat die vullishoop se hek beman, laat sommige nors doeanebeamptes na mense met sprankelende persoonlikhede lyk. Toe sy klaar na ons geluister het, het sy haar kop net geskud. Te oordeel aan haar gesigsuitdrukking, het dit gelyk asof ons toestemming wou hê om in Ian Khama se agterplaas te gaan voëlkyk.“Ek is jammer, maar julle het skriftelike toestemming van Kasane se stadsraad nodig om voëls hier te kyk en af te neem.”Toe ek vra waar die stadsraad se kantore is, het sy weer ’n lang diep sug gegee. “Dis Saterdag. Hulle is toe.”

4. Jy is nie ’n oortreder as jy ’n voëlkyker is nie.

Geharde voëlkykers sluk moeilik aan waarskuwings soos “privaat eiendom” of “oortreders sal vervolg word”. Ons laat ons ook nie sommer deur burokrasie of ’n nors munisipale beampte afsit nie. ’n Jaar gelede moes ’n span voëlkykers van King Shaka se lughawe deur veiligheidswagte verwyder word, nadat hulle ’n witvlerkvleikuiken bekruip het. Ek weet ook van ’n paartjie wat by ’n ghrend Mosambiekse lodge verban is, nadat hulle by die wittebrood-suite rondgesluip het, nadat iemand ’n Angolese pitta daar gewaar het. Die paartjie wat op wittebrood was, was nie so beïndruk met die mense met die verkykers nie.

5. Ons is nerds, en ook so klein bietjie trots daarop

Voëlkyk is ook nou nie die glansrykste van alle stokperdjies nie. Kyk maar na drankadvertensies, die barometer van begeerlike leefstyle en opwindende stokperdjies. Jy sal nie ’n whiskey-advertensie sien waar ’n groep voëlkykers ’n knertsie duur enkelmout geniet nadat hulle ’n besonderse skaars voël gewaar het nie. Dit is alles bestem vir aktiwiteite soos seiljag, tiersafari’s en selfs kunsvlieghengel. Voëlkykers het ook niks “after action satisfaction” beleef nie toe sigaretadvertensies nog wettig was. Die voëlkyk-gemeenskap is so bietjie soos die jukskeispan op hoërskool. Die kinders wat daaraan deelgeneem het was vreemd en niemand kon regtig die aanloklikheid van die sport verstaan nie.

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *