Jean Paul Sartre was reg toe hy gesê het hel is ander mense. In ekonomiese klas. Vir ’n 10 uur vlug.

crowded-plane

Die prater

Kyk, daar is niks verkeerd om jou buurman -of vrou vriendelik te groet nie. Julle gaan immers die volgende tien ure in mekaar se intieme persoonlike spasie deurbring. Dis as die persoon eers jou begin vertel van sy hele lewensverhaal, kinders se prestasies of issues wat hy met die land het, wat ek na die heuwels toe wil hol. Of ten minste die nooduitgang se deur wil uitlpluk. ’n Paar groot oorfone is gewoonlik genoeg om die meeste mense af te sit, maar dan kry jy die mens wat so dikvellig soos ’n Nyl-krokkodil is. Glimlag maar net so elke nou en dan en knik, terwyl jy jou movie kyk.

Die armleuningboelie

Die vent annekseer dadelik die armleuning met ’n slag wat Napoleon soos ’n vulletjie laat lyk. Gedink om jou arm vir tien ure gemaklik te laat rus? Nee wat, want benewens vir die armlening steel hy ook so bietjie van jou kosbare spasie. Maak maar reg vir ’n elmboog wat so nou en dan jou sy gaan karnuffel. En moenie eers daaraan dink om in ’n stoeiery met die ou betrokke te raak nie, jy gaan sleg tweede kom. Vroue is ook skuldig hieraan, alhoewel hulle meer subtiel is en jou uitoorlê met vlymskerp ninja-elmboë.

Die ‘biohazard’

Dis wanneer ek wens ek het een van daai bio-pakke waarmee dokters hulself bedek as hul met pokke of ebola-pasiente laat werk. Niks laat my moed meer in my skoene sak as ’n hoesende, snuifende petribakkie van kieme langs my sit nie. Dan lyk die Chinese met hul maskertjies ewe skielik nie meer so belaglik nie.

Die skoppende kleuter

Die klein maaifoedie bevind jy agter jou en nie langs jou nie. En vir een of ander rede het hy oorlog op jou stoel verklaar. Die gevolg is ’n ritmiese “boing-boing-boing” wat soortgelyk is aan Chinese watermarteling. Dit help ook nie hier om die ouers se hulp te probeer inroep nie, hulle is tien-teen-een verheug die telg is nie besig om hulle te pla nie. Dis hier waar jy versterkings gaan nodig hê. Roep die lugwaardin, verduidelik jou penarie en laat hulle die ouers van die skoppertjie aanvat. Dis waarvoor hulle betaal word.

Die swak blaas

As ek ’n swak blaas gehad het, sou ek gedink het ’n venstersitplek is taboe. Met vandag se vliegtuie moet die hele ry omtrent ontruim word as iemand wil gaan piepie. Party mense begryp dit nie. Ek moes ’n tien uur vlug van Doha na Johannesburg deurbring met ’n kêrel wat elke uur ’n draai wou loop. Hy’t by die venster gesit, dus was elke uitstappie vir ons soos ’n musical chairs-speletjie. As jou blaas jou pla, sit in die gang.

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *