Samba saam voor die Sokker-Wêreldbeker, drink ’n cappuccino in die wêreld se nie-amptelike hipste koffiekroeg en verdwaal in interessante nagmarkte. Party van die stede is ou bekendes, ander was lelike eendjies wat onlangs opgetower is in verleidelike swane.  Yolandi Groenewald kyk na die 15 wêreldstede wat jy vanjaar by jou reisplan moet insluit

 

1. Kaapstad, Suid Afrika

Gedink Kaapstad is net kabelkarretjie ry en wyn drink? Terwyl beide aktiwiteite ure se pret kan verskaf, het Kaapstad se kultuur, geskiedenis en natuurlik lieflike strande almal in vervoering.

Kaapstad is skielik op elke buitelander se moet-sien lysie vir 2014. Groot kokkedoor koerante soos The New York Times en Brittanje se The Guardian het Kaapstad gelys as hulle nommer een bestemming vir 2014. Koskritici vlieg in troppe na die Moederstad om die “goedkoop” top restaurante te krit.  Daar is deesdae ’n modieuse koffiekroeg met ‘n hipster barista om elke hoek en draai van die stad, maar dit is De Waterkant se Truth wat koffie-aficionados van heinde en verre trek. Kom vind uit hoekom voor die buitelanders dit oorneem.

Tafelberg, gesien vanaf Bloubergstrand.

Tafelberg, gesien vanaf Bloubergstrand.

 

2. Brussels, België

Vanjaar is die 100-jaar herdenking van die Eerste Wêreldoorlog en Brussels gaan ’n groot middelpunt van die vieringe wees. Benewens vir die geskiedenis en kultuur waarvoor die Europese politieke hoofstad bekend is, is daar natuurlik baie bier en sjokolade om jouself aan te vergryp. Jy kan omtrent jouself nie draai nie, of jy stamp jou toon teen ’n sjokoladewinkel of kroeg. Natuurlik is daar ook bier- of sjokoladetoere met ‘n tema vir elke dag van die week

Die stad het ook ’n opwindende expat-kultuur met immigrante van regoor die wêreld. Maak ’n draai by die Matonge-kwartier waar al die Kongolese en hipster-Belge uithang, of gaan eet ’n tagine by die Noord-Afrika-kwartier.

Die Grand Place de Bruxelles word elke tweede jaar in 'n blommeskouspel omgetower.

Die Grand Place de Bruxelles word elke tweede jaar in ‘n blommeskouspel omgetower.

 

3. Rio de Janeiro, Brasilië

Rio is sexy en verleidelik. Slaan maar enige Suid-Amerikaanse gidsboek oop en jy staar vas in die Sugarloaf-berg, of die bekende bates van die Ipanema-strand wat skaars deur ’n tanga bedek word. Dan praat ons nie eers van die Jesus-beeld, Carnaval of die churrascarias waar jy jou aan hompe vleis kan vergryp nie. Die kos is fantasties en die mense mooi.

Die Sokker-Wêreldbeker is om die draai en Rio is die gasheer. Verwag ‘n nuwe, anderster karnaval vir die toernooi. Vanjaar hou Rio die moeder van alle partytjies. Die opknappings wat gedoen word as deel van die Wêreldbeker het die stad nog meer toeristevriendelik as tevore gemaak met splinternuwe hotelle en beter lughawens. Daardie hotelkamers gaan gevul moet word na die Wêreldbeker (onthou julle Suid Afrika na 2010?), kyk dus uit vir spotgoedkoop pakkette na die toernooi om die toerismemonster te voed wat die toernooi gebaar het.

1024px-1_ipanema_beach_vidigal_sunset

Sugarloaf-berg, gesien van Rio se bekende Ipanema-strand.

 

4. Boedapest, Hongarye

Boedapest is relatief goedkoop en sy Oos-Europese sjarme is nog bekostigbaar vir Suid Afrikaners. Jy kry ongeveer 20 Hongaarse forinte vir ’n rand. As jy dus droom van ‘n Europese vakansie, maar die Euro jou moed in jou skoene laat sak, beloof Budapest waarde vir geld.

Die stad se Gotiese atmosfeer maak dit ‘n moet vir paartjies wat opsoek is na ’n kulturele wittebrood. ’n Skemerkelkievaart op die Danube rivier is ’n verpligte aktiwiteit. Argitektonies is Budapest ook ’n skatkis, met sy barok, neo-klassieke, eklektiese en Art Nouveau-geboue. Die stad is ook propvol geskiedenis, met verhale oor die Wêreldoorloë, stories oor spioenasie tydens die Koue Oorlog en die einde van kommunisme. Eet goelash, die nasionale gereg en probeer pálinka, ’n vrugagtige brandewyn en Hongarye se nasionale drankie.

As jy nie skrik vir die koue nie, kom gerus in die winter, wanneer die stad sy sneeuwit baadjie aantrek en die strate gevul is met Kersmarkte.

Budai_vár

Budapest bied vir Suid-Afrikaners nog waarde vir geld. Hier kry jy ongeveer 20 forinte vir R1.

 

5. Kigali, Rwanda

Dink jy nog aan Rwanda as ’n agterlike Afrikaland waar daar ’n volksmoord gepleeg is. In April vanjaar het daardie volksmoord 20 jaar terug plaasgevind en Rwanda is ’n ander land. Amper 98% van Rwandese burgers het Wifi. Die strate van Kigali is silwerskoon, die wat al daar was beskryf dit as “Die Switserland van Afrika.”

Hoe op aarde kry Rwanda dit reg? Die berugte president Paul Kagame het baie daarmee te doen. Onder Kagame bly Rwandese in behoorlike huise en die stad is behoorlik skoongemaak, maar hy het ook al baie kritiek vir menseregteskendings gekry.

Maar vandag se Kigali is inderdaad mooi. Die klein stad strek oor plase, valleie en koppies. Kigali is ook ’n goeie plek om jou te baseer om die gorillas te besigtig of om die strande van Lake Kivu te besoek.

'n Groep kinders swem in 'n plaasdam net buite Kigali, Rwanda.

‘n Groep kinders swem in ‘n rivier net buite Kigali, Rwanda.

 

6. Havana, Kuba

Kuba is besig om te verander. Oor tien jaar sal Fidel Castro se Kuba nie meer bestaan nie. As jy dus Havana met sy ou motors en revolusionêre sjarme wil ervaar, beter jy ’n plan maak.

Havana is tropies, eksoties, arm en vasgevang in ’n ander era, Die geboue en huise verkrummel, maar is onvergelykbaar in hulle skoonheid.  Jy drink rum, swem in die die warm Karibiese see en verbeel jouself jy is Ernest Hemingway of een of ander skrywer wat die hedonisme van die stad kan oorvertel. Rook ’n vet Kubaan, al is jy ’n rook-Nazi by die huis. Wees egter gewaarsku: Kuba is duur en dis nog duurder om daar uit te kom.

Besoek die ou gedeelte van Havana. Dis hier waar jy die klassieke motors en pragtige argitektuur gaan vind.

Besoek die ou gedeelte van Havana. Dis hier waar jy die klassieke motors en pragtige argitektuur gaan vind.

 

7. Dubrovnik, Kroasië

Talle mense meen Kroasië is die arm man se Italië, maar om die twee lande te vergelyk is heiligskennis. Kroasië is pragtig, net so mooi soos haar meer gewilde, glansryke suster aan die ander kant van die Adriatiese see.

Dubrovnik se marmerstrate skitter, die barok-geboue is visueel inspirerend en rooi terrakotta dakke en die chloorblou Adriatiese see blink in die agtergrond. Die strate en keisteenstegies het verskuilde skatte en bevat verhale van ’n stad wat ‘n kwarteeu gelede terug gebom is.

Bestee ’n middag by een van rotsstrande en drink ’n glas krk. Die witwyn-kultivar proe heel verdag, maar met die pragtige uitsigte sal dit na die derde glas soos ’n wen-oesjaar proe. Delf in die stad se museums, of gaan ontspan by een van die stad se kroeë.

Wanneer jy om Dubrovnik se ou stadsmure loop, sien jy pragtige uitsigte soos dié.

Wanneer jy om Dubrovnik se ou stadsmure loop, sien jy pragtige uitsigte soos dié.

 

 8. Addis Ababa, Ethiopië

As jy van kuns, koffie en kultuur hou, koop nou jou vliegtuigkaartjie na Addis Ababa. Deesdae is dié stad een van die moet-sien plekke in Afrika.

Addis het een van die interessantste kulturele agtergronde in Afrika en as jy enigsins in die Rastafariër-kultuur belangstel sal jy mal oor Addis wees. Die Ethiopiese keiser Haile Selassie word as ’n Afrika-messias in die Rastafariër-gemeenskap gesien. Omtrent 240 km van Addis is daar ook die Shashemene, wat deur Jamaikaanse rastas begin is. Bob Marley het ook hier ’n tydjie verwyl.  Die Ethiopiese Nasionale Museum word hoog aangeskryf en dis hier waar jy vir Lucy, een van die oudste hominiede fossiele in die wêreld kan sien.

'n Smous van Addis Ababa.

‘n Smous van Addis Ababa.

 

9. Swakopmund, Namibië

Swakopmund is soos ’n Duitsland in die kleine by die see, net beter. Die woestynwildernis rondom die dorp maak dit ’n mekka vir avontuurlustiges wat wil duinplank ry, op four-wheelers rondkerjakker of van die hoogste duine in die wêreld wil uitklouter. Die dorp se promenades, half verslete houthuise en Duitse koloniale geboue herinner ’n mens aan Duitsland se eie dorpies aan die kus.

Dit is ook die plek om Duitse spesialiteite te beproef. Verlustig jouself aan ’n meneer van ’n bockwurst, schnitzel en sauerkraut by een van die brauhauses. Dink ’n yskoue Windhoek. Daar is ook talle daguitstappies wat jy vanaf die dorp kan doen. Gaan verken die Spitzkoppe of beleef die spookagtige Maanlandskap net buite die dorp.

Swakopmund lyk soos 'n Duitsland in die kleine by die see.

Swakopmund lyk soos ‘n Duitsland in die kleine by die see.

 

10. Siem Reap, Kambodja

Onthou jy die fliek Tomb Raider waar Angelina Jolie tussen tempels in oerwoude rondgehol het? Dit was nie ’n rolprentstel nie, dis die Angkor-tempels. Die dorpie Siem Reap is jou basis wanneer jy die tempels verken.

’n Mens snak letterlik na jou asem die eerste keer as jy die Grootpappa van die tempels, Angkor Wat aanskou. Dis ‘n heilige oomblik wat gevolg word deur nog honderde “my liewe genade”-oomblikke. Kyk hoe monikke in saffraanjurke mediteer teen die agtergrond van eeu-oue tempels, vergaap jouself aan vyebome wat hulself tussen die ruïnes vervleg en eet jouself trommeldik aan die fantastiese Indo-Chinese kos.

Wat die bestemming nog meer opwindend maak, is ’n reeks nuwe tempels wat verlede jaar in Kambodja se ruig oerwoude ontdek is. Boonop is dit ’n redelike goedkoop bestemming wat jy met ander Suid-Oos Asiatiese bestemmings kan kombineer.

Angkor Wat met sonopkoms.

Angkor Wat met sonopkoms.

 

11. Glasgow, Skotland

As jy gedink het Glasgow is die lelike suster van die die meer verfynde Edinburgh en gevul met rowwe Skotte met rowwer aksente en haggis-asems, dink weer.

Daar word voorspel dat 2014 die jaar van Glasgow gaan wees. Die stad is ook die gasheer van  die Statebond Spele vir 2014. Deesdae is Skotland se grootste stad belaai met museums en nuwe geboue teen die agtergrond van die Skotse hooglande.

Stappers en bergfietsryers is ook opgewonde oor die nuwe John Muir Way, ‘n roete wat in Glasgow begin en die beste van Skotland se natuurskoon teen die kus af bied. Die roete strek oor amper 200 km van Skotse plase en woude en neem omtrent 12 dae per voet en ses dae per fiets om te voltooi.

Glasgow is glad nie meer die onverfynde suster van Edinburg nie, in 2014 gaan sy behoorlik skitter.

Glasgow is glad nie meer die onverfynde suster van Edinburgh nie, in 2014 gaan sy behoorlik skitter.

 

12.  Krabi, Thailand

Meeste Suid Afrikaners ken Phuket redelik goed. Phuket is die nuwe Durban – as jy dit eers ontdek het gaan jy jaar na jaar terug om te ontspan op die wit strande vir ten minste ‘n week, vir die prys van ‘n luukse strandhuis in Suid Afrika.

Maar Phuket is lankal nie meer ‘n geheim nie en elke Jan Rap en sy maat loop deesdae in Bangla Road met ’n Singha-bier-frokkie rond. Net om die hoek is die pragtige Krabi, met reuse kalksteenberge wat uit die see reis. Die strande is net so mooi soos in Phuket, maar dinge is bietjie meer bedees hier. Partytjiediere sal miskien nie vir Krabi so waardeer nie, maar as jy op soek is na ‘n vakansie belaai met son, see en eksotiese kos, kan jy nie verkeerd gaan met Krabi nie.

800px-Poda_island_beach

Langstertbote wag op Krabi se strande om reisigers weg te voer na eilande in die omgewing.

 

13.  Luang Prabang, Laos

Wat kry jy as jy Franse sjarme met die eksotiese Ooste kruis? Luang Prabang, ‘n rustige Wêrelderfenisstad is geleë op die oewers van die Mekong Rivier en hier gebeur dinge teen ’n pas van hul eie. Luang Prabang was eers ‘n Franse kolonie, maar toe die Franse uitgeskop is, het hul invloed op die kookkuns darem behoue gebly. Orals wandel monikke in helder oranje jurke tussen die Indo-Chinese argitektuur rond. Die reuk van koffie en croissants hang in die lug. Die liggies van die nagmark betower ieder en elk.

Buite die stad is die Kuang Si-watervalle, een van die mooiste watervalle en swempoele wat jy in jou lewe sal aanskou. Vat jou swembroek saam want jy sal in die turkooisblou poele wil rondplas.

Monnike in saffraanjurke is 'n algemene verskynsel in Luang Prabang.

Monnike in saffraanjurke is ‘n algemene verskynsel in Luang Prabang.

 

14.  Bordeaux Frankryk

Suid Afrikaners mag meer bekend wees met die Bordeaux-wynversnit, as die gelyknamige Franse stad. As jy eenkeer die stad besoek het, sal jy weer en weer wil terug gaan.

Hier maak wyn en kos ‘n groot deel van jou vakansie uit. Jy gaan ’n paar keer verdwaal in die eeu-oue keisteenstegies na ‘n paar glase Château du Clos de la Madeleine. Maar dit gaan onvergeetlik wees en jy gaan dit weer wil doen. Twintig jaar gelede was Bordeax nog bekend as die La Belle au Bois Dormant, of die Slapende Skone.

Die afgelope twee dekades is die stad behoorlik afgestof en mooi gemaak. In 2007 het UNESCO Bordeux ’n Wêrelderfenisgebied verklaar, wat dit amptelik die grootste stedelike erfenisgebied op aarde maak. Omtrent 2,5 miljoen toeriste besoek jaarliks die Franse stad om die argitektuur te besigtig, goeie Franse cuisine te eet en van die beste rooiwyn in die wêreld te drink. Jy hoef ook nie hier te drink en bestuur nie; splinternuwe trams vervoer euforiese wyndrinkers na ’n groot verskeidenheid wynkroeë in die stad.

Wat kan beter wees om Bourdeaux in Bourdeaux te drink? Die stad is beslis 'n besoek werd wanneer jy deur Frankryk reis.

Wat kan beter wees om Bourdeaux in Bourdeaux te drink? Die stad is beslis ‘n besoek werd wanneer jy deur Frankryk reis.

 

 15. Christchurch, Nieu-Seeland

Het jy skoon bewoë geraak van die natuurskoon van Lord of the Rings en The Hobbit?  Of jy droom jy maar net om die Bulle teen die ou vyand, die Crusaders te sien speel? Christchurch is definitief ‘n pelgrimstog werd, of jy nou ’n rugbyaanhanger of fliekflooi is.

Christchurch is drie jaar terug deur ’n massiewe aardbewing getref, maar die Nieu-Seelanders het nie net die stad herbou na die groot ramp nie, maar dit ook omskep in ‘n toerisme-mekka. Baie van die geboue word nog herstel, maar die argitektuur van die stad is van die nuutste en beste ter wêreld. Die stad se 19de eeuse katedraal wat verwoes is in die aardbewing, word herbou uit kartonpype.

Gewilde straatkafees word ook herbou uit gemors en skrootmetaal en dit lyk fantasties. Een van die gewildste kroeë, Revival is gebou uit skeepshouers. Die stad is gevul met interessante eetplekke wat Nieu Zeeland se veel geroemde witwyne teen uitstekende pryse smous. Soos elders in vooruitstrewende wêreldstede is kunsbier ook van hoogstaande gehalte in Christchurch.

Na 'n aardbewing in 2011 vir Christchurch in puin gelê het, het die stad weer herrys en lyk sy beter as ooit.

Na ‘n aardbewing in 2011 vir Christchurch in puin gelê het, het die stad weer herrys en lyk sy beter as ooit.


Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *

One thought on “15 top wêreldstede vir 2014

  • Reply
    Ansie

    Nog net 3. Dis tragies! Hulle is almal op my om te sien lys. Ek was al in Kaapstad, Swakopmund en Addis Abeba (net ‘n stop-over). Ek het Kigali net gemis – ons het in Kampala gebly in 2002-2004. Ek was al in Thailand, maar nie in Krabi nie. Sjoe! Nou’s ek lus vir tasse pak.