Die Euro is besig om vir die Rand bloedneus te slaan en die wisselkoers kan ‘n mens soms bietjie naar laat voel. Daarom moet jy elke sent omdraai om die meeste waarde vir jou geld te kry. Ek het só geld gespaar met die #ReismierAvontuur.

CarlaReismier

1. Kry vir jou ’n stadspas

Meeste groot Europese stede het ’n twee -of driedagpas wat jy kan koop teen ’n afslagprys. In Rome het ons die Roma Pass gekoop wat vir ons toegang gegee het tot twee besienswaardighede, afslag by uitgesoekte museums en toegang tot alle publieke vervoer vir drie dae. Die Roma-pas het vir ons €36 per kop uit die sak gejaag, maar ons het veel meer oor die langtermyn gespaar.

2. Moenie jou buskaartjies op die laaste nippertjie koop nie.

Vir een of ander rede raak Italiaanse buskaartjies duurder, hoe nader jy aan die vertrekdatum kom. Ek het die pryse van ons buskaartjies op die internet gekry en gedink ek gaan hulle sommer by ’n stasie daar koop. ’n Dag voor die vertrek was hulle €5 duurder as wat hul ’n week gelede was.

3. Drink die kraanwater 

Italië is ’n Eerstewêreldland en daar is niks fout met hul kraanwater nie. As jy elke dag twee botteltjies water koop teen ongeveer €1.50 elk, is dit €30 aan die einde van jou vakansie. Dis meer as R400! Dink net aan al die roomys wat jy kon gekoop het. In Rome is daar oral fonteine met vars water wat uitborrel. Pak jou waterbottel in en spaar daardie Euro’s.

4. Kry vir jou selfsorgverblyf

Al ons verblyf was selfsorg, met kombuise wat uitstekend toegerus was. ’n Ete vir ses mense wat jy by die huis maak, kos omtrent ’n kwart van wat jy in die restaurant sal betaal. Italiaanse supermarkte is ’n belewenis met al hul vars produkte en jy wil liries raak oor hul tamaties, kaas en pasta. Boonop is dit amper goedkoper as terug by die huis, as jy na die gehalte van die produkte kyk. ’n Lekker bottel chianti-rooiwyn sal jou so €5 kos, ’n winskopie as jy vat dat ’n glas wyn in ’n restaurant tussen €2.50 en €4 kos.

5. Hou piekniek

Rome en Siena is vol pragtige tuine wat net smeek vir ’n blokkieskombers en ’n mandjie vol lekkernye. Bring sommer ook ’n bottel Italiaanse vonkelwyn, (prosecco), die Italianers is heel ontspanne oor drink in die publiek. As jy die Romeinse Forum besoek, is daar ou antieke tuine op die Palantynse heuwel waar jy kan piekniek hou. Die Borghese-tuine is ook die ideale plek om uit te span. As jy nie seker is of jy wel mag piekniek hou nie, gooi in elkgeval jou kombers uit en wag tot iemand jou kom wegjaag. Dis makliker om verskoning te vra as vir toestemming.

6. Kies jou reistye versigtig

Italië en die res van Europa is aansienlik goedkoper in die winter, maar baie restaurante en winkels in die platteland maak toe. Bly in Julie en Augustus weg, wanneer dit die Noordelike Halfrond se somervakansie is. Pryse is peperduur en die groot stede word ’n vertrapping. My gunsteling-tye om Europa te besoek is of in die laat-lente (Mei tot vroeg Junie) of die vroeë herfs in September, wanneer jy nog kan swem in die Mediterreense see.

7. Bly naby die aksie

Jy gaan wel duurder betaal vir ’n hotel of woonstel wat naby die middestad of ’n groot toeristeaantreklikheid is, maar op die langtermyn gaan jy geld spaar. Onthou, die verblyf op die rand van die dorp lyk miskien goedkoper, maar dan moet jy die hele tyd busse en taxi’s vang om by die aksie uit te kom. Soek vir verblyf binne loopafstand of reg in die middel van die dorp. Dis boonop lekkerder en die atmosfeer is ook beter.

8. Soek die gratis toeristeaantrekkings

Alles wat mooi is, kos nie noodwendig geld nie. Ek het €8 opgedok om die Capuchin grafte in Rome te sien, wat ’n groot teleurstelling was. Aan die ander kant was ek die meeste beïndruk met die Kerk van St Ignatius Loyola, wat se dakfresco’s amper meer indrukwekkend was as dié in die Sistynse kapel. Dis ook nie so besig nie, omdat min mense van dié kerk weet. Rome se groot trekpleisters soos die Piazza Navona, die Panthenon en die Trevi-fontein is alles ook gratis.

9. Reis in ’n groep

Ons was ’n groep van ses, wat ons kostes aansienlik afgebring het. Dink so daaraan, om ’n taxi te vang vir vier mense is baie goedkoper as net vir twee. Jy kan ook pragtige woonstelle en huise huur wat 4-6 mense slaap, wat jou baie goedkoper gaan uitwerk as ’n hotelkamer vir twee.

10. Eet waar die plaaslike inwoners eet

Restaurante en kroeë wat op die Piazza Navona in Rome, die Piazza del Campo in Siena and St Markus-plein in Venesië geleë is, betaal astronomiese huur. Hulle moet dus daarvoor opmaak in hul pryse en toeriste is gewoonlik bereid om baie duur vir substandaard kos te betaal. Die Italianers is vol fiemies oor hul kos, vra vir die tannie by jou gastehuis of woonstel waar hulle die beste pizza of pasta kry. Die kos sal lekkerder wees, die rekening minder, en jy sal nog geld oorhê vir roomys.


Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *

10 thoughts on “10 maniere om jou Euro’s te rek

  • Reply
    Gerda Smit

    Ons groepie van 4 het in Parys en Rome gebruik gemaak van airbnb en ook in Brugge. Die apartments was baie sentraal gelee en skoon. Ek het die verblyf onder R500/person per dag gehou. In Rome was Alessandro van Flat in Navona baie lekker. Dit is loop afstand van St Peter’s en ook many Piazza Navona, Spanish Steps en Trevi. Die Trevi is onder konstruksie op oomblik. So ons het baie op openbare vervoer gespaar. Did net vir Galleria Borghese en Colloseum nodig gewees. Ons het Pronutro en Oros en Amila koeldrankpoeier saam gevat en net yoghurt en melk by die supermarkte gekoop. Selfs broodrolletjies en kase en koue vleise is lekker by supermarkte. Ek het 16 euro vir lekker merlot van Toskane by restaurant betaal, so die supermarkte is heelwat goedkoper.

    • Reply
      Die Reismier Post author

      Die Trevi en dele van die Colosseum was ook besig om gerestoureer te word tydens ons besoek. Dit was so bietjie van ‘n teleurstelling, maar wat kan jy doen? Jou wenke is in die kol, en die Italiaanse jogurt is heerlik!

  • Reply
    Andre Pansegrouw

    Dankie, jou inset op RSG gehoor vanoggend. Fantasties! Ek en my vrou gaan na Nederland in Oktober. Enige raad.

    • Reply
      Die Reismier Post author

      Andre, Nederland is werklik ‘n wonderlike land! Ek was nog net in Amsterdam en Haarlem, maar het my hart op beide verloor. Koop vir jou ‘n iAmsterdam City Card, dit gee jou toegang tot ‘n verskeidenheid museums, besienswaardighede, ‘n bootrit op die kanale en toegang tot al hul publieke vervoer. Airbnb is ook in Amsterdam en jy sal lekker verblyf daar kan vind, kyk of jy nie sommer iets op ‘n rivierboot kan kry nie!
      Ons het fietse in Haarlem gehuur en al die pad afgery na die see toe, jy ry deur woude en verby pragtige duine. Die mense daar ry ook nie so wild soos in Amsterdam nie! Laastens, eet poffertjies, dis seker een van die lekkerste dinge wat ek al oor my lippe gehad het.
      Groete!

    • Reply
      Annali

      Andre, julle gaan Nederland baie geniet. Ons het al 3 keer daar gekuier en wil steeds teruggaan. Die eerste 2 keer het ons in Amsterdam gebly en die 3de keer in n klein plekkie net buite Amsterdam met die naam van Broek in Waterland. Net n paar minute met die bus uit Amsterdam en dis soos platteland. Pragtige plekkie met baie gawe mense. Middae laat het ons met wandelpaadjies deur die plase tussen die skape gaan stap! Ook maklik om van daar per bus na Volendam en Marken te gaan.