Split is dikwels die beginpunt vir mense wat Kroasië se Dalmatiese kus wil verken. Het jy net 1 dag om te verken? Carla Lewis-Balden wys vir jou hoe om die beste uit die stad te kry.

7:00 tot 7:30: Ontbyt by die Riva

Begin jou oggend vroeg by een van die talle straatkafeetjies aan die Riva-waterkant met ’n espresso en ’n stukkie burek, ’n tradisionele Kroatiese ontbyt wat bestaan uit skilferkorsdeeg en pikante kaas. Die Riva is in 2007 opgeknap met moderne wit afdakke wat oor die straatkafeetjies opgerig is. Daar is van die beste kuierplekke in Split.

Die Riva is 'n blinkgepoetse waterfront wat uitkyk oor die Adriatiese see.

Die Riva is ‘n blinkgepoetse waterfront wat uitkyk oor die Adriatiese see.

7:30 tot 12:00: Verken die ou stad

Diokletianus se paleis en die Ou Stad Moenie ’n paleis of ou antieke ruïnes in ’n veld verwag nie. Diokletianus se paleis is deel van ’n reeks antieke Romeinse ruïnes wat oorspronklik deel was van ’n somerwoning wat omstreeks 400 v.C. deur die Romeinse keiser Diokletianus gebou is. Deur die eeue heen is daar tussen en bo-op die Romeinse ruïnes gebou, wat Split ’n eklektiese voorkoms van klassieke Romeinse, Gotiese, en Renaissance-argitektuur gee.
Dit is ook een van die min Romeinse ruïnes wat vandag nog bewoon word.

Die beste tyd om die ruïnes en Ou Stad te besigtig is vroeg soggens wanneer die hordes toeriste en groot toergroepe nog nie op die dun stegies toegesak het nie. Teen 12:00 kan die begeleide toere nogal ’n vertrapping wees.

HOOGTEPUNTE

St. Duje se katedraal

Dié katedraal, wat van die oudste ter wêreld is, is oorspronklik as ’n praalgraf vir die keiser Diokletianus gebou en is later in ’n Katolieke kerk verander. Dit is die moeite werd om die honderde trappe van die kerktoring aan te durf. Aan die bokant word jy beloon met ’n pragtige panoramiese uitsig oor Split se rooi dakkies, die nabygeleë eilande en die Adriatiese see.

St Duje se katedraal, 'n Sfinks uit Egipte en die beste uitsig van Split,

St Duje se katedraal, ‘n Sfinks uit Egipte en die beste uitsig van Split,

Peristilium-plein

Dit is die hoofplein binne Diokletianus se paleis en van die bes bewaarde Romeinse argitektuur in dié kompleks. Die restaurant Luxor is reg op die plein geleë en die ideale plek om ’n glasie witwyn te geniet terwyl jy die atmosfeer indrink. Jy sit sommer op die trappies op ‘n lekker kussinkie, terwyl jy al die mense beloer.

Peristilium-plein.

Peristilium-plein.

12:00 tot 14:00: Tyd vir pizza en roomys

Nadat jy in die nou stegies van die paleis en ou stad verdwaal het, kerktorings uitgeklouter en kelders verken het, kan ’n mens nogal ’n  aptyt opwek. Die lekkerste en goedkoopste keuse vir ’n maaltyd in Split is pizza.
Omdat Italië en Kroasië omtrent parallel met mekaar loop, het daar baie kruisbestuiwing tussen dié lande se kos plaasgevind en pasta en pizza sal jy omtrent op enige restaurant se spyskaart vind. Die meeste restaurante bedien outentieke Italiaanse pizza met ’n bros, dun kors. Ná die pizza, koop ’n roomys by een van die talle roomysstalletjies, kry ’n stil hoekie of plein en skep weer ’n bietjie asem.

14:00 tot 17:00: Ontspan by Bacvice-strand

Kroasië is bekend om sy pragtige kuslyn, en selfs in die stedelike Split kan jy ’n rustige strand vind om jou tone in die Adriatiese see af te spoel. Bacvice, ongeveer 1 km van die veerboothawe, is die gewildste strand in dié stad, met turkoois waters en talle restaurante en dansplekke wat om die strand versprei is. Die stap soontoe (ongeveer 45 minute vanaf die veerboothawe teen ’n gemaklike pas) is self ’n ervaring. Jy loop verby die hawe en verkyk jouself aan die seiljagte van die superrykes (party kom selfs met ’n helikopterdek) en kronkel dan verby strandmere en dennewoude.
Die argitektuur herinner ’n mens plek-plek nog aan die dae toe Kroasië deel was van Joego-Slawië, so moenie ’n blinkgepoetsde, glansryke strandoord verwag nie. Maar die water is skoon, die strand en mense mooi en die bier bekostigbaar. So wie kla?

Bacvice-strand is loopafstand van die Riva en 'n heerlike strand om uit te span tydens die somermaande.

Bacvice-strand is loopafstand van die Riva en ‘n heerlike strand om uit te span tydens die somermaande.

18:00 tot 21:00: Skemerkelkies op die Riva-promenade

Die Riva-promenade is dié plek om te wees in die laat ure van die middag en met sonsondergang.
Die beste plek om jou tuis te maak tot voor sononder (in die somer is dit omstreeks 21:00) is op die St. Rita-kroeg se balkon wat oor die Riva uitkyk. Hier kan jy oor rooi malvas vir almal loer, terwyl Frank Sinatra se My Way oor die luidsprekers speel.

In die aand is Split 'n pragtige stad

In die aand is Split ‘n pragtige stad.

21:00 en later: Verken die naglewe

Split se naglewe kom omtrent ná 22:00 eers op dreef, wanneer die son sy laaste strale oor die Adriatiese see gewerp het. Aandete by die Bistro Tock, wat ’n verskeidenheid van internasionale geregte voorsit, is ’n goeie keuse as jy eers genoeg gehad het van seekos en pizza. Die restaurant is naby die veerboothawe, reg agter die bushalte.
Diokletianus se paleis verander saans in ’n sprokieswêreld met geheimsinnige, donker stegies wat uitloop op verligte pleine, kerke, ou Romeinse pilare en katedrale.

Dít moet jy weet:
Split is ’n loopstad, met motors wat in die Ou Stad en op die Riva verban is. Die busterminus, hawe, strande en toeriste-aantreklikhede is almal baie naby aan mekaar geleë.

Hotelle wat op die Riva en naby die Peri­sti­lium-plein geleë is, is die duurder, maar ’n beter keuse as dit by verblyf kom. Baie plaaslike inwoners huur ook hul woonstelle tydens die somer uit, wat ’n goedkoper keuse is. Kyk uit op AirBnB vir winskopies

Die beste tyd om te gaan is Mei en Junie in die lente omdat dit reeds warm is, maar Europese skole het nog nie gesluit vir hul somervakansies nie. Laatsomer (September) is ook nog warm genoeg vir swem, maar die skares is weer terug by die huis en op die skoolbanke.

’n Cappuccino kos tussen 10 en 15 kuna, ’n plaaslike bier tussen 15 en 30 kuna en ’n pizza tussen 30 en 50 kuna, na gelang van waar die restaurant geleë is.

Ons het van Johannesburg via Frankfurt met die Lufthansa-lugredery na Split gevlieg. Besoek www.lufthansa.com/za vir meer inligting.

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *